Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vrouedag gaan oor haar én háár; ook háár

Oral sal jy dit sien, mits jy dit wíl sien. Hulle.

Ry jy die binneland in van die Kaap af, sê maar, sal jy dit op die koerantplakkaat teen die lamppaal in die Paarl sien: “Verkragte boervrou: ‘Hulle sal my siel nie steel nie’ ”. Een van die meer as 80 000 verkragtings wat jaarliks by die polisie aangemeld is.

Dana Snyman

Naby De Doorns beland jy dalk agter ’n vragmotor met ’n klomp mense agterop. Tussen hulle, sal jy merk, is jong vroue uit Zimbabwe en die Oos-Kaap, saamgebondel in die wind, op pad om druiwe in die wingerde te gaan pluk, om geld terug huis toe te stuur om ’n kind of ’n familielid aan die lewe te help hou.

En daardie meisie agter die toonbank in die kafee op Touwsrivier sorg alleen vir haar tweejarige seuntjie, as jy dit dalk nie weet nie. Die pa van die kind sonder hoop en werkloos iewers in ’n sjebien of op ’n voosgesitte rusbank, besig om vir die soveelste keer na Fast & Furious 6 op DVD te kyk.

En die vrolike tannie Poppie wat oorkant die Shell op Touwsrivier roosterkoeke met ’n kaal hand van die kole lig en omdraai, bak nie roosterkoek om op Kwêla te verskyn nie. Met die roosterkoekgeld sorg en versorg sy. Oral sien jy die ouer vroue: Geboë oor ’n vuur op ’n sypaadjie, besig om roosterkoek of vetkoek te bak, of mielies te braai om geld te verdien wat hulle meer op ander as hulself bestee. Op straathoeke sit hulle agter ’n tafeltjie, geprakseer uit ’n stuk plank en ’n omgekeerde bierkrat, en verkoop ’n paar tamaties, piesangs en sakkies grondboontjies.

Oumas, jong vroue en meisies met bondels hout op die kop, in die veld en langs die pad, naby elke dorp en stad. Elke dag.

En daardie padstal in die middel van die Karoo, ’n deli waar jy cappuccino, springbok-carpaccio en drie verskillende soorte pesto, alles selfgemaak, kan koop, word bedryf deur die vrou van ’n plaasboer wat besef het hulle gaan die plaas verloor as sy nie ook iets doen nie.

Hulle is besig om mielies te braai om geld te verdien wat hulle meer op ander as hulself bestee.

Buite Hanover sien jy haar, die vrou in die swart rompie en die rooi hakskoene, uit ’n lorrie klim, met die drie R100-note wat die lorrie se bevredigde bestuurder vir haar gegee het, by haar bra ingedruk. Haar bitter brood pas verdien.

By die tafels by skole en op die oop stuk grond agter die Spar sien jy hulle, altyd vroue eerder as mans, deel van ’n voedselhulpskema, besig om kos voor te berei en in te skep vir dié wat honger is. Jy ry verby nog ’n koerantplakkaat: “Swanger vrou geskiet.”

Jy sien hulle in Toyota Fortuners ry, twee kinders op die agtersitplek, met oorfone in die ore – die een wat die huishouding aan die gang hou, ook wanneer haar man en sy pelle in die Bosveld gaan jag of by Henties gaan visvang.

Hulle, die vroue, dié wat dikwels moet stilbly en binnetoe huil, die wat sorg en versorg. Baie van hulle al in die graf, soos my ma, Sara Johanna Josina Snyman, wat alles moontlik gemaak en soveel vir my opgeoffer het, sonder om iets terug te verwag.

Vrouedag, môre, gaan oor hulle.

Meer oor:  Vroue  |  Misdaad  |  Verkragting  |  Vrouedag  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.