Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Voordeel van die twyfel vir Cyril

Wat ’n verligting.

Barnard Beukman

En dit is ’n innerlike stryd om te bepaal waaroor die verligting die grootste is: Cyril Ramaphosa se oorwinning om ANC-president te word of dr. Nkosazana Dlamini-Zuma wat die magsbus gemis het as die gesig van staatskaping.

Maar die verligting is ten tyde van die aankondiging al gaande getemper deurdat hy ’n erg verdeelde topses kry om mee te werk, wat korrupte figure, soos Ace Magashule, insluit.

Die aantal Suid-Afrikaners wat vir Ramaphosa duim vasgehou het, is binne en buite die ANC ’n uiteenlopende meerderheid wat oor baie kwessies onoorbrugbare verskille het.

  • Dit kan dus nou gebeur nou dat elkeen hulle reeds indink hoe die land se nuwe invloedrykste politikus hul idees in werking gaan stel. Ramaphosa kan nie net beoordeel word aan elkeen se eie verwagtinge nie. Hy moet beoordeel word in sy konteks as ANC-leier. En gaan hy nou soos in enige demokrasie die beweegruimte vra om sy beoogde rigting aan te dui. Almal kry wel kans om in die 2019-verkiesing daaroor uitspraak te gee. Sonder om klakkeloos mee te doen aan die oormaat “Dit-is-wat-Cyril-nou-moet-doen”-wenslysies wat ons die volgende dae en weke gaan verswelg, is hier tog vyf beginsels waaroor hy dopgehou behoort te word as hy sy termyn se fondamente gaan begin gooi: Erkenning van en respek vir die oppergesag van die Grondwet;) Openlike ondersteuning van die regbank se onafhanklike rol;) Onmiskenbare stappe om die ekonomiese groeikoers te versnel;) Daadwerklike stappe teen korrupsie en staatskaping; en) Goeie regering en dienslewering.

Oor hoe dit bereik moet word en met watter detail daarop voortgebou moet word, gaan die wenslysies sekerlik uiteenlopend wees.

  • Maar ’n taaklysie vir die eerste 100 dae kan die volgende insluit: Kry Jacob Zuma uit die presidensie en maak die kabinet skoon van staatskapers en onbevoegdes;) Stel ’n nuwe minister van finansies aan. (Pravin Gordhan is welkom vir ’n derde ronde.);) Stel ’n nuwe direkteur van nasionale vervolging aan;) Draai die kernkragplan die nek om;) Stel die kommissie van ondersoek na staatskaping aan;) Kry ’n werkbare alternatief vir ­Zuma se politiekery oor studiehulp vir arm studente; en) Kondig ’n ingrypingsplan aan vir Eskom, Transnet en die SAL.

En daarna sal die detail volg oor doeltreffende regering, herprioritisering van staatsuitgawes, voedselsekerheid en duidelikheid oor grondhervorming, die skoolonderwyskrisis, die waterkrisis, misdaad en vele meer.

Daar is diegene wat meen Ramaphosa se laaglêtaktiek oor belangrike kwessies en geskilpunte die afgelope twee jaar bewys hy is ook maar ’n oorlewingspolitikus eerder as ’n beginselvaste leier. Moontlik het hy geoordeel dit is wat nodig is om tot by gister se oorwinning te kom. En kon ’n gouer uitdaag van Zuma hom na die politie-ke woestyn ontspoor het. Dus was die kritieke stryd teen Zuma juis oor die leierskap, kon hy geoordeel het.

  • Maar hy is darem deur die jare al as vakbondleier, onderhandelaar, politikus en sakeman getoets. In die plaaslike konteks, vir wat dit werd mag wees en met waarskynlik geen uitdagende standaard nie, is hy een van dié wat kop bo skouers uitstaan. Of hy met die verdeelde topses die nodige kan vermag en moontlik ’n verlamde leier gaan wees, is onduidelik. Maar vir eers kry hy ’n ongeduldige voordeel van die twyfel. Beukman is redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.