Dr. Jani skryf:
Dit is lente en ek is besig met spring cleaning tuis – ook in my kop.
Dit was my vriendin Gerda by ons boekklub se voorstel: “Basta, suster. Vee die spinnerakke, die drogbeelde en die strooipoppe uit.”
(My ander vriendin, Cathy, sê toe oor onderhoude met skrywers wat pryse wen: “Waarom vra iemand altyd vir hulle: Waarom aanhou skryf? Dis soos om vir Christo Wiese te vra: Waarom aanhou geld maak? Of iemand agter ’n kasregister te konfronteer met: Waarom wérk jy?”)
Toe dink ek aan dinge wat my vreugde gee:
- Donderstorms. Ek mis dit.
- Klein kinders wat praat van “baierder” in plaas van “meer”.
- En Britse geskiedkundiges wat ’n ou storie vars voorsit:
“In the year that Queen Victoria died, 1901, the British Empire was in the midst of its greatest trial to date, namely the Boer War. That war ended in 1902 with a British victory of sorts, but there had been some terrible setbacks, military defeats and psychological humiliations. Two tiny anarchic states of Dutch Bible-bashing farmers had formed themselves into an amateur army which did not even possess uniforms. These Boers had seemed to many other people in the world to demonstrate what damage could be inflicted upon an imperial power if a proud people had sufficient grit and faith. It took a British army of a quarter of a million men three years to defeat the Boers, and it cost not only £270 million, exclusive of post-war reconstruction, but also the British reputation for decency and fair play.”
Ek wens my geskiedenisonderwyser kon destyds só gesels.
- Skielik onthou ek die toneel waar Tony Soprano so depressief was toe die eende nie teruggekeer het na sy voorstedelike swembad nie. Maar dit gaan goed, ek maak skoon.
Ek e-pos my Oom Abrie eergister. Hy is by ’n saamtrek oor maniere om jouself te verryk as mens en kaptein van jou toekoms en welstand (“land, ahooi!”), en hy antwoord, tipies, met ’n aanhaling van Leonard Cohen:
Sleep baby, sleep,
the day’s on the run,
the wind in the trees
is talking in tongues.
Maar die volgende dag skryf hy weer, dié keer in sy eie stem:
“Ek het van jou gedroom gisteraand. Ek droom ons kuier by jou huis, maar ons is nog jonk en ek en jou ma bak vetkoeke. Ek dink dit was weens verlange, want die week was vir my nogal uitdagend. Hierdie is nie eende van my dam nie.”
Sterkte, mense. En groetnis!