Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Volksblad Stem: Battery-man met moeë oë by ’n robot

Sonder uitsondering as ek my kind in Kaapstad besoek, staan daar ’n man by ’n robot wat lyk soos ’n battery. Hy spring op en af tussen stilstaande motors en probeer pamflette van ’n batteryverskaffer aan onwillige motoriste gee. Op ’n keer het ek sy oë agter die vierkantige boksmasker gesien. Hy het moeg gelyk.

“Mamma, dink net as dit jou werk moes wees,” het my kind opgemerk.

Sekere beroepe is nie maklik nie. Dis ’n welbekende feit dat loodgieters een van die hoogs betaalde beroepe is. Maar sou jy ander mense se verstopte toilette en wasbakke wou oopmaak?

Hoe moet dit voel om lyke in damme uit te duik, of bome in woude af te saag . . . Dag ná dag. Of in ’n nar-kostuum met ’n groot rooi neus wawiele in die sirkus te doen? Hoe het die laksmanne jare gelede die rooi hefboom gelig en hoe doen ’n patoloog ’n ondersoek op ’n klein meisietjie wat weens verkragting dood is?

Jare gelede het ’n nagkar in die vroeë oggendure deur strate gery om emmers leeg te maak. Om dit daagliks te doen moes mannemoed geverg het. Ek krimp vandag nog ineen as die Brandfort-lorrie elke Woensdag ons vullissakke kom oplaai. Die swart handskoene kan nie die stank van verrotte kos keer nie. Maar die werkers skerts, fluit en spring fluks af om nog ’n sak op te laai.

As jy op ’n Maandagoggend weer sug en opsien om kantoor toe te gaan – dink weer. Jy kon iets anders gedoen het.

Werknemers in ouetehuise moet daagliks doeke omruil, opruim as ou mense hul kos uitspoeg en skel oor hul hulpeloosheid. Maar hulle doen dit, dis deel van elke dag. Die werk waarvoor hulle betaal word.

Hoe maak veeartse diere aan die slaap? Hoe kyk tandartse daagliks na verrotte tande? Hoe vertel dokters vir pasiënte die kanker het versprei?

Elke blikkie tuna wat ons koop, is in stormwater-see gevang, in fabrieke verwerk en per vragmotor na ons supermarkte vervoer. In elke aspek was ’n element van risiko verbonde, totdat jy met jou blikkie tuna in jou kar huis toe ry.

Rodeo-ruiters in Amerika het onlangs ’n 19-jarige ruiter, Coy Lutz, verloor tydens ’n insident waarin sy perd hom doodgetrap het. Dit was sy werk. En dit het hom sy lewe gekos.

As jy op ’n Maandagoggend weer sug en opsien om kantoor toe te gaan – dink weer. Jy kon iets anders gedoen het. Jy kon by ’n robot in Kaapstad gestaan het in 35 ºC. Aangetrek soos ’n battery. En pamflette probeer uitdeel het wat niemand wil hê nie.

Meer oor:  Menings  |  Madré Van Tonder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.