Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vroue is God se heldinne – vereer hulle

Verlede Sondag deel ’n paartjie wat albei hul bene in ’n ongeluk verloor het, hul reis met God met die gemeente.

Ek probeer my voorstel die trauma van so ’n gebeurtenis en die uitwerking op hul geestelike, emosionele, fisieke en gesinslewe.

Tog hoor ek geen bitterheid, woede, haat of vergeldingsdrang nie. Hulle is positief, gelowig en vol energie.

Sy maak dit duidelik dat sy nog steeds trots is daarop om vrou te wees. Ten spyte van hul spesifieke uitdagings, doen hulle met soveel oorgawe wat hul moet doen.

Ek dink vandag aan baie vroue wat in moeilike huweliks- en huislike omstandighede hul moederlike en vroulike verantwoordelikhede nakom. Vroue wat gebuk gaan onder emosionele, fisieke en verbale misbruik, maar hul kop lig en die lewe vierkantig in die oë kyk. Vroue wat in ongelukkige huwelike en verhoudings aanbly bloot uit plig en besorgdheid oor wat van hul kinders gaan word.

Vroue wat hul eie geluk uitstel of opoffer bloot omdat die samelewing dit nie vir hulle gun nie, want tradisie, gewoonte, konserwatisme en selfs godsdienstige leringe moet mos gerespekteer en behou word.

Baie mense oordeel en sê dat vroue slagoffer speel en eerder moet opstaan en vir hul regte, menswaardigheid en geluk moet terugbaklei.

Vroue wat ten spyte van etikettering en stigmatisering voortgaan om as burgers hul rol in die samelewing te speel.

Baie mense oordeel en sê dat vroue slagoffer speel en eerder moet opstaan en vir hul regte, menswaardigheid en geluk moet terugbaklei. Maar ander mense se boeke is soms meer duister as wat ons dink.

Ek dink nie daar is ’n vrou wat verkies om in ’n slegte verhouding of huwelik te bly nie. Dalk wag hulle vir die regte oomblik, op ondersteuning, sekerheid of oortuiging om wel ’n einde aan hul ongelukkige omstandighede te maak. Wie is ons om te oordeel wanneer dit die regte tyd is, of om die rede hoekom hulle bly, te bevraagteken?

Vroue is meer wat ons oog sien, ons verstand verklaar, ons hulle toedig, ons oor hulle kwytraak, spot en skryf, en wat ons ooit oor hulle kan droom. Vroue is heldinne van ons samelewings, gesinne en instellings.

Vroue is ook God se heldinne. Hy het immers ’n vrou gekies om die lewe te skenk. Dit was ’n vrou wat Jesus gesalf het, dit ten aanskoue van mans met hul kritiek en oordeel.

Die Here het vroue gekies om die boodskap van die opstanding aan sy dissipels en die wêreld te gaan verkondig (Matteus 28:7). Dit nogal in ’n tyd toe die getuienis van vroue nie ernstig opgeneem was nie.

Dit was vrouehelde wat op 9 Augustus 1956 teen die apartheidswette geprotesteer het, en bygedra het dat vroue op Vrouedag vereer word. Vroue is heldinne wat vereer moet word. Hulle verdien ons respek, bewondering en menswaardige behandeling.

  • Dr. Katts is voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.
Meer oor:  Donald Katts  |  Vroue  |  Verlam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.