Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Volksmoord’, ‘almoord’ en nou ‘klimaatangs’

Raphael Lemkin (1900-1959) was ’n Poolse linguis en prokureur.

Van vroeg af stel hy belang in die massamoord op een volk deur ’n ander, aanvanklik veral die uitdelging van Armeniërs deur Ottomaanse Turke, wat as eerste sodanige voorval in die 20ste eeu beskou word.

Fred Pheiffer
Fred Pheiffer

Die lot van Joodse burgers in Nazi-uitwissingskampe – ook die lot van Lemkin se eie familie – sorg daarvoor dat dit sy lewenstaak word om dié gruwel as misdaad erken te kry.

In 1944 skep hy die term “gen­ocide” (Griekse prefiks geno- “ras”, “mense” + Latyns caedere “om dood te maak”). “Volksmoord” in Afrikaans.

In die Neurenberg-verhoor word die eerste keer daarna verwys; in 1948 word dit deur die Verenigde Nasies (VN) se Volksmoordverdrag deel van internasionale strafreg.

Desondanks gedy­ haat tussen volke.

“Volksmoord” word ’n alledaagse woord.

Ná Amerika se gebruik van Agent Orange in die Viëtnamese Oorlog om woude te vernietig en só die Viëtnamese hul natuurlike dekmantel te ontneem, ontstaan daar ’n veldtog om vergrype teen die natuur ook as interna­sionale misdaad te erken.

Die VN erken in 1977 die term “ecocide­” (Grieks oikos­ “huis” + caedere). “Om­gewings-” of “ekomoord” in Afrikaans. Dit geld net as oorlogsmisdaad.

In dié millennium word ons feitlik daagliks deur berigte oor natuurrampe gekonfronteer.

Gemeenskappe in en om die Karibiese See en die Golf van Bengale word deur al hoe woester tropiese storms geteister.

In die Amasone en Australië saai bosbrande verwoesting van kus tot kus.

Woorde wek, maar voorbeelde trek.

Dié rampe is nouliks nog losstaande gevalle, eerder simptome van ’n wêreldwye klimaatkrisis.

Ons uitlaatgasse jaag die kweekhuiseffek só aan dat die aarde oorverhit.

Ons impak op die aarde maak dat die huidige geologiese tydperk as die Antroposeen (Grieks anthropos “mens” + kainos “nuut”) begin bekend staan.

Die begrip “ekomoord” soos hierbo bepaal, is kennelik ontoereikend.

Gevolglik soek ekostryders – nóg ’n nuwe woord – iets kragtigers. “Omnicide­” (Latyns omnis “alles”, “almal” + caedere). “Omnimoord” in Afrikaans of “almoord”? Die moord van alles – van paddatjies tot renosters, van vleie tot poolkappe, van eilandgemeenskappe tot laagliggende stede.

En wie is aanspreeklik? Mynbase wat aanhou fossielbrandstof ontgin? Kragverskaffers wat dit aanhou verbrand? Politici wat wetgewing vir ’n fooitjie plooi? Die media wat eensydig berig en kykers en lesers in die duister hou? Of is dit ons, verbruikers verknog aan ’n leefstyl van motors en plastiek?

Is ons almal skuldig aan die moord op moederaarde?

Sielkundiges merk ’n nuwe toestand op. Angs en weemoed oor ons aarde se voortbestaan; frustrasie oor diegene wat iets daaromtrent kan doen, maar nie wil nie. “Klimatangest” noem die Swede dit. “Klimaatangs” in Afrikaans.

Woorde wek, maar voorbeelde trek.

* Pheiffer is mederedakteur van die WAT. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.

Meer oor:  Volksmoord  |  Moord  |  Woordwisseling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.