Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Voorspellings in 2019 onmoontlik
Amanda Gouws
Amanda Gouws.

Dis ’n verkiesingsjaar – en dit gaan nie ’n maklike verkiesing wees nie. Inteendeel, ons kan onsself regmaak vir vuilspel, rugstekery en baie klein politieke partytjies wat ’n haas uit ’n hoed wil pluk.

Daar is werklik nie een party wat uitstaan as dit kom by ’n morele kompas en die belange van die burgers nie.

Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie is 563 partye geregistreer – waarvan 56 op nasionale vlak. Stel jou die stembrief voor! Tans word 13 partye in die parlement verteenwoordig, waarvan net vyf meer as 1% steun in die vorige verkiesing gekry het.

Hierdie partye het een of twee verteenwoordigers, maar kan nie werklik ’n verskil aan beleid maak nie. Vir die verteenwoordigers gaan dit oor hul eie belange soos inkomste en byvoordele, en selde die Grondwet en die belange van die mense wat vir hulle gestem het.

Ek maak weer eens voorbrand vir die instel van ’n steundrempel om hierdie kleiner partye te dwing om te amalgameer of om te verdwyn.

Die fragmentering van die opposisie beteken dat daar werklik min teenstand teen die eenparty-oorheersing van die ANC is.

Die fragmentering van die opposisie beteken dat daar werklik min teenstand teen die eenparty-oorheersing van die ANC is.

As ’n 2%-drempel ingestel word, sal dit verseker dat partye wat net wil munt slaan uit selfbelang, dit heel moontlik nie sal maak nie. Dit sal ook die “lunatic fringe” uithou. Met ’n 5%-drempel sal ons net vier of vyf partye in die parlement hê, maar dit sal baie beter vir die demokrasie wees.

Die “lunatic fringe”, soos Hlaudi Motsoeneng en Jimmy Manyi, is ook aan die werk. Manyi het die ANC verlaat en sy steun toegesê aan die African Transformation Movement (ATM), wat deur evangeliese kerke op die been gebring is met die doel om Zuma te steun. Hierdie kerke het miljoene lede en kan dalk net vir Manyi en ander ongure karakters setels in die parlement besorg.

Wat ook kommerwekkend is, is dat bewese korrupte politici weer eens op die ANC se voorlopige nasionale kieslys verskyn, soos oudpres. Jacob Zuma, Bathabile Dlamini en Malusi Gigaba.

Dit is kommerwekkend dat die ANC geen reëls het oor wat oudpresidente mag en nie mag doen nie.

Dit is kommerwekkend dat die ANC geen reëls het oor wat oudpresidente mag en nie mag doen nie. Zuma en sy ondersteuners is besig met ’n doelbewuste plan om die verkiesing te kaap.

Met die bekendstelling die naweek van die ANC se verkiesingsmanifes was dit Zuma wat die grootste applous gekry het. Volgens Ramaphosa-ondersteuners word Zuma betrek om te voorkom dat hy Ramaphosa ondermyn. Maar hierdie soort strategie versterk net Zuma se hand.

Onlangse meningspeilings wissel van 52%- tot 61%-steun (Ipsos) vir die ANC, terwyl steun vir die DA, volgens Ipsos, tot 14% afgeneem het. Steun vir die EFF wissel tussen 8% en 10%. As ANC- steun op 61% lê, beteken dit dat die Ramaphosa-faktor wel kiesers na die ANC teruglok.

Daar is baie kiesers wat nie gewoonlik vir die ANC stem nie, wat wonder of hulle vir die ANC moet stem net om Ramaphosa se hand te sterk, want as die ANC onder 50% kry sal daar ’n koalisieregering moet wees. Wie gaan die koalisievennoot wees? Die EFF? Dan sal Malema aandring om die adjunkpresident te wees. Behoede ons!

Vir baie kiesers is daar egter geen party wat aantreklik is nie. Selfs nie die DA nie, wat dit reggekry het om baie steun wat hy in 2016 se plaaslike verkiesing gekry het te verkwansel.

Die jeug kan ’n baie belangrike rol speel as hulle almal vir dieselfde party stem, maar net 16% van die mense tussen 18 en 19 jaar oud is geregistreer, en 54% van die tussen 20 en 29 jaar oud.

Dit is ’n maak-of-breek-verkiesing, maar die uitkoms is totaal en al onvoorspelbaar.

Gouws is ’n professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Amanda Gouws  |  Anc  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.