Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vroue moet dié muilband self afpluk

Die VF Plus het vandeesweek in ’n mediaverklaring aangevoer dat vroue in Suid-Afrika ná eeue steeds gemuilband word.

Jeanelle Greyling

Die departement vir vroue, jeugdiges en gestremdes ontvang immers die kleinste begroting van alle departemente en bestee 57% van sy begroting aan salarisse. Dit skep ’n donker prentjie van hoe min geld oorbly om vrouesake te bevorder.

Pres. Cyril Ramaphosa word boonop deur sommige gekritiseer vir sy besluit om Maite Nkoana-Mashabane as die minister van dié portefeulje aan te stel.

Daar is min vertroue dat dié ondersteuner van oudpres. Jacob Zuma – selfs toe hy van verkragting beskuldig is – geslagstransformasie sal bewerkstellig.

Suid-Afrika is self nie voor in die koor as dit by vroueregte kom nie, maar dit is wêreldwyd steeds ’n probleem.

Vroue oor die wêreld heen word steeds onderverteenwoordig in hoëvlak- en hoog betalende poste. ’n Onlangse verslag van die Wêreld- Ekonomiese Forum toon dat selfs die vroue in Finland – een van die lande met die grootste geslagsgelykheid – oor ongelyke vergoeding kla.

Aborsie is eers in Mei verlede jaar in Ierland gewettig. Meer as 30% van sy burgers voel steeds aborsie moet onwettig wees. Trouens, sowat 10 000 kampvegters het vandeesweek in Dublin opgeruk om teen die wettiging daarvan te protesteer.

In Amerika beperk al hoe meer state aborsie deur strenger wetgewing af te dwing. Dié land het ook vir Donald Trump as president verkies ondanks sy seksistiese opmerkings en gedrag.

Die silwer randjie is dat daar wêreldwyd ’n oplewing in die dialoog oor geslagsgelykheid is.

Al hoe meer sterk, vreeslose vroue roer kwessies aan waaroor niemand wil praat nie.

Die Australiese skerpskertser Hannah Gadsby het byvoorbeeld in 2017 die vertoning Nanette geskep – deels in reaksie op die skokkende openbare debat oor gay huwelike in Australië.

Die reis na geslagsgelykheid is ’n opdraande pad, maar ons het meer vreeslose vroue nodig om die status quo uit te daag.

Gadsby, ’n lesbiër wat onlangs met aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom en outisme gediagnoseer is, het onder meer inspirasie uit haar eie lewe geput. Sy het internasionale roem verwerf nadat Netflix verlede jaar die fliekweergawe van die vertoning versprei het.

Die sanger Amanda Palmer is nog ’n vreeslose vrou wat taboe-kwessies soos aborsie, miskrame en die dood takel op haar nuutste album, “There Will Be No Intermission”.

In Suid-Afrika dink ’n mens dadelik aan adv. Thuli Madonsela as ’n voorbeeld van ’n sterk vrou. Ondanks intimidasie het dié voormalige openbare beskermer skokfeite oor staatska­ping en korrupsie onthul.

En al is Brett Kavanaugh – ondanks Christine Blasey Ford se beskuldiging dat hy haar as tiener seksueel aangerand het – as ’n regter van Amerika se hoogste hof aangestel, is Ford se skokgetuienis nog vars in die geheue.

Die reis na geslagsgelykheid is ’n opdraande pad, maar ons het meer vreeslose vroue nodig om die status quo uit te daag.

Die kans is groot dat ons, soos Ford, nie dadelik die vrugte gaan pluk nie. Maar deur bloot stil te bly, maak ons seker ons bly gemuilband.

Geslagsgelykheid kan slegs bereik word as vroue hul waarheid uiter en eer, aldus Madonsela.

  • Greyling is redakteur van Metro-Beeld-Suid.
Meer oor:  Jeanelle Greyling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.