Nog ’n maand, nog ’n familievergadering, nog ’n drankverbod. Telkens wanneer die Watkosazananou Idiamini-Zuma en die nasionale bevelsraad die sweep klap, verskyn onse Cyril soos ’n politieke koekoekhorlosie om die jongste bevele te kom blaf. Hy praat wel altyd sag, lyk altyd of hy omgee en dit alles word ingeklee as ’n “familievergadering”.
Vryburger raak ál meer geïrriteerd met dié politieke oëverblindery om die sogenaamde familievergadering. By ’n regte familievergadering kan elkeen mos ’n spreekbeurt kry, maar nadat die president sy opdragte aan die res van die familie gegee het, mag die media nie eens vir pappa Cyril vrae vra nie. En pappa Cyril en die bevelsraad luister duidelik ook nie meer juis na insette van “familielede” soos die Wes-Kaapse wynbedryf nie. Pappa het gepraat, en basta!
Stuur die EFF vir Trump
Daar is baie dinge wat Vryburger in die nag wakker hou, maar die jongste een is dat Donald Trump, die man in wie se besit die kernaanval-lanseringskodes is, as te gevaarlik beskou word om ’n Twitter-rekening te hê.
Ná die chaotiese petalje by die Kapitool sien Vryburger net één oplossing: Stuur die EFF in om orde te gaan herstel in Amerika. Dis ’n wen-wen-oplossing: Trump kry van sy eie medisyne en Suid-Afrika is ontslae van die EFF!
Die keiser is Carl
Baie lesers het gevra wanneer Vryburger nou weer die gek gaan skeer met Carltjie Niehaus. Wel, hier is een: Wat is skrikwekkender as Carltjie in camo? Carltjie in kerk-camo!