Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vryswewende paddas soek nog na ’n probleem
Tom Dreyer
Tom Dreyer.

Met sy Britse en Nederlandse ridderskappe, sy intieme vertroudheid met koolstofatome sowel as die Van der Waals-kragte wat geitjies onderstebo aan plafonne laat kleef, is sir Andre Geim ’n ontrafelaar van die natuur se geheime. Sy prestasies is ongeëwenaard in die geskiedenis.

Hierdie fisikus aan die Universiteit van Manchester is die enigste wetenskaplike nóg wat sowel ’n Nobel-prys as ’n Ig Nobel-prys ontvang het. Ons ken almal die Nobel-prys. Die Ig Nobel-prys, daarenteen, word jaarliks deur die webwerf The Journal of Unlikely Science toegeken aan die eienaardigste of (op die oog af) mees beuselagtige navorsing van die voorafgaande jaar, die soort werk wat ’n mens – in hul woorde – “eers laat lag en dan laat dink”.

Geim se Nobel-prys vir fisika was vir sy mede-ontdekking van grafeen, die dunste materiaal ter wêreld, ’n wisselvorm van koolstof, só skraal ’n enkele gram daarvan sal ’n area van byna ’n hektaar bedek.

Hy het sy Ig Nobel-prys ontvang vir baanbrekerswerk op die gebied van die levitasie van paddas in magneetvelde. Op my rekenaarskerm tol ’n padda doodluiters ’n paar sentimeter bo sy apparaat. Dit herinner aan ’n Pokémon, verhewe bo kleinighede soos gravitasie.

Op my rekenaarskerm tol ’n padda doodluiters ’n paar sentimeter bo sy apparaat.

Die videogreep herinner my ook aan die ondeurgrondelikheid van menslike motiverings, want watter onpeilbare drifte het dié man gemotiveer om sy vrye tyd in die geselskap van amfibieë en magnete deur te bring?

Grafeen is een van die wêreld se beste smeermiddels en het ook toepassings in elektronika, soos in die vervaardiging van buigbare rekenaarskerms. Vryswewende paddas is tans nog ’n oplossing op soek na ’n probleem.

Maar terwyl hierdie klein kwaker op my skerm dryf, sien ek tog in my geestesoog hoe magnetiese sweeftreine wrywingloos oor die weilande van China gly, en Japan. Ook Switserland. Of nee wag, as ek my nie misgis nie, het hierdie land se magnetiese-sweeftrein-projek nooit regtig van die grond af gekom nie.

My rekenaarskerm vervaag wanneer ’n Switserse beeld my te binne skiet, en ek ervaar die heerlike bekoring waarmee uiteenlopende dinge soms bymekaar kan kom.

Ek sien nogmaals die kompartement van die trein na Montreux. Dis nie ’n magnetiese sweeftrein of eens ’n sneltrein nie.

Ek sien nogmaals die kompartement van die trein na Montreux. Dis nie ’n magnetiese sweeftrein of eens ’n sneltrein nie. Dis een van daardie rammelkas-streektreine wat deur die platteland knars en by selfs die kleinste dorpie aandoen, waar ou ooms ou tannies afhelp tot op die perron, waar kerk­torings in die verte wagstaan, waar die sambrele van weglopendes soos vygies oopvou. Ek ruik weer kunsleer en herroep glimmende vensterrame en vistas van valleie, mere en sneeubedekte pieke.

Dan raak ek bewus van iets anders, iets wat eers vaag en onpeilbaar is, maar al hoe meer in fokus kom, totdat ek besef dis ’n koki-sketsie van ’n paddatjie op die ruit. Wie het dit daar geteken, wonder ek, die sketsie wat jou eers laat lag en dan laat kopkrap. En waarom?

Die geheime van die trein na Montreux is seker so onoplosbaar soos die hart se spore, maar ek wonder tog of daardie kunstenaar soms terugdink aan sy of haar handewerk, daardie piepklein paddatjie, byna so dun soos grafeen, wat dag ná dag vrysweef bo die Alpe.

Dreyer is ’n bekroonde skrywer.

Meer oor:  Tom Dreyer  |  Wetenskap  |  Paddas  |  Navorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.