Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Volksblad groet jou, Marleen

Skaars ’n week gelede – op 5 Junie, om presies te wees – daag ek stiptelik om 10:00 by Iewers Nice in Bloemfontein vir ’n koffie-afspraak op.

Marleen Smith ’n paar jaar gelede.Foto: Facebook

Net om agter te kom die afspraak is eintlik om 11:00. Vies vir myself, want dis ’n kosbare uur op een van die besigste dae van die week waarop ek naas gewone pligte ook ’n Brandpunt-rubriek moet pleeg. Ek wik en weeg of dit die moeite werd is om terug te ry werk toe vir ’n vinnige halfuur se werk en dan weer te kom.

Uit die hoek van my oog sien ek ’n vrou wat in ’n hoek in die koffiewinkel gaan sit.

Dit lyk darem baie soos Marleen, dink ek terloops. Maar ook nie. Terwyl ek wonder, kom die vrou nader.

Dit ís toe Marleen Smith, wat destyds as Marleen Jordaan in Volksblad se nuuskantoor ’n kollega was. Ek het haar jare laas regtig gesien. Maar die werksband wat tussen verslaggewers in die loopgrawe van ’n nuuskantoor gesmee word, vergaan nie.

En sy was die vrou van die gesin wat my in 2006 vir ses weke lank ’n basis gebied het by hul maatskappyhuis in Washington DC waar Charles, toe hulle getroud was, Media24 se Amerikaanse korrespondent was.

Van hier kon ek Amerika deurswerf met die wete daar’s altyd ’n bed en vriendskap wat in die hoofstad wag.

Nou lyk Marleen broos en so skraal dat haar denim ’n bietjie hang. ’n “Wee slip of a girl”, sou Jane Austen en die Brönte-susters dit in hul ou Engelse romans gestel het.

Ek weet van haar innerlike stryd die afgelope jare teen depressie en wat daarmee saamgaan.

Ná hul skeiding, toe dit nie meer anders kon nie, het ons eintlik kontak verloor. Buiten vir ’n terloopse gesprekkie nou en dan in die parkeerterrein wat Landbouweekblad se redaksie met ons deel.

En in Desember het sy gebel om met my ma se afsterwe te simpatiseer. “Kom gerus na die troosdiens toe,” het ek genooi.

“Nee, Gert, jong, eerder nie. Dan kom maak ek weer ’n spektakel van myself,” het sy gesê.

Pap, kaiings en sous

Nou kom sit sy aan my tafel. Sy dring daarop aan dat ek haar pap, kaiings en sous – ’n spesiale dis by Iewers Nice – moet deel, maar ek vat net ’n bietjie. En sy gesels land en sand, soos die Marleen van ouds. Ongekunsteld, ondersoekend en weerloos, soos altyd. Met hartstog vir die lewe en mense. ’n Spontane lag en ’n manier om jou indringend in die oë te kyk.

Oor hoe bly sy is dat Mia (18), ’n Oranje-matrikulant, onlangs ’n skooltoer na Europa kon meemaak. En die Notre Dame-katedraal in Parys gesien het voordat dit deels afgebrand het.

Sy is ingenome oor Mia se voorneme om in 2020 eers in Nederland te gaan werk en die wêreld te verken.

“ ’n Mens moet reis,” sê sy.

En vertel van haar begeerte om weer vir ’n lang tyd te gaan toer. En van die boeke wat sy lees – die name ontgaan my, want in my gedagtes het ek voorberei vir die gaste wat ek moes ontvang – wat almal reis as tema het.

Sy praat ook oor Dan Sleigh se boek Afstande en hoe sy eers daarmee gesukkel het. Maar toe sy eers aan die lees kom, is daar nie keer nie.

Die metaforiese ooreenkoms tussen die Griekse beskawing van toe en ons wêreld vandag was vir haar opvallend. En oor die hoofkarakter met die naam Xenophon lag sy.

“Wat ’n naam. En net ná die verskyning van die boek berig Die Burger in Kaapstad toe mos oor ’n verkeersbeampte met die naam Xenophon Pienaar, het Francois my vertel,” lag sy. (Francois Smith is ’n skrywer en Charles se broer).

Wéér opper sy haar versugting om te gaan reis. En laat val dat sy deesdae net as vryskut-joernalis werk. Dalk kan sy later alles los en gaan reis.

Maar eers is daar ook Alwyn (13), wat in gr. 7 aan die Laerskool Universitas is. Sy wonder na watter hoërskool toe hy volgende jaar moet gaan. Daar is twee opsies, maar vir sport moet Grey-kollege dalk voorkeur kry.

Die uur is verby en my eintlike gaste daag op.

Marleen vra ’n doggy-bag vir die res van haar pap, kaiings en sous. “Dalk moet Alwyn maar Grey toe,” sê sy amper as ’n nagedagte.

Die 'werk' van die telefone

Ek soengroet haar, wat eintlik ongewoon is, en sê dit was goed om haar raak te loop. Bepaal my toe by die aankomelinge.

Nou dink ek terug aan hoe sy destyds in die nuuskantoor die telefone kon “werk” – om inligting te trek uit veral diegene wat nie wil praat nie. Die Vrystaatse landbou-departement is toe al van binne geplunder.

Wat ’n joernalis, het ek gedink. Beslis een met die potensiaal om ’n redakteur te word. Sy was toe reeds ’n uithaler-landbouskrywer. Ná hul terugkeer uit Amerika het sy heeltyds by Landbouweekblad begin werk. Ook in die landboubedryf was sy gelief en gerespekteer, soos in joernalistieke kringe en oral.

Ja, Marleen, ons nuusmense hou nie daarvan om in die nuus te wees nie. Toe ek jou 12 dae gelede gegroet het, het ek nie gedink dis die laaste keer nie. Of dat ek ooit oor die onverwagse kuiertjie sou skryf nie.

Veilig reis. Die Volksblad-familie van wie jy ’n lid was, groet jou.

  • Coetzee is redakteur van Volksblad.
Meer oor:  Marleen Smith  |  Charles Smith  |  Joernalis  |  Sterf  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.