Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vrae oor gebruik van vals reklame
Alida Kok

‘Listen to the advert below (it will make your blood boil).”

Dít is ’n uitnodiging wat Radio 702 verlede week op sy webwerf aan lesers van ’n nuusflits gerig het wat handel oor ’n advertensie wat die Apartheidsmuseum bemark en wat deur die advertensiemaatskappy TBWA Hunt Lascaris geskep is. Die klankadvertensie is met ’n goue Loerie vereer op die Loerie-toekenningsgeleentheid vroeër in Augustus.

Die advertensie stel klankgrepe van aanhalings uit toesprake van die voormalige Suid-Afrikaanse eerste minister H.F. Verwoerd en pres. Donald Trump van die VSA gelyk aan mekaar en dra die boodskap oor dat die onverdraagsaamheid en retoriek van die Trump-administrasie vergelyk kan word met die menseregteoortredings wat van Verwoerd afkomstig was.

Die advertensie stel dit dat ’n soortgelyke boosheid as dié van Verwoerd vandag onder ons oë in die vorm van Trump bestaan. In die oudiomateriaal hoor ’n mens hoe Verwoerd onder meer sê: “By now everyone of us has seen practically that blacks cannot rule themselves”, en hoe Trump onder meer sê: “Laziness is a trait in blacks. It really is – I believe that.”

Maar toe kom mense op sosiale media agter dat sommige van die klankgrepe in die advertensie vals is en verkeerdelik toegeskryf word aan Verwoerd en Trump.

Bruce Whitfield het verlede week in sy radioprogram op 702 oor die advertensie gesê: “It’s an extraordinary

piece of advertising. The juxtaposition is so powerful. That has got to be one of the greatest ads we’ve seen produced in South Africa in a long time . . . ”

Sommige kommentators wat hulself in die openbare wêreld van sosiale media as linkse, morele rigtingwysers posisioneer, was gretig om die Apartheidsmuseum-advertensie met hul aanlyn volgelinge te deel en daarop te wys hoe merkwaardig en belangrik dié produksie is, want dit waarsku mense om boosheid uit te lig en uit te skuif.

Maar toe kom mense op sosiale media agter dat sommige van die klankgrepe in die advertensie vals is en verkeerdelik toegeskryf word aan Verwoerd en Trump.

Dit het daartoe gelei dat TBWA Hunt Lascaris die prys wat hy vir die produksie gekry het, teruggegee het. Die advertensiemaatskappy sê hy het ’n “eerlike fout” begaan en nie besef dat sommige van die materiaal wat hy vir die advertensie opgespoor en gebruik het gedokterde klankgrepe is nie. TBWA Hunt Lascaris se uitvoerende hoof het ook in Whitfield se 702-program verskyn om ’n verduideliking namens die advertensiemaatskappy te deel.

Ná afloop daarvan kon ek net een sosialemediakommentator opspoor wat die advertensie oorspronklik met volgelinge gedeel het wat ook met hul aanlyn gehore gedeel het dat die advertensie vals klankgrepe bevat en dat dit vals­hede met waarhede meng en verkeerdelik ’n boodskap in sy geheel as die waarheid oordra.

Morele rigtingwysers op sosiale media het hul ou plasings oor die advertensie stilletjies verwyder of dit net so gelaat. Is dit omdat hulle moontlik redeneer dat die advertensie ’n boodskap oordra wat steeds geldig is, al is die bewyse van die argument in die advertensie nou, per ongeluk, nie die waarheid nie?

Die komplekse tyd waarin ons nou leef, vereis veel meer as dít van ons as gehore.

Ons is veronderstel om te besef dat dit nie so eenvoudig is om een leier en sy ondersteuners as “boos” af te sonder nie – die lyn tussen lig en donker loop deur elkeen van ons – en dat daar iets groots fout is as ons op ’n desperate wyse konkrete bewyse wil manipuleer om argumente te staaf of as ons bereid is om ander wat dit doen te ondersteun.

Kok is ’n dosent in politieke wetenskap aan Unisa.

Meer oor:  Tbwa Hunt Lascaris  |  Alida Kok  |  Haatspraak  |  Rassehaat  |  Reklame  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.