Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Virus vernietig leef-werk-balans
Johanna van Eeden

Dit was nog altyd een van die moeilikste besluite wat ’n vrou moet neem: Gaan werk jy, of bly jy by die huis en maak die kinders groot?

Daar is nie ’n regte of ’n verkeerde antwoord nie. Dis ’n uiters persoonlike keuse. Die sleutelwoord is keuse – of jy as vrou die ruimte en vryheid het om ’n beroep te kies. Of om te kan kies om heeltyds ma te wees.

Faktore soos druk uit die gemeenskap (en van jou uitgebreide familie) en die opweeg van jou man se ambisie teenoor joune (syne weeg mos tradisioneel swaarder) kan jou aanvanklike besluit om ’n loopbaan te bou beïnvloed.

Maar as julle eers kinders het, lyk alles skielik anders.

Want die verwagting is dat má moet sorg vir die kinders.

Dié bykomende druk op nuwe ma’s is waarom talle van hulle ná hul kraamverlof besluit om ’n nuwe werkgeleentheid of interne skuif na ’n minder uitdagende pos te aanvaar.

“Pienk werk” word dit genoem. Minder veeleisende werk met verkieslik fleksietyd sodat jy iewers in die geskarrel kan probeer om daardie magiese balans tussen leef (kinders) en werk te bereik. En toe breek daar ’n virussiekte van pandemiese omvang in die wêreld uit . . .

Covid-19, waarsku kenners, kan uiteindelik al die harde werk uitwis wat oor die jare gedoen is om vir vroue ’n gelyke staanplek in die werkplek te verseker.

Skielik werk almal wat kan van die huis af. En skole word gesluit. En as julle gelukkig genoeg is om ’n huiswerker te hê, moet dié weens die inperking vir weke wegbly . . .

So, wie kyk na die kinders en help dat hulle bybly met hul skoolwerk? Wie maak die kos? Wie maak die huis skoon? Wie was die wasgoed? Wie stryk?

As jy een van die (min) gelukkige vroue is, word hierdie verantwoordelikhede tussen jou en jou man verdeel.

Een van die letsels wat Covid-19 op die wêreld gaan laat, is dat ’n hele generasie vroue se loopbane tot stilstand gestoomroller is.

Die koronavirus is nou reeds so lank met ons dat universiteite die uitwerking daarvan in hul navorsingsuitsette kan begin sien. Mans het voortgegaan met navorsing en die skryf van akademiese artikels. Vroue-akademici se uitsette het sedert die aanbreek van die pandemie afgeneem.

Want mans werk van die huis af, terwyl vroue in die huis werk . . . en dalk dan nog by ’n werk ook kan uitkom.

Weens die sluiting van skole – nie net hier ter plaatse nie, maar ook elders in die wêreld – is daar selfs vroue wat noodgedwonge moes ophou werk omdat hul kinders se versorging te midde van ’n pandemie eenvoudig te veel tyd vereis.

Covid-19, waarsku kenners, kan uiteindelik al die harde werk uitwis wat oor die jare gedoen is om vir vroue ’n gelyke staanplek in die werkplek te verseker.

Want waar ’n vrou met kraamverlof ten minste verseker daarvan was dat daar ’n spesifieke datum is wanneer sy gaan terugkeer werk toe – en dit kon bestuur – het Covid-19 almal se loopbane onbepaald onderbreek.

Sou so ’n vrou wel eendag terugkeer werk toe, sal dit onwaarskynlik wees dat sy op gelyke voet sal kan meeding met haar manlike kollegas wat voor die pandemie haar eweknieë was.

Haar manlike kollegas het intussen voortgegaan met hul loopbane, opleiding gekry, kans gehad om by te bly met die nuutste verwikkelings in hul veld en hul posisies in die werkplek verstewig.

Die heilige graal van ’n leef-werk­balans is in 2020 finaal deur ’n virus vernietig.

En daarmee saam is net meer as 50% van die wêreld se arbeidsmark ’n knou toegedien. Is dit wat bedoel word met “die nuwe normaal”?

  • Van Eeden is adjunkredakteur van Beeld.
Meer oor:  Johanna Van Eeden  |  Werkplek  |  Vroueregte  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.