Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vriendinne laat vaar my siel in kalmer waters
Annemarie van der Walt

Die laaste weke was ek so gelukkig om verskeie vriendinne as naweekbesoekers te ontvang, vroue van wie ek sommige byna my lewe lank ken en ander wat ek jare lank nie sien of mee gesels nie en steeds so oorbekend is asof ons mekaar gister nog raakgeloop het.

Oor vrouevriendskappe skryf Toni Morrison, en ek glo dit met hart en siel: “She is a friend of mind. She gather me. The pieces I am, she ­gather them and give them back to me in all the right order.”

Maar wanneer het die tyd so doekvoet op ons hakke begin loop?

Ek sien ons asof ek deur ’n venster na binne loer: Daar lê die leesbrille waarsonder ons nie kan sien na watter musiek ons luister nie; wat nodig is om ’n ander een se kind se kiekie op ’n selfoon te bekyk (“maar hy’s ’n mán, waar is die seuntjie heen?”); en wat waserig raak op die simpelste tye oor die eenvoudigste goed.

Maar ons sien soveel meer as in ons jonger dae: Hoe fyn gekaart pyn en verlies en droefnis om ons mondhoeke lê; hoe diep die lagplooie van vreugde en verkneukeling. Ons merk ’n ander se onbewaakte oomblikke en slaan die oë met respek daarvoor af, en het eerbied vir die reguit en vrees­lose kyk wanneer ons oor ons mislukkings en tekorte en spyt gesels.

Uit die hoek van my oog sien ek hoe elkeen van ons geduldig meeleef met ons lywe waarvan die ligvoetse gang verstadig het. Iemand versterk haar greep op die tafelblad met die opstaan, ’n ander meet ’n hoë treetjie met ’n ervare oog, en as ons in die veld gaan stap, maak ons stilweg seker van elke vastrap.

The pieces I am, she ­gather them and give them back to me in all the right order.

Ons lywe het ook sagter geword, die hoekigheid daarvan weggeslyt deur kinders op ons heupe en skote en minnaars se strelende hande; ons vryf oor die kreukels van ons elmboë en stryk soms ingedagte oor die kalkoenerigheid van ons nekke.

In teenstelling daarmee is die gesprekke vlugvoetig, soepel en soms keihard.

Van geen onderwerp word weggeskram nie, niks is te heilig nie, die doofpot bly leeg. Ons dartel tussen skool­stelsels, die etimologie van woorde, die politiek en God en die ewigheid asof ons die wêreld se wysheid in pag het en soms glo ons dit selfs.

Ons lag uit ons mae en ons huil ook met oorgawe, want ons is oud genoeg om deel te wees van die Scar Clan, soos Clarissa Pinkola Estés dit noem in haar boek Women Who Run with the Wolves:

“Weeping creates a river around the boat that carries your soul-life (. . .) For women, tears are the beginning of initiation into the Scar Clan, that timeless tribe of women of all colors, all nations, all languages, who down through the ages have lived through a great something (. . .).

En wanneer die vriendinne vertrek en ek opruim, is dit asof my siel in kalmer waters vaar; ek opnuut vrede het met elke litteken; en ál my stukke héél vir my teruggegee is.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Vriende  |  Rubrieke  |  Vriendskap  |  Ondersteuning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.