Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Voorwaardes vir ’n toekoms in ’n nuwe land

Ekonomiese data wat die afgelope maande bekend gemaak is, laat die meeste Suid-Afrikaners moedeloos.

As ontwikkelende land is ons tans vasgevang tussen drie werklikhede: internasionale dinamika; ekologiese werklikhede, wat ons laat besef ons ou modelle vir ekonomiese groei is nie volhoubaar nie, en plaaslike sosio-politieke onsekerhede. Dit skep ’n “perfekte storm”.

Te midde van dít alles woed daar ’n intense gesprek oor ekonomiese sisteme en armoede. Hierdie kan nooit net kliniese gesprekke wees nie, maar gesprekke wat diep etiese vrae aan gelowiges rig.

As gelowige lyk dit vir my of daar twee beginsels is waarby ons nie gaan verby kom nie. Die eerste is dat geen sisteem wat ongelykheid in die hand werk op die vlak soos wat dit tans gebeur, aanvaarbaar kan wees nie. Die tweede is dat geen sisteem wat die aarde (ekologies) vernietig, aanvaarbaar kan wees nie. Hierdie is basiese Bybelse beginsels.

Maar so is daar ook ander Bybelse lense waardeur jy kan kyk. Al verskil die kontekste hemelsbreed en is dit onmoontlik en onverantwoordelik om reglynige opdragte tussen Bybelse tye en vandag te trek, is daar tog beginsels wat ons kan help.

Neem ’n teks soos Deuteronomium 10. Die volk het met hul dans om die goue kalf hul verbondsverhouding met God verbreek en so ook oënskynlik die belofte van ’n nuwe land verloor. Dan kom God ’n tweede keer by monde van Moses na hulle en bied hulle weer “die land” aan. Ek lees dit as ’n metafoor vir ’n tweede kans, wat ook op ons van toepassing is.

Die eerste is dat geen sisteem wat ongelykheid in die hand werk op die vlak soos wat dit tans gebeur, aanvaarbaar kan wees nie.

Daar is egter drie voorwaardes: Onthou alles behoort aan die Here, selfs al ontvang julle die land; God gaan absolute gehoorsaamheid vra; en God dring aan op die versorging van weduwees, kinders én vreemdelinge. Die opdrag oor vreemdelinge is veral vir ons moeilik.

Hierdie beginsels kan dalk vir vandag as volg vertaal word: Daar is niks verkeerd met privaatbesit en eiendomsreg nie. Meer mense moet dit kry, maar hou jou besittings liggies vas – jy is nie die finale besitter nie; soek met alles wat jy het na ’n nuwe moraliteit en gehoorsaamheid; en leef met ’n nuwe sensitiwiteit teenoor die armes en die vreemdelinge.

Laasgenoemde is ’n komplekse uitdaging, maar nie so moeilik nie. Daar is byvoorbeeld situasies wat ons aandag verdien. Die ekonomiese situasie en menseregtevergrype in Zimbabwe het nóú ons aandag én die van ons regering dringend nodig. Ons is onlosmaaklik deel van Afrika en ons welsyn kan nooit losgemaak word van ons bure se welsyn nie.

Ons smag na ’n tweede kans om ons land te maak werk. Ons hoef egter nie net te sit en wag nie. Daar is heel konkrete handelinge wat ons gebede moet vergesel.

  • Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Grondbesit  |  Toekoms  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.