Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Virusbewind’ trek ál die gehokte papegaai se vere uit

Ingeperkte mense is soos ingehokte papegaaie – verveelde tronkvoëls met uitgeplukte vere, skryf Rhynie Greeff.

In tye wat nie normaal is nie, kan standbeelde soos dié een in Melbourne, Australië, seker ook maskers dra? Foto: Getty Images

Noem my maar ’n “Covidioot”. Ek wil my sommer van sosiale distansiëring distansieer.

Kyk, onder Covid-19 steun ek verpligte maskers en afstande tussen mense maar sosiale distansiëring klink soos ’n wetlike opdrag om onsosiaal te wees. Meer korrek moes dit eerder fisieke distansiëring wees wat betekenisvolle sosiale kontak sou kon insluit.

Die mens is nie ’n alleenloper nie. Ons floreer op sosiale interafhanklikheid. Daarsonder ly jy aan eensaamheid en stres. Dis wat vanjaar gebeur. Ons is baie soos ingehokte diere. Eensaam. Verveeld. Angsbevange. Kwaad.

Soögose

Allleen in ’n groot stad. ’n Man stap in ’n verlate Sydney, Australië. Foto: Reuters

’n Wilde dier in hok lewe abnormaal met obsessiewe, herhalende, stereotipiese gedrag – soögose (zoochosis). Dit is ’n begrip wat van die Born Free-stigting kom. Soögotiese diere is soos psigotiese mense wanneer emosies en gedagtes só wanordelik raak dat jy kontak met die werklikheid verloor.

Soögotiese diere stap herhaaldelik heen en weer teen die tralies, sirkelstap binne ’n hok, byt aan die tralies en die mure en doen uitermatige selfversorging wat in selfbesering ontaard. Hulle herkou aan niks en raak buite hul normale gedrag geniepsig teenoor ander diere. Sekeres, soos moordvisse (Orcinus orca) in ’n tenk in Orlando, wat nooit ’n mens in die natuur sal jag nie, sal hul truukafrigters doodmaak.

Volgens die Born Free-stigting stap gevange leeus 48% van hul tyd in die hok heen en weer terwyl wilde leeus rustig 20 uur per dag slaap.

Ingehokte diere lewe in die eentonige depressie van ’n welvaartstaat, waarin opsigters (regeerders) hulle met kos voer. ’n Ingeperkte olifant, primaat of leeu het nie die lewensvariëteit om self kos sosiaal met ander te soek nie. Drie mure en tralies is ’n tragiese ekologie.

Daaglikse afsplitsing en samesmelting

In ons normale ekologie is mense baie soos wilde diere. Ons doen elke dag in groepe sosiale afsplitsing en samesmelting.

Soos rooibokke en leeus word ons soggens wakker en verkeer dan sosiaal met een of meer individue in die familie. Dan sal volwassenes sosiaal na werkgroepe en kinders na skoolgroepe wegbreek. Dis soos diere wat uitbeweeg en saam gaan jag of uintjies soek. Middagete sal die mens afsplits en met ’n ander groep kombineer terwyl diere skadugroepe onder bome sal vorm.

Wêreldwyd het Covid-19-regulasie egter vanjaar mense se sosiale interafhanklikheid verlam.

Later sal mense en diere weer wegbreek en saamsmelt met ’n verdere groep en nagwaarts na enkeles afsplinter. So verkeer ons sosiaal met familie, vriende, kollegas, kerk- of sportgroepe. Sosiale interaksie skep optimisme, hoop en kreatiwiteit.

Wêreldwyd het Covid-19-regulasie egter vanjaar mense se sosiale interafhanklikheid verlam – in baie lande met empatie, in lande soos Libanon en Suid-Afrika anders.

Politieke veerplukkers

Vasgekeer. Sibongile Zulu in haar blyplek in Johannesburg. Sy is MIV-positief, maar weens die Covid-19-pandemie kan sy nie meer op die gereelde verskaffing van antiretrovirale medisyne staatmaak nie. Foto: AP

Suid-Afrika se oordrewe Covid-19-bevelsraad verbaas my.

Dit bestaan uit individue wat natuurlik ook self soos diere ingehok is, maar terselfdertyd openlik vermom as ons hokopsigters staan.

Hulle beheer ons nie net fisiek nie maar ook sosiaal. En, soos sekere wilde diere, lyk hulle soms geniepsig.

Ek dink sekere bevelsraadslede probeer nogal hul bes (soos in medies en onderwys byvoorbeeld), maar ander is so irrasioneel dat dit vir my lyk asof sosiale distansiëring as die uitwissing van sosiale interaksie geïnterpreteer word.

Sekere hokopsigters jaag ons depressiewe ingeperktes kort-kort wispelturig herwaarts en derwaarts met onbenullige sweepklappe sonder sosiale, sake- of ekonomiese insig. So word die wyn- en gasvryheidsbedryf eenogig nek omgedraai.

Dankie dat so baie werkplekke en ontspanningsplekke vernietig is.

Nou blyk dit dat sekere vriende en familie van ons hokregeerders noodprodukte uit kwarantynhokkies steel. Geniepsig. As die Suid-Afrikaanse ekonomie ’n papegaai was, is die korrupte beheerders diegene wat die papegaai se vere pluk totdat hy kaal is.

Gelukkig het ons opsigters darem nou ’n boodskap: Hei, traliemense, wees rustig. Ons merk die langvinger-tipe-probleempies op. Ons sal onsself ondersoek en ons eie kneukels deeglik raps as dit nodig is.

Sjoe, dis nou gerusstellend.

Nou is daar ook sprake dat ons welwillende hokopsigters ons Suid-Afrikaanse ingehoktes ’n universele basiese inkomste gaan gee.

Beste opsiener, ek is so bly dat ek gevoer gaan word deur my tralies en nie daar in die wilde natuur hoef te werk nie. En, my wyse versorger, ek geniet my terdeë sonder sosiale klubs, sonder restaurante met die pret van wyn, verblyfplekke, drinkplekke, rookplekke, toerplekke en studeerplekke soos universiteite. Dankie dat so baie werkplekke en ontspanningsplekke vernietig is.

Hoe mense hul soögose uitleef

Dié bekende aanhaling uit George Orwell se roman “Animal Farm” het in ’n betoging in Londen opgeduik, waarin mense kapsie maak teen die feit dat Dominic Cummings, premier Boris Johnson se hoof-raadgewer, nie vir ’n oortreding van die inperkingsmaatreëls gestraf is nie. Foto: Getty Images

Agter maskers en tussen vier mure beweeg ons vingers in sirkels heen en weer op sosiale media, baie soos die herhalende sirkelstappies van ingehokte diere. Soos primate se verveelde vingers teen die hoktralies druk ons op TV-afstandbeheerknoppies om doodsyfers op die nuus te volg, om te kyk na mense sonder maskers wat toneel speel of ander ingehoktes te beloer wat in skousport teen mekaar in leë stadions speel.

Orals in die wêreld breek kuddes depressiewe mense elke nou en dan weg uit hul hokke en verveeldheid. Of jy nou in die VSA, Europa, Suid-Afrika, Libanon of Australië is, gevange kwarantynmense sal redes vir protes vind.

Dis vir my asof massas mede-gefrustreerdes byna soögoties-psigoties verwyderd raak van die werklikheid en dan op en af stap, seermaak, breek, vermink en saam met ander in kuddes angsbevange aan niks herkou.

Miskien is protesaksies dikwels ook om goeie redes gemik téén die Covid-19-opsigters.

Ek sien protes oor xenofobie, korrupsie, rassisme, geslagsbenadeling, geslagsgeweld, kolonialisme van donkiejare gelede, huidige swak dienslewering, toekomsvrese, finansiële nood, honger, politici wat jou irriteer, standbeelde wat jou die hel in maak, omdat jy te min het, omdat ander te veel het of sommer net omdat jy lus is om droog te maak en ander onskuldiges se werkhokkies (lees: sakeondernemings) en leerhokkies (lees: skole) af te brand.

Of sommer net om uit jou sel te kom.

Miskien is protesaksies dikwels ook om goeie redes gemik téén die Covid-19-opsigters – soos die regerende diere in George Orwell se Animal Farm – deur al daardie mede-ingeperktes wat hulself buite die tralies wil bevind wat die virusbewind met hul korrupte medespelers om ons geplaas het.

Dié betoger in Wene, Oostenryk, gee met sy klein handgeskrewe plakkaat te kenne dat die staat van inperking hom aan George Orwell se bekende distopiese roman, “1984”, herinner. Foto: Getty Images

Ek het ’n boodskap vir al die kleinsielige Orwelliaanse mensetemmers.

Orwell se boek Animal Farm was ’n allegorie teen totalitêre Russiese kommunisme. In sy boek was die varke die regeerders oor die ander diere, en het die varke logika misbruik soos in hul verklaring: “All animals are equal, but some animals are more equal than others.”

Korruptes ag hulself hoër as ander. Dis nie die antwoord nie.

Miskien kom die antwoord uit die bos.

Drie jaar gelede jag ek rooibokke te voet saam met Mark Whitehead in die Oos-Kaap. Mark het in sy jeug onder Monty die Perdefluisteraar van die VSA gestudeer. Skielik maak Mark langs my ’n sebrageluid.

Rhynie Greeff

’n Trop geïnteresseerde wilde sebras nader ons en begin langs ons stap.

Ná ’n rukkie fluister Mark vir my dat ons moes omdraai en dat ek glad nie na die sebras moes kyk nie. Kyk net vorentoe. Ons draai om. Die sebras ook. Ná ’n minuut verdwyn die sebras.

Ek vra toe wat gebeur het, en Mark sê diere is soos mense: As jy na hulle kyk, weet hulle dit en reageer op jou; as jy hulle ignoreer, weet hulle jy stel nie belang nie en gaan doen hulle hul eie ding.

Miskien moet sekere hokopsigters soos Nkomekstopdiesuipers en Die Groot Sheriff nou wegkyk.

Dan kan ons, die gevange wit-en-swart sebramense van hierdie land, aangaan en ons eie sosiale interafhanklikheid weer op ’n verantwoordelike wyse vind.

* Dr. Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.