Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Volop vlieënde pierings raak nou alledaags
Annelie Botes

Wetenskapsfiksie en spookstories het my nog nooit gefassineer nie. Tasbare bewyse, logiese redenasies en wiskundige berekeninge wat klop, staan my sterk aan.

In die 1980’s toe ons in Bedford gebly het, was daar ’n storie in omloop van ’n spooktrein wat iewers naby Fort Beaufort op ’n draai in die Amatola-berge verskyn. En weer verdwyn.

In my Uniondale-jare het die spookverpleegster wat na Willowmore se kant toe in haar wit uniform in die veld staan, mense betower. Maar nie vir my nie.

Toe word daar by deeglike ondersoek uitgevind dat dit ’n witgekalkte mylpaal is wat agtergebly het toe die pad tussen Uniondale en Willowmore herbou is.

As motoriste in die donker om ’n sekere draai ry, skyn die kopligte vir ’n sekonde lank op die mylpaal. Maar die motor is aan die beweeg en die bestuurder stop nie om die lang wit gedaante te bekyk nie. So ís daar toe ’n logiese verklaring vir die spookverpleegster.

Gewoonlik is wetenskapsfiksie gerig op rare, onwaarskynlike gebeure wat in die toekoms lê. Op ’n tyd was telefone, motors, radioseine en yskaste in daardie kategorie. Die mensdom kon hulle nie indink dat sulke wonderwerke eendag werklik sal wees nie.

Maar deesdae begin ek onwrikbaar in vlieënde pierings glo. Want dis asof hulle soos brommers om my kop draai, in my neus opkruip en in my hare rondtol.

Maar deesdae begin ek onwrikbaar in vlieënde pierings glo. Want dis asof hulle soos brommers om my kop draai, in my neus opkruip en in my hare rondtol.

Ek sou my kop 30 jaar gelede in totale ongeloof geskud het as iemand vir my sou sê dat Standard Bank landwyd 91 takke gaan sluit. Dat Eskom (toe nog Evkom) iets soos beurtkrag sou instel, was ondenkbaar.

En dat die destydse SAL en OP-rugby basies bankrot gaan wees, wou kompleet vergesog wees.

Só sien ek elke dag vlieënde pierings: Kinders stamp onderwysers rond en maak hofsake as hulle nie hulle sin kry nie. Gerekende staatsmanne steel hulself dik en kom skotvry daarvan af.

Om ’n polisieman te vind wat deel is van ’n sindikaat, of vangwaens gebruik om gesteelde skape te vervoer, is ou nuus. Treinspore groei toe onder onkruid; stasiegeboue word in daglig afgebreek en weggedra.

Munisipale raadslede slaan mekaar met waterbekers. Daar is hardhandige rondrukkery en dreunsang in die eens statige parlement. Die onderwysdepartement se telefoonlyne is afgesny.

Pensioenarisse se geld word gebruik om tolpaaie te bou. Rioolvuil loop langs sypaadjies af. Verpleegsters staak en laat sterwendes aan hul lot oor. Ouers sit slotte aan skoolhekke. Kinders jonger as tien dra skietgoed en dwelms.

Sulke gebeure sou 30 jaar gelede vir mý as liegstories oor vlieënde pierings, Marsmannetjies en spooktreine deurgegaan het. My wiskunde en logika sou geweier het om dit te glo.

Maar nou móét ek glo in wetenskapsfiksie, want ek sien die vlieënde pierings met my eie oë. Darem vreemd hoe ’n bejaarde mens se uitkyk in 30 jaar kan verander.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Eskom  |  Menings  |  Sal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.