Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vrouedag, maar als nog dieselfde

Sondag was Vrouedag en die Sondagkoerante was vol artikels wat vroue se prestasies vier.

Amanda Gouws
Prof. Amanda Gouws Foto: Verskaf

Ek het pragtige, inspirerende meme gekry oor hoe sterk, hoe braaf en hoe begaaf vroue is. Alles in ag genome sou die dag tekort geskiet het as daar nie ook die meem oor “Now that you have touched the women, you have struck a rock” was nie, kompleet met ’n tekening in strak Russiese styl van ’n vrou met ’n gebalde vuis in die lig.

(Dit kom wel die naaste aan die oorspronklike betekenis van Vrouedag, wat die opmars in 1956 van amper 20 000 vroue na die Uniegebou herdenk. Die doel van die optog was om aan te dring op regte vir vroue.)

My dogter het na die meem gekyk en gesê: “Jip, ek het dit verlede jaar ook gekry”. Déjà vu. Niks verander nie.

Op Vrouedag gaan ek Exclusive Books toe. Die eerste boek wat my oog vang, is Femicide in South Africa deur Nechama Brodie.

Ek koop die boek omdat dit vir my meer sê oor die agtergrond waarteen ons Vrouedag vier as al die meme met die blommetjies en die glimlaggies.

Brodie maak ’n baie belangrike punt oor die media. Daar sterf ongeveer agt vroue per dag in Suid-Afrika, maar hoe dit gerapporteer word, wys wie se lewens belangrik en nuuswaardig is. Wat ons oor vroue se dood skryf, is ’n weerspieëling van hoe ons oor hulle dink terwyl hulle lewe, voer sy aan.

“Femicide” (wanneer ’n vrou deur iemand met wie sy in ’n verhouding is doodgemaak word) is nie net ’n probleem in Suid-Afrika nie.

In die advertensie demonstreer ’n vrou hoe diep jy die tampon moet insit om dit nie te voel nie. Dit doen sy deur die tampon in haar gebalde vuis in te sit.

Verlede week was daar massa-protesoptrede deur vroue in Istanbul, Turkye, nadat ’n student daar deur haar vriend vermoor is. Die polisie het blokkades opgestel en van die vroue is in hegtenis geneem en aangerand.

Die vroue het aangedring op die implementering van die Istanbul-konvensie, wat maatreëls teen geweld bevat. Dit is al in 2014 onderteken, maar nog nie geïmplementeer nie.

In Mexiko, waar nege vroue per dag sterf, was daar ook protesoptogte deur vroue. Dit is ’n wêreldwye krisis.

Hoe ons oor vroue dink terwyl hulle lewe, word goed geïllustreer deur ’n omstrede Tampax-advertensie in Ierland met die titel “Tampons and Tea”.

In die advertensie demonstreer ’n vrou hoe diep jy die tampon moet insit om dit nie te voel nie. Dit doen sy deur die tampon in haar gebalde vuis in te sit. Só erg was die protes daarteen omdat dit kwansuis seksueel eksplisiet is, dat dit van die lug gehaal is.

Ciara Kelly, ’n Ierse omroeper, het sterk te velde getrek teen die onttrekking van die advertensie deur te sê dat vroue elke dag met hul vagina leef. Dit is soos om ’n elmboog te hê en dit is nie ’n vroulike perspektief om daaraan te dink as iets wat net seksueel is nie.

In 1978 het Gloria Steinem ’n satiriese artikel geskryf met die titel “If Men Could Menstruate”. Hierin het sy die punt gemaak dat as dit wel die geval sou wees, dit as benydenswaardig beskou sou word.

Die regering sou sanitêre doekies finansier en dit sou gratis versprei word. Groot bedrae geld sou beskikbaar gestel word vir navorsing om menstruasie minder pynlik te maak, en sommige mans sou spog oor hoeveel bloed hulle elke maand verloor.

Vroue sou slegs in die weermag toegelaat word as hulle hulself elke maand ’n diep wond toedien omdat hulle nie kan menstrueer nie.

Snaaks, ja, maar die feit dat vroue moet veg om ingelig te word oor hoe om ’n tampon te gebruik of aangerand word as hulle protesteer teen geweld teen vroue, sê iets van die status van vroue wêreldwyd.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Geweld Teen Vroue  |  Vrouedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.