Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vryburger: En stééds klou die openbare beskadiger
vryburger

Die openbare beskadiger, Busisiwe Mkhwebane, wil niks weet van haar pos ontruim nie.

God het haar daar aangestel, en net God kan haar daar verwyder, predik sy.

Synde oudpres. Jacob Zuma haar aangestel het, sal hy dalk bly wees om te hoor iemand reken nog hý is Nommer Een.

Dis nou natuurlik bo en behalwe die oud-dominee Carl Niehaus, wat oor die dood van sy eie ma gelieg het, en by die Zondo-kommissie van die berg afgekom het met die gebod dat Zuma se kraal heilig is.

Vermoedelik die eerste opgetekende geval van ’n rot wat ’n gesonke skip te hulp probeer snel.

vryburger

Met só ’n vriendin het g’n vrou ’n vyand nodig

Toe Bathabile Dlamini, voorsitter van die ANC-vroueliga, die ander dag ’n gehoor toespreek onder wie pres. Cyril Ramaphosa getel het, lees sy hom mos tussen die lyne die leviete voor omdat dit in die ANC kwansuis te maklik is om van vroue in hoë poste ontslae te raak.

Vryburger wil Dlamini báie graag aan drie goedjies herinner: Eerstens kwalifiseer haar neerbuigende gedienstigheid voor die patriargale Jacob Zuma haar nie juis as voorvegter vir vroue nie. Om die waarheid te sê, sy steek die ganse vroueliga in die skande;) Tweedens lyk hierdie mos na suur druiwe, nadat Ramaphosa háár in die pad gesteek het;) En derdens, desondanks haar afwesigheid in die kabinet is dit vanjaar die eerste keer ooit dat mans en vroue gelyke verteenwoordiging in die kabinet geniet.

Hoe lastig is die feite soms, of hoe, Bathabile?

Spioen-spioen

Intussen word die spioene by die Staatsveiligheidsagentskap nou verdeel in ’n interne (binnelandse) en eksterne (buitelandse) afdeling.

Vir Vryburger klink dit na kodetaal vir die een afdeling wat binne Luthuli-huis spioeneer, en die ander een daarbuite.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Bloemfontein  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.