Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vriend en vyand verras oor rand
ekonoom
Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep

Wanneer die Amerikaanse dollar behoorlik versterk, kan ’n mens gewoonlik aanvaar dat die rand, net soos geldeenhede van ander noemenswaardige ontluikende markte, ’n goeie klap gaan kry.

Die afgelope vier weke het Suid-Afrika se geldeenheid egter vriend en vyand verras deur stof in die oë van bykans alle geldeenhede te skop, insluitende die invloedryke dollar. Slegs twee ander geldeenhede kon dit regkry om in Maart teenoor die dollar te versterk: die Indiese roepee en die Mexikaanse peso. Turkye se geldeenheid het die ergste deurgeloop teenoor ’n baie sterk dollar, met ’n depresiasie van meer as 11%. Selfs die euro het swaar geleef met ’n daling van byna 3%.

Biden en dollarsterkte

Dollarsterkte word hoofsaaklik toegeskryf aan pres. Joe Biden se plan om sowat $2,25 duisend miljard aan nuwe of verbeterde infrastruktuur te bestee. Dit is geen verrassing nie, aangesien talle lande (insluitende Suid-Afrika) noodwendig aandag aan verbeterde internetkommunikasie, paaie, treinvervoer en hernieubare energie moet skenk. Vrese onder lede van die Republikeinse Party in Amerika dat Biden belastings gaan verhoog is toe nie ongegrond nie, maar die beoogde skuif in die koers van maatskappybelasting van 21% tot 28% is darem nie te erg nie (dit was vier jaar gelede 35%).

Een van die hoofredes vir die nuutste verstewiging in die rand se waarde is geleë in die rekord-surplus op die handelsbalans wat in die eerste twee maande van 2021 aangeteken is. Die verskil tussen uitvoer en invoer het sedert 2019 ’n ongekende ommeswaai vir Januarie en Februarie beleef – van ’n tekort van R9,4 miljard tot verlede jaar se surplus van R11,40 miljard en nou ’n verhoging van meer as 260% tot ’n vlak van R41,4 miljard.

Toename in beleggersvertroue

Nóg ’n rede is die deurlopende toename in sake- en beleggersvertroue, soos weerspieël in verskeie aanwysers, insluitende die Absa-indeks van aankoopbestuurders in die vervaardigingsektor, wat deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch opgestel word. Dié gesaghebbende aanwyser van sakevertroue het in Maart tot ’n vlak van 57,4 gestyg en is nou reeds vir agt agtereenvolgende maande bo die neutrale vlak van 50, wat die grens tussen uitbreiding en inkrimping verteenwoordig.

Volgens die Noordwes-Universiteit het daar ook gedurende die eerste kwartaal vanjaar ’n verdere verbetering ingetree in die menings van sakeleiers en ekonome oor beleidsekerheid, veral weens tekens dat vordering met die regering se ekonomiese heropbou-en-herstelplan op hande is.

Die omvang van die rand se herstel moet nie geringgeskat word nie. ’n Oorsese belegger wat ’n jaar gelede gelykop in Suid-Afrikaanse langtermyn-staats­effekte en die top-40-aandele op die JSE belê het (in dollar), sou ’n fortuin uit vier verskillende bronne verdien het.

Versterkte rand

Tussen die wisselkoers van die rand wat met 30% versterk het, die kapitaalwins op die Satrix-40 van meer as 47%, ’n opbrengskoers op staatseffekte van net minder as 10% en verskeie maatskappye wat steeds dividende betaal het (veral in mynbou), sou die belegging sowat 60% se wins opgedis het. ’n Randbelegging in die ander rigting sou tot weemoed gelei het.

Die boodskap is duidelik: Raad van fondsbestuurders moet omsigtig beoordeel en meerdere menings behoort onder die loep geneem te word. Sonder behoorlike navorsing kan ’n leeftyd se spaargeld vinnig kwyn.

Twee goue reëls wat nog altyd geld, is geduld en om nie al ’n mens se eiers in een mandjie te plaas nie – iets wat verskillende bateklasse en verskillende lande geld.

  • Dr. Botha is ’n ekonomiese raadgewer by die Optimum-beleggingsgroep.
Meer oor:  Roelof Botha  |  Geldmark  |  Aandele  |  Rand  |  Dollar  |  Finansies  |  Aandelemark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.