Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
VOC se voorbok kom goed daarvan af

Krotoa se verhaal kan verplaas word na dié van bruin vroue vandag, skryf Heindrich Wyngaard. 

Goewerneur Jan van Riebeeck van die VOC was ’n goeie mijnheer; en die Khoi-Khoi-vrou Krotoa, sý was ’n slegte meid. Ons weet dit nou, danksy die fliek Krotoa – “inspired by historical facts”, word fliekgangers meegedeel.

Let wel: “Geïnspireer”. Nie “gegrond” op historiese feite nie.

Soos die fliekmaker Roberta Durrant dit aan City Press stel: “Daar is eintlik baie min in die geskiedenisboeke neergeskryf. Wat ons van daardie tydperk het, is Van Riebeeck se dagboek . . . Ons sê baie duidelik dat die storie narratiewe fiksie is wat geïnspireer is deur wat ons glo die historiese feite was.”

Maar ons weet darem – vir ’n feit – dat Krotoa as ’n intelligente 11-jarige meisiekind met ’n aanleg vir tale ’n huisbediende vir die Van Riebeecks geword het; en dat mev. Maria van Riebeeck nie van haar “barbaarse” naam gehou het nie en haar – uit Christelike goedhartigheid – as “Eva” herdoop het.

Ons sê baie duidelik dat die storie narratiewe fiksie is.
Roberta Durrant

Haar oom, Autshomato, het Van Riebeeck belowe: “Sy sal u nie teleurstel nie. Ook nie haar mense nie.” Of só het hy gehoop. Hier is ’n voorbeeld van hoe sy as Van Riebeeck-tussenganger “haar mense” gepaai het: “Hulle sal ons nie leed aandoen as ons die grond met hulle deel nie.”

Ná haar diensjare as huisbediende, het sy weliswaar ’n “invloedryke tolk” geword, maar het sy ook tussen die twee kulture vasgevang geraak. ’n Bewys van haar “bemiddelingsrol”: “As ons kan saamleef in vrede, sal ons kinders ook kan.” Terwyl sy weliswaar hier as “visioenêr” ontpop, is sy uiteindelik as verraaier gebrandmerk.

Tussendeur is sy op ’n keer, in die fliekweergawe van haar verhaal, deur Van Riebeeck verkrag. Hieroor sê Durrant: “Benewens die veronderstelling is daar geen konkrete bewyse dat dit gebeur het nie . . . Maar ons hoop mense sien die verkragting as ’n metafoor.”

’n Metafoor vir hoe die Hollanders in 1652 aan die Kaap geland het, aangebly het en met brutale mag oorgeneem het.

Wat my bybly, is hoe goed Van Riebeeck as voorbok-koloniseerder daarvan afkom.

Dit is egter steeds primêr weens die ontering van die verkragting dat Krotoa deur haar mense verwerp is; ook oor dié dat sy later met die Kompanjie-soldaat dr. Pieter van Meerhof getroud is. Die Khoi-Khoi-karakter Doman spuug sy afkeur só teen haar uit: “Ek het genoeg gehet van dié dwaas!”

Gehet: wat die kollig op die taalkeuse in die fliek plaas. Die voertaal is Afrikaans, sowel vir die Hollandse as die inheemse karakters, gemeng met Nama tussen-in, en met tye ook Hollands en Frans; alles, deurentyd, met Engelse byskrifte. En dan dié Afrikaapse glipsie: “gehet” (vir “gehad”), wat jou laat wonder of dit enigsins ’n oorweging was om die Hollanders (vir egtheid) in Nederlands te laat praat en (vir sterker simboliese waarde) die Khoi in Afrikaaps?

Nadat hulle getroud is, is Eva se man “bevorder” om die hoof van die strafkolonie op Robbeneiland te word; sy vrou en kinders is saam soontoe, maar hy was gereeld vir lang tydperke weg van die huis af. Dit was tydens een van hierdie ekspedisies vir die kompanjie dat hy gesterf het. Wat vir Krotoa oorgebly het – nadat haar man gesterf en hul kinders deur die owerhede weggevat is – was om haar verder en tot haar einde aan die drank te vergryp.

Dit is ’n verhaal wat verplaas kan word na die ervaring van baie bruin vroue vandag: mishandeling, welsynshulp, en ontvlugting soek in “kalmeermiddels” soos alkohol en dwelms. In Krotoa se geval, sý wat nou as die moeder van die bruin bevolking beskou word, was dit weens haar verwerping deur Van Riebeeck se opvolger, Zacharias Wagenaer, én bepaald weens Van Riebeeck se afwesigheid nadat hy na Batavia vertrek het.

In hul laaste gesprek bedank Van Riebeeck haar vir haar rol in sy (selfverklaarde) sukses aan die Kaap, terwyl sy, wederkerend, reageer: “Jy het my lewe verander.” Van Riebeeck wil dan weet: “Beteken dit ek is vergewe?”

Die slotsom waartoe in die fliek gekom word, is dat Krotoa as hoofkarakter vernietig is deur diegene wat sy wou verenig. Maar wat my bybly, is hoe goed Van Riebeeck as voorbok-koloniseerder daarvan afkom.

Marius Titus het dit lank terug reeds in sy gedig “Paint my ’n mens” uitgewys: “Jy’s ’n artist, Van Riebeeck / truly, soewaar / ’n master van colours, / Van Riebeeck ôs vaar”.

Om debat te voer, soos wat tans spesifiek in bruin geledere aan die gang is, oor wié daarop geregtig is om verhale soos dié oor Krotoa te vertel, is egter misplaas. Die fliek moedig ons aan om “die hoorbare stilte” oor die koloniale vergrype teen die inheemse mense te verbreek.

En om beter begrip te ontwikkel vir die nuwe gedaantes waarin die rustelose siele van die slagoffers van “die mees genadelose menseslagting wat ons land ooit ervaar het” (uit Thabo Mbeki se “I am an African”-toespraak), oor die Kaapse vlaktes bly spook.

Heindrich Wyngaard is ’n omroeper, skrywer en kommentator.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.