Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vrede met die verlede
Vyftig jaar gelede het die gety teen Amerika begin draai in die oorlog in Viëtnam, veral ná die bloedige gevegte in die ou koloniale hoofstad Huê in 1968.Regs: Twintig jaar gelede was daar 4 miljoen motorfietse in Viëtnam, deesdae is daar 45 miljoen. Viëtnam is een van die snelgroeiendste ekonomieë ter wêreld. Foto’s: Getty Images

Vyftig jaar gelede het Amerika se oorlog met Viëtnam op sy felste gewoed. Tog het dié land sedertdien merkwaardig herstel – en oënskynlik ook berusting gevind. Bun Booyens was daar.

In Hanoi is die motorfietse in eie reg ’n toeriste-skouspel. Daar is meer as 5 miljoen van hulle in die stad. Hulle vleg in swerms deur die strate, sommer aan enige kant van die pad, gelaai met letterlik enigiets – groot bottels water, vars blomme, kratte bier, ’n grafsteen, ’n trapleer, ’n herdershond, vloerplanke, matrasse, ’n gesin van vier.

Die verkeersligte gee eintlik maar net ’n tentatiewe voorstel van wie mag ry. Amper niemand dra ’n valhelm nie, talle mense bestuur met ’n selfoon teen die oor of tik selfs WhatsApp-boodskappe in die ry.

Dís hoe dit lyk wanneer ’n arm land se ekonomie teen meer as 7% per jaar groei. Hierdie 125 cc-motorfietsies het eintlik almal dieselfde bestemming – hulle neem Viëtnam se mense na ’n middelklasbestaan.

Daar is ’n kalmte onder die mense hier, ’n afwesigheid van woede oor die oorloë wat die land oor die afgelope eeu telkens op sy knieë gedwing het.

Twintig jaar gelede was die gemiddelde inkomste hier $100 per persoon per jaar, nou trek hulle al anderkant $2 400.

Te midde van hierdie geskarrel val veral een ding ’n besoeker op: Daar is ’n kalmte onder die mense hier, ’n afwesigheid van woede oor die oorloë wat die land oor die afgelope eeu telkens op sy knieë gedwing het – veral die een teen Amerika van 1965 tot 1975.

Die mense hier is immer hoflik, ook teenoor Westerlinge.

Een middag stap ’n paar van ons deur die stad en verdwaal. ’n Jong man met sy meisie agterop sy motorfiets hou stil en beduie waarheen ons moet mik. Woerts is hy weg.

Ons verdwaal weer en gaan vra rigting in ’n winkeltjie. Hulle verstaan nie ’n woord Engels nie, maar bied dadelik aan dat ons hul telefoon gratis gebruik.

In my twee weke hier sien ek nie ’n enkele voorval van padwoede nie. Op die hoofpad suide toe ry almal opvallend stadig, selde vinniger as 80 km/h.

Niemand probeer ons verneuk nie, en ons sien omtrent nooit ’n kind sonder een van sy ouers by hom nie. Oral sit gesinne – drie geslagte – op klein plastiekstoeltjies op die sypaadjies saam en eet. Ons kom net een bedelaar teë.

Noodwendig wonder jy hoekom Suid-Afrika so sukkel om die gif van sy verlede uit sy gestel te kry?

Jy wonder telkens hoe op aarde ’n land wat só gebrutaliseer is, dit regkry om aan die anderkant van soveel trauma uit te kom met sulke verdraagsame en geduldige mense. En noodwendig wonder jy hoekom Suid-Afrika so sukkel om die gif van sy verlede uit sy gestel te kry?

Twee dae later is ons 700 km verder suid in die pragtige ou koloniale hoofstad Huê.

Ons sit by ’n tafeltjie op die sypaadjie buite die DMZ Bar. Die Huda-bier is koud en die musiek hard, meestal Amerikaanse treffers uit die 1980’s.

Op die afdakkie bo ons is ’n klomp nagemaakte bomme, lewensgroot, amper soos ’n blommerangskikking, met “Demilitarized Zone” in neon daaronder.

“Happy hours!” roep die kelnerin bo die geroesemoes en sit die spyskaart voor ons neer. “Two for price of one!” Ons kies die DMZ-pizza bo die 17th Parallel-seekospizza, maar sê eerder nee vir die B52-drankie (Baileys, Kahlúa en die Franse lemoenlikeur Cointreau).

Dis ’n pragtige aand. Regs vloei die Huong Giang – die Parfuumrivier – so breed soos tien Garieps stadig verby, en aan die oorkantste oewer wapper Viëtnam se rooi vlag hoog bokant die ou koninklike fort- en paleiskompleks.

Dis moeilik om te glo, maar dit is hier waar die langste en bloederigste veldslag van “die Amerikaanse Oorlog” in 1968 losgebars het – die een wat in Stanley Kubrick se fliek Full Metal Jacket uitgebeeld word.

In die 26 dae lange gevegte – huis tot huis, deur tot deur – het 668 soldate van die Amerikaanse alliansie gesneuwel en, afhangend van wie jy glo, tussen 2 400 en 8 000 Viëtkong-vegters, plus nog 5 000 burgerlikes. Die paleiskompleks, wat oor meer as 50 ha strek, is in puin gelê. Jy sien nog koeëlgate in die mure.

En hier sit ons nou in die DMZ Bar en luister na Creedence se “Fortunate Son” en kyk na die eskaders motorfietsies wat verbyswiep.

Een van die ergste vergrype van die oorlog het ook hier in Huê plaasgevind.

Die Viëtkong het amptenare, jong mans en enigiemand wat gelyk het of hulle hul by die Suide skaar, gevang en summier tereggestel. Geskiet, doodgeslaan en selfs lewend begrawe. Landgenoot teen landgenoot. Die dodetal was tussen 2 000 en 4 000.

En hier sit ons nou in die DMZ Bar en luister na Creedence se “Fortunate Son” en kyk na die eskaders motorfietsies wat verbyswiep. Een het ’n omgedopte kruiwa agterop, ’n ander dra ’n vrag teëls, nog ene ’n sakkie sement.

Vanaand word daar iewers aan ’n ekstra vertrek gebou. Hier is nie ’n waglys vir klaargemaakte regeringshuise nie. Jy bou jou eie plek, een sakkie sement op ’n slag.

Die oorlogsmuseum in Ho Tsji Minh-stad (die destydse Saigon) is tipiese staatsdiens.

Buite staan daar ’n Amerikaanse Chinook- en Huey-helikopter, ’n paar vliegtuie, kanonne en ’n tenk. Net die plek vir ’n selfie of ses, blyk dit. Hier is niks interaktief nie, buiten die gefluit van ’n vallende bom wat elke 30 sekondes buite oor ’n luidspreker speel.

Binne is die inligtingstukke meestal in sterk eenpartytaal, maar die foto’s, geskenk deur van die wêreld se voorste oorlogsfotograwe, en die artefakte maak die woorde eintlik oorbodig.

Jy stap verby ’n aanhoudingsel, kompleet met voetboeie en marteltoerusting. Daar is foto’s van die gemartelde krygsgevangenes, party met hul oë uitgesteek, ander met hul hande of voete afgekap.

Daar’s foto’s van ’n Viëtkong-vegter wat lewend uit ’n Amerikaanse helikopter gegooi word.

Daar’s foto’s van ’n Viëtkong-vegter wat lewend uit ’n Amerikaanse helikopter gegooi word; die oorblyfsels van iemand wat op ’n antipersoneelmyn getrap het; van vliegtuie wat Agent Orange oor die digte woude spuit; van genl. Curtis LeMay, hoof van die Amerikaanse lugvleuel, met sy (beweerde) aanhaling “We’ll bomb them back to the Stone Age” daarby.

Of hy dit nou gesê het of nie, teen die einde van die oorlog is meer as 7 miljoen ton bomme op Viëtnam en sy buurlande gegooi – dis drie keer meer as wat hulle in die Tweede Wêreldoorlog op Europa en Asië laat val het.

Effens eenkant in die museum staan ’n stormwaterpyp van beton.

Drie kindertjies het daarin geskuil tydens die My Lai-slagting van 1968, toe Amerikaanse troepe meer as 500 mense – meestal vroue, kinders en bejaardes – in ’n dorpie vermoor het. Die drie kleintjies is opgespoor en in hul skuilplek doodgesteek. Hul ma het later die pyp vir die museum geskenk.

Van die besoekers vat in die verbystap liggies aan die boonste rand van die pyp, amper as ’n troosgebaar. Dis al effens blink gevat.

Drie verdiepings van gewondes, dooies, gemarteldes, skrapnel, modder, bloed en binnegoed. In jou kop hoor jy Marlon Brando se sterwenswoorde as kol. Kurtz in die fliek Apocalypse Now: “The horror. The horror.”

In een hoek van die museum is ’n klein vertrek met kindersketse van die oorlog. Al drie personeellede daar het liggaamsgebreke. Agent Orange, twee geslagte later.

Meer as 58 000 Amerikaanse soldate het in die Viëtnam-oorlog gesneuwel.

Meer as 58 000 Amerikaanse soldate het in die Viëtnam-oorlog gesneuwel.

Die gedenkmuur in Washington is een van min monumente wat die tol van ’n oorlog doeltreffend uitbeeld. Dis ’n strak “wandelgang” met die name van elk van die gesneuweldes in swart graniet uitgekerf, georden volgens die datum. Jy stap vér om aan die einde van die muur uit te kom.

Maar hier is die syfer wat selde genoem word: Viëtnam sou omtrent 50 sulke gedenkmure moes bou om die name van sy nagenoeg 3 miljoen slagoffers (soldate en burgerlikes) in te pas.

Weer: Hoe op aarde kry ’n land en sy mense dit reg om trauma op hierdie skaal te verwerk en aan te beweeg met opvallende lewensblyheid?

En noodwendig dink ’n mens aan Suid-Afrika met sy eie geweldsgeskiedenis. By elke vurk in die pad waar ons aankom, daag die verlede voor ons op.

Viëtnam se mense het op ’n manier berusting gevind. Die oorlog is verby. Op hul 45 miljoen motorfietsies het hulle die verlede ingehaal en verbygesteek.

Booyens is ’n vryskutjoernalis.

Meer oor:  Bun Booyens  |  Viëtnam  |  Soldate  |  Slagting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.