Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vrouekarakters waardige houers van plek in heldeakker

Heindrich Wyngaard kyk na die raakpunte tussen die vroulike hoofkarakters in die pas bekroonde Afrikaanse flieks Fiela se kind, Die verhaal van Racheltjie de Beer en Poppie Nongena.

Dit handel immers al drie oor moederskap en oor heldestatus: ofskoon in gans ander omstandighede, wel in dieselfde taal – Afrikaans, hul tongvalle opvallend divers; en indien die kwessie van velkleur enigsins van belang is: een karakter is bruin, een wit, die ander een swart.

Netwerk24 se berig “Safta: Fiela, Racheltjie en Poppie dra Afrikaanse kroon”, deel lesers mee dat Racheltjie die ontvanger was van die pryse vir beste rolprentfotografie, klankontwerp en oorspronklike klankbaan, dat Fiela die prys vir beste rolprent en beste draaiboek gewen het en dat Clemen­tine Mosimane vereer is as beste aktrise vir haar uitbeelding van Poppie met Anna-Mart van der Merwe as beste vroulike byspeler vir haar rol in dieselfde rolprent.

Jy herinner jouself daaraan dat al drie verhale oorspronklik in drukvorm verskyn het, te wete as die romans Die Swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert (1978) en Fiela se kind deur Dalene Matthee (1985), terwyl ’n tydskrifverhaal oor Racheltjiedeur Eugène Marais in 1921 in die vrouetydskrif Die Boerevrou verskyn het.

Ons ken die verhale goed.

Die eerste is dié van die vrou wat aan ons bekend geword het as Poppie Rachel Nongena, gebore Matati. Fiktiewe name. Die identiteit van die karakters moes beskerm word – spesifiek om die destydse verdrukkende staatsmasjinerie te systap. Dit is die verhaal van een gesin se belewenis van byna vier dekades se “politieke en sosiale gebeure”, soos deur plattelandse, stedelike en hervestigde swart mense ervaar.

Hierin verweef is die stryd om aan die destydse wetlike voorskrifte oor dié mense se bewegings en werksgeleenthede, oor groepsgebiede en rasseklassifikasie te voldoen. En ’n ma wat ver van haar gesin werk en vandaar af steeds na hulle moet omsien, terwyl sy lojaal haar (in dié geval) geliefde madam se huiswerk doen.

Dit is die treffende eenvoud van die openingsin van die boek wat vir die langdurigste bybly-oomblik sorg: “Ons is Gordonia-boorlinge, sê Poppie.”

Ook die openingsin in Fiela – ’n rol wat deur Zenobia Kloppers in die 2019-fliek so ég soos Shaleen Surtie-Richards in die eerste fliekweergawe van 1988 vertolk word – is meesleurend: “Die dag toe die kind weggeraak het,” skryf Matthee, “het die mis vroeg begin toetrek en teen halfdag was dit of die Bos onder ’n digte wit wolk lê.”

Hier woon en werk (wit) Elias van Rooyen en sy gesin, onder wie sy vrou Berta, en die driejarige Lukas wat op ‘n dag wegraak; aan die ander kant van die berg verskyn ’n driejarige seun, huilend, een nag voor die deur van (bruin) Fiela Komoetie en háár gesin.

Die kind is deur die Here in haar sorg geplaas, glo sy – en sy het hom Benjamin genoem.

Maar die wit magistraat wou daar niks van weet nie en Benjamin het terug by die Van Rooyens weer Lukas geword. Die enigste vertroosting waaraan Fiela nou kon vasklou, is hierdie woorde: “God vergewe ons baie dinge, Baas, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie.”

In die geval van Racheltjie – in die fliek oortuigend deur Zonika de Vries vertolk – was sy ’n kind wat ná die dood van haar ma ’n moedersrol moes aanneem – en dit te midde van haar pa wat rou (en sy róú, verwytende woede). “Braaf,” is die woord wat De Vries gebruik om Racheltjie te beskryf; haar braafheid is dan straks wat die letterkundige skepping van dié karakter meegebring het.

God vergewe ons baie dinge, Baas, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie.

’n Mens trap hier versigtig nadat navorsing deur die joernaliste G. Olwagen en Leo Kritzinger aan die lig gebring het dat geen bevestiging in die De Beers-geslagsregisters gevind kon word van Racheltjie se bestaan nie. Haar verhaal – van die jong dogter wat haar broertjie se lewe gered het deur hom gedurende ’n sneeustorm in ’n miershoop te versteek en haar klere uit te trek om hom verder teen die dodelike koue te beskerm – toon wel sterk ooreenkomste met dié van ’n Amerikaanse kinderheld, Hazel Miner, vertel Olwagen en Kritzinger in Oktober 2012 se By.

Dit dui egter nie op plagiaat deur Marais nie, aldus die twee navorsers, omdat die storielyne anders is. “Na letter en gees”, het hulle bygevoeg, is dit egter wel ’n “afspieëling” van Miner se verhaal.

Nogtans beklee Racheltjie, soos Poppie en Fiela, ’n plek in die heldeakker van Afrikaanse vroue. “Die Afrikanervolk het so min heldinne gehad en niemand sou dit beter geweet het as Marais self nie,” skryf Olwagen in Julie verlede jaar.

Fiela

Hare bly egter die verhaal – ’n gebrek aan Afrikanervolkshelde tersyde – van ’n “selfopofferende liefdesdaad” waaruit enige “volk” inspirasie behoort te put, soos wat ook die geval is met die “selfopofferende liefdesdaad” van Fiela Komoetie en Poppie Nongena.

In al drie gevalle het ons ook te make met temas wat letterkundiges onder meer beskryf as “miteskepping” (mitologisering), stories oor onsself wat ons aan onsself vertel, uitreik na ander, simbole van spesifieke tydperke – en nie een van die verhale is werklik ’n aparte Afrikaanse storie nie.

Neem nou maar “die lang aanloop” wat Die swerfjare van Poppie Nongena vir Joubert gehad het: “Asof my rondreise in my land, my insameling van feite en indrukke ( . . .),” vertel sy, “slegs voorbereiding was vir die dag toe Eunice Ntsatha na my sou kom om haar hart uit te stort ( . . .).”

Dié aanhaling verskyn aan die begin van die hoofstuk oor Poppie in Reisiger, die tweede volume van Joubert se outobiografie. Jy lees daarin hoedat die boek met lang sessies gesprekke tussen die skrywer en haar huiswerker gestalte begin kry het, op band opgeneem, drie oggende per week, onderbreek deur rustyd vir tee. “Dit gaan maar hortend, die vertel is wydlopend, deurmekaar, met baie afdraaipaaie ( . . .) Maar dis eers toe Ma Lena [Poppie se ma] op ’n Saterdagoggend opdaag en gaan sit by die tafel en haar arms op die tafel laat rus en in ’n plat stem sê, ons is Gordonia-boorlinge, dat ek geweet het: So begin my boek.”

Dit was Januarie 1977 dat Joubert daaraan begin werk het, in Mei 1978 het sy die manuskrip aan haar uitgewer Danie van Niekerk gelewer; einde 1978 verskyn die boek – en dit blyk toe “die regte boek op die regte tyd te wees”.

Groot sukses volg, blootstelling vir die skrywer op allerlei platforms, plaaslik en internasionaal; intellektuele diskoers oor die boek heers op Stellenbosch tussen professore aan verskillende kante van die spektrum; een, twee, drie herdrukke, én meer: Poppie word op die planke gebring, aanvanklik slegs met wit rolbesetting, “net ’n kopdoek dui aan dat die spelers swart mense voorstel”, onthou Joubert; en slegs wit gehore.

Oor die onderneming van ’n Amerikaanse agent dat hy (die swart aktrise) Whoopi Goldberg vir die rol van Poppie in ’n fliekweergawe sou huur, was die skrywer opgewonde, maar twee dekades se onderhandelings later was daar nog geen fliek gemaak nie.

Die wyse waarop Clementine Mosimane nou in Christiaan Olwagen se Poppie-fliek aan dié karakter lewe gee, sou die ware Poppie – Ntombizodumo Eunice Ntsatha gedoop – met genoegdoening een van haar gunsteling-koorliedere laat sing het in die “vaal sinkdak-goewermentshuisie” in Khayeli­tsha, waaruit sy in Mei 1992 begrawe is.

Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  By  |  Poppie Nongena
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.