Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vloekwoorde is mos nie almal gelyk nie
Dana Snyman

Ek is ’n predikantskind. In die pastorie het ek nie vloekwoorde gehoor nie.

Maar een middag, onthou ek, toe ek by die grootmense op oorlede oom Andries Grové se stoep op Daniëlskuil sit en tande tel, toe hou oom Niek Louw voor die hekkie in sy Peugeot-bakkie stil en druk die toeter. Tant Sannie, oom Andries se vrou, wip van die skrik, en roep: “Hiert, jou gat!”

Pa en Ma en die ander het gelag, maar tant Sannie was baie verleë. “Jammer, dominee,” het sy vir Pa gesê. Miskien is dit die eerste vloekwoord – dit is tóé as ’n vloekwoord beskou – wat ek iemand hoor sê het: Gat. Ek weet nie. Ek was vyf jaar oud, dalk ses.

Dit is deel van grootword: Jy hoor iewers nog ’n vloekwoord, en nog een, en nóg een. Jy wil hulle gebruik, maar jy word geleer: Nes Adam en Eva nie van die boom in die middel van die Paradys mag geëet het nie, net so mag jy sekere woorde nie gebruik nie. Dis lelik. Dis sonde.

Maar daardie verbode woorde bly jou verlei. Mielie Greyling gooi jou op die grasperk voor die pastorie met ’n nartjie teen die kop. “Jou bliksem!” sê jy vir hom. Jou ma druk haar kop by die kamervenster uit: “Wat sê jy daar, Seun?” vra sy. “Mamma gaan jou mond met seep uitwas, hoor!”

Dit maak ’n vreemde opwinding in jou los, en laat jou terselfdertyd skuldig voel. Demmit, demmit, demmit.

In 1973 is Albert Hammond se liedjie “The Peacemaker” ’n treffer op Springbokradio se Top 10. Jy luister saggies oor jou Supersonic-radio’tjie in die kamer hoe Hammond heel aan die begin van die liedjie vloek: “Get out, dam­mit . . .” Dit maak ’n vreemde opwinding in jou los, en laat jou terselfdertyd skuldig voel. Demmit, demmit, demmit.

Oor hoekom mense vloek, is al baie geskryf en gedink. Om te vloek is onder meer om in die oortreffende trap te sê: “Ek het seergekry.” “Ek voel magteloos.” Maar om te vloek kan ander ook aanstoot gee. Alle woorde is nie gelyk nie.

Navorsing het getoon ’n mens vloek glo tussen 0,3 en 0,7 persent van die tyd wanneer jy praat. Daardie navorsing is beslis nie gedoen in die koerantkantoor waar ek ná matriek begin werk het nie. Dierbare tannie Kleintjie Botha, ons nie-vloekende bibliotekaresse, was pal op haar knieë om vir ons siele te bid. Want iewers langs die pad hou “demmit” op om vir jou ’n vloekwoord te wees. Jy glo nie meer vloek is sonde nie.

Ons lê deesdae baie klem op persoonlike vryheid en regte. Jy kan vloek. Jy mag vloek. Nou het Marelize van Windhoek se ma boonop daardie geniepsige enetjie wat ons so graag gebruik, vir ons onskadelik gestel.

Onlangs kom gesels ’n joernalis met my by die huis. Ek praat vurig en woes. Verlede Saterdag verskyn die storie in die koerant. Dis vol vloekwoorde. My vloekwoorde. Op een plek sê ek ydel: “Jirre.” ’n Donkerte kom oor my, en ek besef weer: Alle woorde is nie gelyk nie – veral wanneer jy dit in die openbaar gebruik.

En Ma is lankal nie meer hier om deur die kamervenster vir my te sê nie: “Mamma gaan jou mond met seep uitwas, hoor!”

Meer oor:  Dana Snyman  |  Vloek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.