Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vroue is mans vandag met ’n kortkop voor

Met verlede maand se fokus op vroue, het ek gedink dit is dalk heel gepas om bestekopname te maak van wat vroue al op die gebied van sport bereik het, skryf MC Botha.

Voorheen was dit net manlike rugbyspelers beskore om na die sterre te reik. Foto: MC Botha

Tradisionele mansportsoorte soos rugby, krieket, sokker, rofstoei en boks is lankal nie meer net die domein van hardebaarde nie, maar ook van die skoner geslag.

Hoekom daar in die eerste plek vroue is wat wil boks sal ek nooit verstaan nie, seker omdat ék in die eerste plek ’n man is.

Dan maar liewer sokker.

Gelukkig was die Wêreldbeker-sokkertoernooi vir vroue aan die gang gedurende die onlangse Wêreldbeker-kriekettoernooi vir mans toe die Proteas hul vroulike kant gewys het en nie die manlike kant wat jy in die manlike weergawe van die spel benodig om hond haaraf te maak nie – dus het ek liewer vrouesokker op TV gekyk as sogenaamde manskrieket.

En wat ’n aangename verrassing het my nie te beurt geval nie. Op die sokkerveld is vroue net so vlugvoetig as hul manlike eweknieë en hulle gee net so veel uiting aan emosies deur mekaar te omhels en selfs bo-op mekaar te spring wanneer ’n doel aangeteken word.

Sommige vrouespelers se arms is ook uitvoerig getatoeëer, maar wat my nog meer laat gril is dat hulle elke nou en dan verontwaardig spoeg – ’n gewoonte wat hulle natuurlik by manspelers aangeleer het. Dalk is ek oorsensitief – vir al wat ek weet, is daar mans of ander gendertipes wat allerhande fantasieë optower deur spoegende vroue in sokkerstewels af te loer.

Die sokkerveld is nie net meer ’n manlike domein nie. Foto: MC Botha

’n Sportsoort wat voorheen uitsluitlik vir mans gereserveer was – dermate dat vroue nie eens die klubhuis kon betree nie – te wel krieket, wen deesdae soveel veld by sportlustige vroue dat selfs meisies op skool die hand aan die krieketkolf slaan.

Soos almal op TV kan sien, kom kolwers – manlik of vroulik – altyd na die kolfkampie aangestap in toepaslike mondering om hulle teen harde krieketballe te beskerm, soos beenskutte, handskoene en ’n kopskerm.

’n Bykomende beskermmiddel by manlike spelers staan bekend as ’n boks – ’n harde soort steunstuk in die vorm van ’n hart wat oor die kroonjuwele geplaas word ter voorbereiding van ’n moontlike totale aanslag deur die bouler.

Verdere vordering op die pad na totale gelykheid is die onlangse aankondiging van Wêreldrugby dat daar voortaan slegs van die Wêreldbeker-toernooi gepraat sal word, of dit nou mans óf vroue is wat om die beker meeding. Dié verskynsel staan as “gender-neutraal” bekend.

Heimlik het ek al gewonder of vroulike krieketspelers mans ook in dié opsig na-aap. Hoewel die boks ’n uiters private deel van die manlike krieketspeler se toerusting uitmaak, is dit ondenkbaar dat vroue nog nie daarvan te hore sou kom nie, al het hulle miskien nog nie een in die hand gehou nie.

Laat ons maar veilig speel en nie te diep op die saak ingaan nie.

Dan is daar die kwessie van geld. Vrouetennisspelers was van die eerste vroue om in ’n sportsoort wat tradisioneel deur mans en vroue beoefen word, te kla dat hulle nie op dieselfde skaal as manspelers vergoed word nie. Die mans-enkelspelkampioen op Wimbledon sou byvoorbeeld meer verdien as die vrouekampioen.

Vandag verdien albei egter dieselfde – in die jongste geval in Julie meer as R40 miljoen elk. Nugter weet egter waar hierdie gelykberegtiging vandaan kom as in ag geneem word dat mans baie meer moet uithaal om te wen, want elke wedstryd word beslis op die basis van die beste uit vyf stelle, teenoor vroue se slegs drie.

Om ’n anglisisme te gebruik: soos nog nooit vantevore nie betaal dit vandag om ’n vrou te wees.

Verdere vordering op die pad na totale gelykheid is die onlangse aankondiging van Wêreldrugby dat daar voortaan slegs van die Wêreldbeker-toernooi gepraat sal word, of dit nou mans óf vroue is wat om die beker meeding. Dié verskynsel staan as “gender-neutraal” bekend.

Solank beamptes net voor die tyd seker maak dat die spelers wat vir ’n wedstryd op die veld uitdraf op die oog af dieselfde geslag het, en los maar die testosteroonvlakke vir later.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. Dié rubriek het vroeër in Hermanus Times verskyn. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Wêreldbeker-Toernooi  |  Mc Botha  |  Sokker  |  Rugby  |  Sport  |  Krieket  |  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.