Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vriend Fanie is klaar met ANC

Daar kom seker ’n tyd wanneer ’n mens jou trots moet sluk en maar ruiterlik moet erken: Jammer, maar ons het opgeneuk (’n mens sou dalk ’n meer gekruide woord vir opgeneuk hier wou gebruik het).

Dit is veral mense wat in die vrese van die ANC grootgeword het en geen ander politieke party ken nie, wat vandag daardie skuldbelydenis behoort te doen en erken dat die ANC aangejaag het.

Een so iemand is my vriend Fanie Jason, ’n man wat die lief en leed van die ANC in die townships op kamera vasgelê het. Fanie is behoorlik keelvol vir die ANC, wat die ideale van die vryheidstryd verloën en dit vir die spreekwoordelike pot lensiesop verruil het.

Fanie het in die afgelope week op sosiale media onder die ANC ingeklim en die vloer met hulle gevee en hulle amper uitverkopers genoem. Ek verkwalik Fanie nie en voel presies soos hy.

Die olifant van die Suid-Afrikaanse politieke partye het met sy vuil pote die aspirasies en drome van soveel mense vertrap met sy snoete-in-die-trog-politiek, wat nogal vreemd is vir mense wat hul als gegee het vir die ANC. As ’n bevrydingsbeweging was die ANC die onbetwiste fakkeldraer, maar as ’n regering misluk die party skouspelagtig. In akademiese taal sou dit wees: Hulle druip met lof.

Gierigheid en vraatsigheid verlam nie net die ANC nie, maar maak die party dood.

Gierigheid en vraatsigheid verlam nie net die ANC nie, maar maak die party dood. Toe die ANC in 1912 gestig is, was dit om swart Suid-Afrikaners te verenig teen die ongoddelike en mensonterende apartheidsbestel. Daardie grondleggers van die ANC het dit vir die liefde vir Suid-Afrika gedoen. Dis hoekom die Vryheidsmanifes begin met die woorde: Ons, die mense van Suid-Afrika . . . Hierdie stamvaders van die ANC het dit beslis nie gedoen vir selfverryking nie.

Soos Fanie tereg uitwys, indien die ANC ’n struikelblok is vir die vooruitgang en ontwikkeling van ons land en sy mense, moet ons hulle deur ons stembriefie verwyder en na die politieke graf stuur. Ons liefde vir die land kom eerste, vóór die eenheid van die ANC. Die ANC het nagenoeg 1,4 miljoen opbetaalde lede, maar in die vorige verkiesing het 10 miljoen mense hul kruisie agter die naam van die ANC getrek.

Dus is dit nie die opbetaalde lede of ANC-takke wat hulle in beheer hou nie, maar doodgewone kiesers, en dit is húlle wat die ANC ook kan verwyder.

Die ANC is blote rentmeesters van die mense se stemme.

Gevegte van lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het absoluut niks te doen met die vooruitgang en ontwikkeling van Suid-Afrikaners nie. Dit gaan alles hier oor wie besluit watter tenders na wie gaan. Indien die ANC-regering alle Suid-Afrikaners sonder enige bevooroordeling en guns gedien het, sou daar, volgens Fanie, nie ’n geveg vir poste gewees het nie.

Die ANC-kaders wat in die regering is, is allesbehalwe daar om die land te dien, maar eerder om hulself te verryk terwyl die massas werkloos is en in toue moet slaap om te wag op die regering-aalmoese.

Ek, soos Fanie, weier om anderpad te kyk terwyl hierdie land waarvoor ek hartstogtelik lief is, gestroop word deur misdadigers, vermom as vryheidsvegters, wat net hulself en hul naby familie verryk ten koste van die voorheen benadeelde gemeenskappe. Dis mos ’n godskreiende skande dat R500 miljard wat bekom is om ’n dodelike pandemie te bestry, in bankrekenings beland met mense wat ANC-bande het.

Die tyd vir “hou den bek” oor wat verkeerd is in die ANC, is lankal verby. Dis tyd dat ons siedend raak vir hulle en ons Luthuli-huis by die stembus daarvan laat kennis neem.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.

.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Korrupsie  |  Anc  |  Kaders  |  Bedrog  |  Politiek  |  Vraatsigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.