Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vloek rus op ANC-spruite

Is dit maar ’n ongeskrewe reël in die politiek dat as jou pa of ma ’n diknek in die ANC is, jy maar jou kan tjap dat jy met die goue lepel in die mond gebore is?

Is ons nou al verby die punt dat ons nog skaam kry om onder die familienaam met die regering of met bevlekte individue sake te doen?

Kyk maar nou net die geskarrel om die Ramaphosa-familienaam skoon te kry ná Andile Ramaphosa se “sake-transaksie” met die omstrede Bosasa-groep.

Andile, spruit van Cyril Ramaphosa, het R2 miljoen “konsultasiegelde” van Bosasa gekry. Bosasa, dit weet ons nou, het kontrakte van miljarde rande van die regering gekry. Getuienis voor die Zondo-kommissie dui daarop dat Bosasa eintlik gekroek het en agteraf omkoopgeld aan politici betaal het om te sorg dat die staatstenders op hoë hakke na hulle aangeloop kom.

Hier is duidelik ’n oor-en-weer-liegery aan die gang. Eers het Cyril Rama­phosa gesê dit was konsultasiegeld wat sy seun van die Bosasa-base gekry het. Dit het nie water gedra nie. Toe is dit weer dat die geld bedoel was vir sy verkiesingskoffers, maar dat hy nie daarvan bewus was nie.

Nou is ons terug by die konsultasiewerk. Wat is nou die waarheid?

Nou is ons terug by die konsultasiewerk. Wat is nou die waarheid?

Die president is voorgehou as iemand wat nie sy hande in die regering se koekblik sou druk nie, maar dit wil nou voorkom asof hy tog nie so politiek rein is as wat voorgehou is nie,

Maar dit hou nie by die Ramaphosas op nie. Ace Magashule, die ANC se hoofbestuurder, se seun word ook betrek by ’n korrupsieskandaal.

Amper wil mens sê aardjie na sy vaartjie, maar kom ons hou maar eers by dit wat ons wel weet.

Net verlede week is voor die Zondo-kommissie getuig dat Ace glo sy seun, Tshepiso, as front gebruik het in sy transaksies met die omstrede Gupta-familie sodat die geldspoor nie na hom teruggelei kan word nie.

Die legitieme rede wat aangebied is, is dat niks politici se familie verhoed om sake met die regering te doen nie.

Sjoe, waar is die integriteit?

Sjoe, waar is die integriteit?

Ace se linkerhand, Jessie Duarte, se skoonseun was ook betrek by die Gupta-skandaal. Haar skoonseun was Des van Rooyen (daardie enetjie wat net vier dae minister van finansies was) se hoof van sy kantoor. Hy is glo met die hand deur die Guptas uitgesoek.

Dan het ons nog nie eens uitgekom by Jacob Zuma nie. Kyk, hier was die seun, neefs, niggies, katjies en hondjies deel van die Zuma-kartel.

Daar is geen groter korrupsie as om belastinggeld te gebruik om die regerende party en sy politici se belange te bevorder nie. Op hierdie manier word die staat gekaap en die demokrasie ondermyn.

Afrika se voorste inheemse denkers is dit deesdae roerend en welluidend eens dat gewetenlose magshebbers wat die hulpbronne van die staat vir hulself toeëien die vasteland se ondergang was en steeds is.

’n Mens kan nie anders as om ooreenkomste te trek met wat elders ook in Afrika aangaan nie.

Die ANC as bevrydingsparty volg in die voetspore nes sy eweknieë elders in Afrika. Onkapabel om homself te herbedraad om ’n moderne, regerende party te word. Die ANC het dieselfde “oorgang” as die ander gedoen: Van bewonderde bevrydingsparty na magsbehepte korrupte party. Die ou-ou lied van Afrika – “ons beurt om te eet” – het die oorhand gekry.

Ramaphosa skuld dit aan die land om te wys hy is konsekwent as hy sê hy duld geen sweem van korrupsie nie.

Hy moet sommer begin by sy seun en sy medekaders se familie.

Maarman is eindredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.