Dr. Fanie Melani, BPsych, PsyD, DSO, Phd, VC, van Malelane skryf:
Ek neem geruime tyd al met kommer kennis van wat in hierdie rubriek aan die gang is. Vandag stel ek dit prontuit: Dr. Jani is geen berader nie. (Is sy ooit ’n doktor?)
Sondag ná Sondag word hierdie ruimte – en ek neem aan dit is kosbare ruimte in taai tye vir die drukmedia – gewy aan die bisarste gebabbel. Alles onder die vaandel van ’n sogenaamde “troostannie” wat “help”.
Dit is ook onduidelik wat presies die mense se “probleme” is wat inskryf. Hulle skryf nie oor huweliksprobleme of geldprobleme of dwelmprobleme nie. Nee, dis losse waarnemings oor gebeure in Suid-Afrika wat glo veronderstel is om snaaks te wees.
En dan kry dr. Jani dit telkemale reg om wat ook al die “vraag” was, te ignoreer en haar antwoord woeps-waps te muteer in ’n aanhaling uit ’n Bob Dylan-liedjie of ’n boek oor die Eerste Wêreldoorlog.
- Neem byvoorbeeld ’n rympie wat Breyten Breytenbach in 1961 in potlood agterop die sportblad van Le Monde geskribbel het. Dit hou nie verband met enigiets nie, maar dr. Jani lag en sê: “lekker!” en maak dit sommer haar eerste sin.
- Wat van ’n obskure aanhaling uit ’n obskure fliek? “Welkom, welkom, dis heel gepas hier!” giggel sy.
- En ’n flou waarneming oor Springbokrugby of Julius Malema? “Kom, jong, hier is plek vir jou,” glimlag sy teer en tik verder.
Dan is daar “Oom Abrie” om op staat te maak wanneer haar skrywe einde se kant toe staan. (Bestaan hy ooit regtig?) “Oom Abrie” het altyd mos “gister” iets gesê of gedoen wat die geleentheid gee vir nóg ’n aanhaling. En dan is dr. Jani oor die laaste hekkie en op pad na die eindstreep – al wat kort is haar weeklikse belaglike laaste sin.
Sy tik: “Sterkte. En groetnis!”
Dan: File: Save. Send. Nog ’n week verby. Nog ’n klomp twak persklaar.
Sterkte.
Want dr. Jani sál ontmasker word.
Oom Abrie antwoord:
The sweet pretty things are in
bed now, of course
The city fathers, they’re
trying to endorse
The reincarnation of
Paul Revere’s horse
But the town has no need
to be nervous . . .
’Skuus, dr. Fanie. Dr. Jani is uitstedig. Ek hou die fort. Jy maak ’n paar geldige punte, maar klink vir my uitermate kwaad? Hoe so? Wat pla eintlik?
Vrede!