Die prestasie van Letlhogonolo Mafela (26), wat sonder arms gebore is en in April sy B.Com-graad aan die NoordwesUniversiteit ontvang, is inderdaad inspirerend.
Boonop het dit vir ons almal in Suid-Afrika ook ’n les te leer.
Sy deursettingsvermoë en sterk wilskrag om van sy lewe ’n sukses te maak, gee hom beslis vlerke. Ek kan my nie eens al die struikelblokke wat hy moes oorkom, indink nie.
Sulke suksesverhale lig ’n mens se gemoed en laat ons nie net besef dat ons eie posisie nie so erg is nie, maar dat met volharding, deursettingsvermoë en ’n sterk wilskrag enige struikelblok oorkom kan word.
Ons sukkel nog met rassisme, seksisme, etikettering, klassisme, sosiale kohesie, godsdienstige toleransie, politieke verdraagsaamheid, versoening en om mekaar menswaardig te behandel. Hier benodig ons mense van alle sfere van die samelewing om aan te hou om na ander uit te reik, mense wat voortdurend probeer om na mekaar te luister, mense wat bereid is om opofferings te maak ter wille van goeie menseverhoudinge.
Volharding beteken om aan te hou, weer te probeer en om nie moed op te gee nie. Dit is om ons verantwoordelikheid in ’n gegewe situasie te besef en sodanig op te tree. Dit is daadwerklike betrokkenheid. Dit is om met die oog op die toekoms, in die oomblik te wees.
Die teenoorgestelde van volharding is om moed op te gee en geloof in ander en God te verloor.
Die teenoorgestelde van volharding is om moed op te gee en geloof in ander en God te verloor. En om nie te volhard nie, is om nie genoeg om te gee nie.
Ekonomiese druk, geweld en misdaad eis van ons almal om te volhard in ons afsonderlike en gesamentlike pogings om mense se lewensgehalte te verbeter en enige vorm van misdaad te bekamp.
Om alle Suid-Afrikaners weer te verenig agter goeie menseverhoudinge en die visie van die reënboognasie, benodig ons burgers wat tot hierdie taak verbind is met oorgawe, geloof, hoop en passie.
Ons benodig mense om hande te vat en in vasberadenheid te doen wat politieke heling bring en ekonomiese gelykheid bewerkstellig.
Volharding in die goeie is waartoe die Evangelie ons ook roep, soos in Hebreërs 10:36 (“Volharding is wat julle nodig het”).
Jesus is ons beste voorbeeld van hoe om te volhard in die vestiging van versoening en geregtigheid, van hoe om aan te hou om die Christelike waardes soos liefde en vergifnis uit te leef, en om toegewyd te bly aan die menswaardige behandeling van alle mense.
Mense wat volhard, is mense wat verby en verder as die onmiddellike moeilike en selfs katastrofiese omstandighede kan kyk en reeds die mooier, mensliker, vredevolle en regverdige staat of toestand kan sien.
Dr. Katts is voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.