Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vrouemaand: Nie mag nie, maar wysheid
Christina Landman
Christina Landman

Asem in, asem uit. Dis die nuwe normaal.

Oftewel, die nuwe hoop om normaal te bly. Dít lees ek nou die dag in Covid-19 in Women’s Voices. Die boek is geskryf deur Afrika se vroue-teoloë, die Circle of Concerned African Women Theologians.

Wie op aarde is hulle, sal julle seker vra. Dit is nogal hartseer dat min mense hier van hulle weet. Meer as 30 jaar gelede, in 1989, het Afrika se vroue-teoloë hierdie sirkel in Akkra, Ghana, gestig. Die meeste van hierdie 80 Afrika-vroue het doktorsgrade in teologie gehad en hulle het nou al tot oor die 400 aangegroei. Elke vyf jaar of so kom hulle in ’n stad in Afrika byeen vir ’n Pan-Afrika-kongres: Addis Abeba (2002), Yaoundé, Kameroen (2006), Kempton Park (2013) hier by ons. En in 2019 in Gaborone, Botswana, om hul 30 jaar van bestaan te vier.

Ek was ’n stigterslid en het die kongresse almal kon bywoon. Ek sê dit nie om groot te praat nie, maar om te kan sê dat ek hul werk ken.

En omdat ek hul werk ken, kan ek sê: Dit gaan by vroue nie oor mag nie, maar dat hul wysheid gehoor sal word. Want dis goed vir die samelewing om vroue se wysheid te hoor. Wanneer ons na vroue se stemme luister, hoor ons die gemeenskap se pyn – en begin ons die pad daaruit te sien. Dis hoekom ons ’n Vrouemaand het – om weer aan vroue se wysheid herinner te word.

En toe gaan sy sit – en haal asem. In. En uit.

Die Covid-19-boek is die sirkel se nuutste. Dis nie “stories uit suburbia” waarvan vroue-teologie gewoonlik beskuldig word nie. Dis verhale van regtige diep pyn. Een verhaal daarin is dié van ’n ma wat tydens die inperking uitvind albei haar tienerdogters is by hul tienerboetie swanger. Dit kom daarvan dat sy moet gaan werk en hulle in die huis moet toesluit. En dis maar een verhaal uit baie.

Maar die storie wat my die meeste aangegryp het, is geskryf deur ’n dominee, Nokuthula Dhladhla. Tussen haar werk en haar akademiese studie kom die Covid-19-generasie by haar aan: met angs, depressie, wonde en pyn. Sy kan self later nie meer nie. Later word sy, die dominee, self bang vir die lewe wat gou en eensaam van jou weggevat word. Later het sy nie meer begrafnis-woorde nie. Later het sy nie meer woorde vir die woordelose vrae van verslae mense nie. Met al die pyn en uitroepe van wanhopigheid om haar wil haar kop saans nie ophou werk nie; haar hart wil nie ophou kommer nie.

En toe gaan sy sit – en haal asem. In. En uit.

Sonder om oor die volgende stap te dink. Sonder om haarself te oordeel oor die onbeantwoorde vrae, die aanhoudende begrafnisse waar almal nie toegelaat word nie. Waar niemand ordentlik mag huil en mekaar kan vashou nie.

Ek dink vandag aan die dominees, die pastore, die priesters en imams wat nie ondersteuning en beskerming kry nie. Vier begrafnisse op ’n dag – en net ’n toga en ’n masker wat jou teen Covid-19 beskerm. Geen spesiale inentings. Geen openbare lofprysings nie. Net meer en meer dominees wat self begrawe word.

Asem in. Asem uit. Dit klink nie na ’n groot wysheid nie. Maar dit is. Luister tog na hierdie vrou se wysheid: “Be gentle, kind and patient with yourself.”

Asem in. Asem uit. En so bid die ouderling in die konsistorie: “Dankie vir die genadekans om nog asem te kan haal.”

Daar het jy dit.

Meer oor:  Christina Landman  |  Vryheid  |  Vrouemaand  |  Mag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.