
Vryburger se spotprent.
Met die eerste mosie van wantroue wat na verwagting vandag dien teen pres. Cyril Ramaphosa dink Vryburger onwillekeurig terug aan bewerings dat die African Transformation Movement, wat die mosie bring, gestig is as front van die Zupta-faksie in die ANC. En na verneem word is daar ’n spannetjie ANC-LP’s uit die kamp van Jacob Zuma wat graag wil hê dit moet ’n geheime stemming wees sodat hulle stemme ter steun van die wantrouemosie ’n verleentheid vir Ramaphosa sal wees, selfs al is dit nie genoeg om hom uit die kussings te lig nie.
Wel, vir diegene in die ANC wie se steun steeds agter Jacob Regop is, ten spyte van die verwoesting wat hy gesaai het, is vandag se “motion of no confidence” eerder ’n “motion of no conscience”!

Vryburger se spotprent.
Camo-Carl swaai om
Een van diesulkes is Kaal Keiser Zuma se gekamoefleerde agterryer en hoof-imbongi, Carl Niehaus. Hy het die MK-veterane lelik in die verleentheid gestel met ’n verklaring dat adjunkhoofregter Raymond Zondo deur reaksionêre organisasies en die “wit media” gedwing is om ’n strafregtelike klag teen Zuma in te dien. Nogal gevaarlik om die adjunkhoofregter met sulke vaaghede te belaster, en kort voor lank is Carltjie gedwing om die verklaring terug te trek en verskoning aan te teken.
Kyk, as jy dit kan regkry om die MK-veterane in die verleentheid te stel, wil dit nogal gedoen wees. Net jammer dat Carltjie homself nie in die verleentheid kan stel nie – in hoofsaak weens sy gebrek aan skaamte.
Sonde by Zondo
As verrigtinge by die Zondo-kommissie ’n sport was, was adv. Dali Mpofu se ondervraging van oudminister Pravin Gordhan ’n cage fight. Bewerings is oor en weer geslinger en Mpofu se uitgerekte ondervraging het Zondo duidelik in ’n stadium erg moedeloos gehad.
Laat Vryburger dink aan die verskil tussen ’n swak regsgeleerde en ’n goeie regsgeleerde: ’n Swak regsgeleerde rek ’n saak uit en ’n goeie regsgeleerde rek dit nog langer uit . . .