Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Visum-debakel kos SA miljarde
Roelof Botha
Roelof Botha

Die lys van die skade wat aan die ekonomie aangerig is tydens die rampspoedige bewind van oudpres. Jacob Zuma, raak al hoe langer.

So tussen die opspraakwekkende getuienis deur wat voor die Zondo-kommissie gelewer word, het dit stilweg aan die lig gekom dat Suid-Afrika se toerismebedryf steeds nie die juk van streng visumregulasies kan afskud nie – inteendeel, die bedryf boer agteruit.

In die agt maande tussen April en November verlede jaar het die getal buitelandse toeriste na Suid-Afrika met meer as 52 000 afgeneem – en dit terwyl die aankomste van toeriste in 2018 wêreldwyd met 6% toegeneem het.

In die oorsig van die wêreld se toerismebedryf vir 2018 deur die Verenigde Nasies word melding gemaak van die bogemiddelde groei van toerisme in Afrika, naamlik meer as 7%. Ironies genoeg is een van die vernaamste redes vir dié sterk groei die verslapping van visumregulasies, terwyl Suid-Afrika in die teenoorgestelde rigting beweeg.

’n Wanopvatting bestaan oor die beloofde wysiging van die strenger visumregulasies wat in 2014 deur die destydse minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, bekragtig is. Ten tyde van dié onbesonne wetgewing was elke gesaghebbende organisasie in die toerismebedryf met goeie redes fel daarteen gekant, maar die minister en sy senior amptenare het dit bloot geïgnoreer.

In die praktyk het weinig dus verander en die effense oplewing in die aankomste van buitelandse toeriste was van korte duur.

Die nuwe president, Cyril Ramaphosa, het begin verlede jaar aangekondig sommige van dié regulasies sal verslap word, veral ten opsigte van die vereiste dat toeriste hul kinders se oorspronklike geboortesertifikate moet saamdra.

Dit is toe gewysig, maar nie sonder ’n lastige stertjie nie: dat toeriste “sterk aangeraai word” om tóg sodanige dokumentasie saam te dra, net ingeval ’n amptenaar daarop aandring. In die praktyk het weinig dus verander en die effense oplewing in die aankomste van buitelandse toeriste was van korte duur.

Die visumdebakel is nog een van talle voorbeelde waar staatsdepartemente ondeurdagte wetgewing voorberei wat danksy die ANC se meerderheid in die parlement weinig teenstand ondervind, ten spyte van die afwesigheid van enige ekonomiese impakstudie.

Sy flater het die Suid-Afrikaanse ekonomie van ’n allemintige R24 miljard beroof.

Volgens Lukanyo Mnyanda, redakteur van Business Day, het die nuwe visumregulasies wat in 2014 ingestel is, nog nie ’n enkele geval van mensehandel gestuit nie. Die onsinnigheid van die nuwe visumreëls blyk ook duidelik uit die geskatte permanente teenwoordigheid in Suid-Afrika van meer as 10 miljoen mense uit ander Afrikalande.

Dit is ’n feit soos ’n koei dat Suid-Afrika grense soos ’n sif het. Intussen is dit ook duidelik dat al hoe meer buitelandse toeriste hul rug op die land keer en ander bestemmings besoek – veral in ander Afrikalande. Dit skreeu ten hemele dat ’n regering homself so gereeld in die voet kan skiet met wetgewing wat kwansuis ’n edel motief het, maar reuse-skade aan die ekonomie berokken. Gigaba het duidelik geen flenter omgegee vir die pleidooie en waarskuwings van die toerismebedryf nie.

Sy flater het die Suid-Afrikaanse ekonomie van ’n allemintige R24 miljard beroof. Dié syfer is gegrond op die verskil tussen die werklike besteding van buitelandse toeriste sedert 2014 en wat die besteding sou gewees het indien aankomste met dieselfde koers as die wêreldgemiddeld toegeneem het.

Hopelik let die nuwe hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens op dié syfer, wat uiteraard tot laer belastinginkomste gelei het. Dit kan hom dalk noop om die huidige minister van binnelandse sake te oortuig om wakker te skrik.

Halfgebakte deregulering wat ’n groot mate van diskresie aan staatsamptenare verleen, is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.

Meer oor:  Mensehandel  |  Visums  |  Toeriste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.