Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vuil Bfn – help so verskil maak
Gert Coetzee

Bloemfontein is rassisties, vuil , vervalle en sy mense leef kultuurverwyderd van mekaar. Burgerlike dislojaliteit, gebrekkige patriotisme, werkloosheid en ekonomiese kreeftegang gedy.

Vir inwoners wat daagliks die vieslike rommelhope, gaterige strate, plaag van onkruid, moeë verkeersligte, padtekens en naamborde, haperende dienste en onverdraagsaamheid beleef, is dit nie nuus nie. Ons het gekondisioneer geraak om gelate hiermee saam te leef.

Dit verg buite-perspektief om die aandag hierop te vestig. Die feite bo is deur dr. Braam Hanekom, direkteur van die sentrum vir publieke getuienis, in Volksblad (“Waarheen is Bloemfontein op pad?”, 22.03) uitgelig nadat ’n gesprek oor die toekoms van stede en dorpe ook in Bloemfontein gehou is.

Hy wys uit dat om die bestuur van ’n stad te meet daar gekyk moet word na hoe die plaaslike regering die parke in stand hou. En wat die “eens pragtige Roostuin” waar die Springbokke eersdaags teen die Britse Rose moet speel, van Bloemfontein sê.

Teen die agtergrond van Rudolph Giuliani, oudburgemeester van New York, se “broken window”-teorie. Hoe meer leiers – en inwoners – ’n stad laat verval, hoe erger teel misdaad aan en hoe meer kwyn die ekonomie.

Bloemfontein is rassisties, vuil en vervalle.

Inderdaad. Soms krimp ’n mens ineen oor hoe oorsese besoekers die stad van rommel, riool en vieslike hole (soos die urine-besmette JBM Hertzog-plein – oorkant die afgebrande stadsaal) beleef.

Hanekom se subteks is dat vir inwoners om te wag vir die plaaslike regering om in te gryp fataal sou wees. Hy moedig ’n niepolitieke inklusiewe forum aan wat met die stad(sleiers) in gesprek kan tree en plaaslike regering verantwoordbaar hou. Talle voorbeelde bestaan “van stede oor die wêreld heen waar gemeenskappe . . . die stad self teruggeneem het”.

Hanekom se afstandelike bestekopname verdien lof.

Gewis is dit waar dat om vir Sisi Ntombela, nuwe premier, en Olly Mlamleli, burgemeester, te wag tevergeefs sou wees. Op Mlamleli se wagbeurt is Bloemfontein se stadsaal afgebrand. Sonder aanspreeklikheid. Haar enigste verweer was ’n klaaglied oor hoe “slegte Christene” daarná dan stories daaroor sou versprei het.

Blaas my siel. Dié onskuld verlam.

Blaas my siel. Dié onskuld verlam.

Om te wag vir ’n ander bewindsparty, kan Vrystaters ook maar op hul pensie skryf en met die hempie afvee. Die ANC bly vir eers in die Vrystaatse saal (en beursie). As al die geld tog net reg en kundig aangewend kon word.

Dus, waar en hoe om te begin?

Op ’n Saterdag ry ek deur die vuil stad, dromend oor hoe inwoners in buurte hulself in spanne organiseer en straat vir straat begin skoonmaak, gate vul, verf, onkruid skoffel en wegry.

Toe raak die droom sienderoë waar.

Naby die stadsaal maak ’n groep vrywilligers, georganiseer deur Shoprite Checkers, die strate skoon.

Tog, dit verg net enkele agente van verandering – en ’n keuse – om die ommekeer van ’n kultuur te bewerkstellig.

Dit wys wat gedoen kan word. En iemand sê hulle het gesien hoe Duncan Pentz, ’n konsessie-houer, self al die gras op die sirkel tussen Pick n Pay Preller Walk en Willem Postma sny.

Bloemnuus berig verlede week oor die wakker Fichardtparkse Woonbuurt Assosiasie se landgoedmodel.

Natuurlik is daar toe iemand wat – in ’n brief – op hul battery wil piepie. Want vir elke eenvoudige oplossing is daar altyd ’n duisend beswaardes en besware.

Ja, dis nie so eenvoudig nie. Ná Hanekom se stuk wys San Gottschalk van Vanstadensrus per brief op die jammerstand van plattelandse dorpe.

Dis sleg. Tog, dit verg net enkele agente van verandering – en ’n keuse – om die ommekeer van ’n kultuur te bewerkstellig. ’n Mens sien hulle oral.

Individue of instansies wat inisiatiewe wil dryf, kan hul detail vir publikasie aanstuur, sodat vrywilligers in hul buurt met hulle kan skakel.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Bloemfontein  |  Menings  |  Rassisties  |  Verskil
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.