Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
VOLWASSE LEESSTOF: Sal jy jou neus optrek vir dié kers?

Gwyneth Paltrow het ’n lekkerruik-kers uitgebring met die naam “This smells like my vagina” en natuurlik moes Erla-Mari Diedericks dié aktrise en sakevrou se aanlyn winkel besoek.

Erla-Mari Diedericks
Erla-Mari Diedericks

Die V-vlam brand deesdae hoog vandat Gwyneth die koekie-kers uitgebring het. Die opsitkers sal nooit weer dieselfde wees nie.

Ek kliek op die webwerf Goop wat die kers verkoop. Ek verwag half ’n foto van Gwyneth in ’n jogaposisie met die kers strategies in die middel van haar gekruisde bene geplaas.

Maar nee. ’n Mens moet vir die kers soek. Ek vind dit onder “Beauty, Fragrance and Candles”. En daar is dit – die berugte, beroemde en omstrede kers. Dit is verpak in ’n wit dosie met pienk blomme wat ’n mens onmiddellik laat met dié filosofiese vraag: Is die kers in die dosie of andersom?

Die kers self is in ’n swart glashouer gegiet. Diskreet. Elegant. Behalwe vir die naam, natuurlik.

Party mense reken die koekie-kers is prettig, ander meen dit is vulgêr. Wat jy ook al dink, dit verkoop soos soetkoek. En dit teen sowat R1 000 vir ’n kers so groot soos ’n klein koffiebeker. Daar is selfs ’n waglys.

Ek is seker in Los Angeles en sekere gesofistikeerde huise brand die V-vlam hoog, maar ek sal nogal graag Gwyneth se kers in ’n Suid-Afrikaanse konteks wou sien.

Die manne sit om die braai. Die slaai en braaibroodjies staan gereed op die tafel. Dan kom mevrou Basson uitgestap met die lekkerruik-kers om die reuk van rook te verbloem vir die dames wat om die tafel sit en rosé drink, en natuurlik om die vlieë weg te hou.

Sy sit die kers in die middel van die tafel. Die dames leun vooroor om beter te kan ruik. Dan sien hulle die naam.

Ons is ’n nasie wat nog stik aan die woord 'seks'.

Nou kyk, die V-woord het nog nooit gemaklik in die volksmond gepas nie. Ons is ’n nasie wat nog stik aan die woord “seks” en wie se tong lelik kan knoop oor die V-woord. En daar staan die koekie-kers en flikker tussen die braaibroodjies.

“Ag nee man, vrou, gaan sit weg daai kers!” sê meneer Basson. Die manne stik in hul bier en probeer windop staan sodat hulle nie per ongeluk die kers ruik en in die moeilikheid by vroulief kom nie. Die vroue loer skelmpies na die kers en wonder angstig of hare dan nou ook soos ’n roostuin moet ruik.

Want ons almal weet tog niks is net rosegeur en maneskyn nie.

Die kers sal dalk die beste in ’n slaapkamer pas, maar dit kan selfs daar net te hoë verwagtinge skep. Dit is ’n kers wat belowe om jou in ’n verleidelike bui te plaas waar fantasie en ’n “gesofistikeerde warmte” sal seëvier. Die kers word ook beskryf as snaaks, pragtig en sexy.

Dis omtrent ’n mondvol.

Ek hou natuurlik van die idee dat die V nou uit die duisternis tree en trots in die openbaar skyn. Maar ek wonder wel wat sal gebeur as ’n manlike akteur so ’n kers probeer verkoop. Of iemand soos Steve Hofmeyr. Hy kan dit noem: “Kom ruik my kers.”

Sal die P-kers kan kers vashou met die koekie-kers? En sal dit uitverkoop of sal die akteur agter tralies beland vir seksuele teistering?

Ek sal die kers ook koop. Om aan te steek tydens 'load shedding', natuurlik.

Kerse is egter nie al wat sy verkwansel nie.

Ontmoet “The Millionaire” – oftewel die glimlagmaker (smile maker). Dié produk belowe om jou van oor tot oor te laat glimlag en om met sy knuppel ’n “huppel in jou stap” te plaas. Daar is een in die vorm van ’n vuurpyl, ’n ander een wat lyk soos ’n mannetjie en dan ’n vreesaanjaende ene wat lyk soos ’n roomys-opskeplepel.

Ondanks sy voorkoms beloof “Die Miljoenêr” egter pret en plesier met die druk van ’n koppie. Teen sowat R800. Ek gaan dit aanskaf, want dit sal die naaste wees wat ek ooit aan ’n miljoenêr sal kom.

En ja, ek sal die kers ook koop. Om aan te steek tydens load shedding, natuurlik.

Want enige reuk is beter as dié van ’n korrupte Eskom-vrot.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Eskom  |  Erla-Mari Diedericks  |  Gwyneth Paltrow
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.