Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vra jouself by stembus: Wie is ons?

Die vraag om te stem of nie, is meer as ’n politieke vraag, skryf Nico Botha. Dis ’n vraag oor identiteit: Wie is ons as Suid-Afrikaners?

Nico Botha

Om te stem of nie te stem nie.

Dít is die vraag waarmee Suid-Afrikaners ’n maand voor die verkiesing worstel. Dié vraag is natuurlik ook ’n belangrike een oor identiteit, maar miskien moet ons eers net bespiegel oor waarom mense dink dit is belangrik om jou stemreg uit te oefen.

Daar is die bekende argument oor hoe lank miljoene Suid-Afrikaners moes wag voordat hulle in ’n ware demokratiese verkiesing kon stem.

Daarby kom ook nog die argument dat sommige met hul lewe betaal het om die demokrasie te laat gedy.

En dalk is dit so dat ’n mens gedagtig aan familielede wat gesterf het in die stryd om dié ideaal verwesenlik te kry - sommige van hulle lê steeds in vreemde lande begrawe - tog maar op 8 Mei in die ry sal staan om te stem as ’n soort afgewaterde verering van sulke geliefdes.

Daar is ook ander motiewe.

Soos byvoorbeeld kiesers wat daarin slaag om hul sinisme oor die politiek in toom te hou en glo dat die party van hul keuse werklik ’n verskil kan maak. Dikwels hoor ’n mens ander verwys na die dringendheid om die meerderheid van die regerende party aansienlik te laat verminder as ’n goeie rede om tog te maar gaan stem.

Nie te lank gelede nie was daar ’n korterige briefie in een van die dagblaaie waar iemand die volgende interessante mening geopper het: Om vanuit ’n breër perspektief na die verkiesing te kyk en te vra hoe en deur wie die belange van die armstes en die behoeftiges die beste verteenwoordig sou kon word.

In ’n land waar daar soveel Christene is, nominaal of toegewyd, is dit dalk nie net ’n pure politieke vraag nie, maar ’n ernstige godsdienstige- of geloofsvraag.

En dié vraag is lank nie op ’n monopolistiese manier een net vir Christene nie, maar vir alle geloofsgemeenskappe in die land.

Gaan alles nie oor dié langs die kantlyn nie?

Sal jy regtig op 8 Mei jou sê kan sê deur ’n kruisie op ’n stembrief te trek? Foto: Argief

As jy dink aan die wonderlike liefdadigheid van Moslems deur die organisasie Gift of the Givers, hoef dit nie te verbaas as baie Moslems saamstem dat dit in die verkiesing oor die belange van agtergeblewenes behoort te gaan nie.

Gelowiges uit die Joodse gemeenskap sou miskien hul heilige boek wou aanhaal waar dit gaan oor hoe God die hulpgeroep van die onderdruktes hoor en tot hul redding kom. Hulle sal wys op die Psalms en die Profete waar God onder andere uitgebeeld word as die God van die armes en die verstotenes en argumenteer dat dit in die verkiesing juis om sulke kategorieë van mense behoort te gaan.

Of is dit suiwere bespiegeling?

Maar selfs al sou hierdie gedagtegang by Christene, Moslems, Jode en aanhangers van ander godsdienste leef, moet die volgende vraag beantwoord word: Watter party in Suid-Afrika staan nog vir sulke waardes?

Hoe word die sameswering tussen die politieke swaargewigte en die korporatiewe elite aan bande gelê?

Moet ’n mens nie eerlik wees deur te aanvaar dat dit in die politiek en in die ekonomie per definisie om eie belang gaan nie?

Maar gewoon ook in terme van ’n soort realpolitiek, kan jy vra watter party het regtig die potensiaal om op ’n progressiewe en outentiek demokratiese wyse die ernstigste uitdagings in die land te oorkom?

Hoe word die sameswering tussen die politieke swaargewigte en die korporatiewe elite aan bande gelê? Is baie van die politici nie maar net surrogate van diegene wat oor die werklike mag in die land beskik nie?

En daarom, as dit so is dat daar “onidentifiseerbare gesiglose” figure hier of in die buiteland is aan wie die land eintlik behoort, vir wie stem ’n mens dan? Oftewel, waarom stem ’n mens dan?

Meer as net ’n politieke vraag

Gaan kiesers ’n beter toekoms vir hulself verseker deur vanjaar te stem? Foto: Argief

Die vraag of ’n mens moet stem of nie, is meer as net ’n politieke vraag. Dit is meer as die argument oor hoe kosbaar ’n mens se stemreg is.

Dis ’n vraag oor identiteit: Wie is ons as Suid-Afrikaners? Is ons regtig so liggelowig en naïef om te dink dat die trek van ’n kruisie ’n duit sal verander aan die krisis waarin die land verkeer?

Of vind ons dit goed om te stem vir mense wat eintlik net hulself verteenwoordig en hul loopbane probeer bevorder?

Uiteindelik sal ons stemreg slegs in waarde toeneem as ons buite die partypolitiek in burgerlike entiteite mobiliseer en organiseer en daardeur al sterker en sterker bydra tot ’n deelnemende demokrasie. Want dit is in hierdie organisasies waar ons op ’n manier aandag kan gee aan die belange van mense wat heeltemal buite spel geplaas is. Om hierdie standpunt te stel, beteken lank nie dat kiesers aangemoedig moet word om van die stembus af weg te bly nie.

Inteendeel, dis nogal pret om gewapen met ’n kleinerige kosmandjie met ’n koeligheidjie daarin, ’n sitding en ’n sambreel op te ruk na die stembus. Partymaal hoor ’n mens wonderlike stories en maak nuwe vriende.

* Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Verkiesing 2019  |  Politici  |  Politieke Partye  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.