Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vurige gevegte plat af so met die jare saam
Annelie Botes

Met dié dat die gryse sy kinderspore in Umtata in die ou Transkei getrap het, en die gesin eers daar weg is nadat hy matriek voltooi het, is hy ’n man wat visvang aan die Wildekus goed ken.

Menige naweek is hy saam met sy pa en die grootmensvriende Hole-in-the-Wall toe, waar hulle tent opgeslaan het. Sy ma is selde saam.

Die gryse was ’n laatlam en sy ma was seker dankbaar om die woelige kind onder haar voete uit te kry. Dan stuur sy ’n dubbelkoker met klaargaar-naweekkookkos saam.

Doer in die laat 1950’s was braaivleis nie ’n modegier soos vandag nie. Maar hulle het saans vuur gemaak vir die geselligheid, en om stokbrood op die kole te bak.

’n Gereelde instelling was ’n kas met 24 biere en een met 24 botteltjies limonade. Dan sit die manne om die vuur met beer shandy.

Die oupa is mos te suinig om jou ouma vir ’n Spur-burger te vat. Maar ek moet sy strykgoed doen.

Die kinders was nie limonade beskore nie. In die 1950’s was ons tevrede met Tomango-aanmaakkoeldrank. Maar die kleinman se lus hang uit vir limonade. Met die manne by die rotse, vat hy ’n knipmes en wikkel die prop versigtig af om dit nie te buig nie. En gaan sit soos ’n hoofindoena in die skaduwee teen die stam van ’n melkhout met sy drankie. Klaar gedrink, tap hy die bottel vol water, druk die onbeskadigde prop styf op die bottel, sit dit terug in die kas.

Die aand kla ’n oom sy bier smaak waterig, maar die blonde grysetjie met die kuiltjie in sy kennebak trek nie ’n gesig nie. Op ’n aand toe ons self laerskoolkinders het, vertel ek die storie by die gholfklub in Bedford, en almal wil hulle skeur. Want die besadigde Telkom-man staan nie bekend as ’n poetsbakker nie.

Nou wil ek van die os op die jas spring. Ons is katmense, en dis my manier om luid met die kat te praat om sodoende ’n boodskap by die gryse se ore te kry.

Ou koeie, vars koeie. Iedereen gaan slagpale toe.

Soos: “Die oupa is mos te suinig om jou ouma vir ’n Spur-burger te vat. Maar ek moet sy strykgoed doen.” Of: “Moenie by die oupa lê nie. Hy’t bonesop geëet . . .”

Soos dit maar in alle huishoudings gaan, het ons een aand ’n geveg, altemits oor ’n nietigheid, wat voortwoed tot die voordagure.

Diékant toe, dáárdie kant toe. Ou koeie, vars koeie. Iedereen gaan slagpale toe. ’n Vrou het mos alewig ’n resep om nie óp te hou voor ’n man nie die vlag stryk nie. Dis waar wat Salomo sê: Dis beter om bo-op ’n dak te woon as saam met ’n twisgierige vrou onder een dak.

Toe die dag al breek, het die besadigde man sweerlik genoeg gehad. Hy spring uit die bed en maak vir hom koffie. Staan tierend by die voetenent. “Jý, vroumens, jý,” en sy bolip bewe, “jy maak gedurig die kat teen my op! En jy maak in die publiek van my ’n limonade-dief!”

Vandag lag ons daaroor, maar daardie nag was ’n nag van klippe en paraffien. Vir die jongeres wat nog deur daardie nagdriwwe moet stoei, wil ek ’n troos aangee dat die bakleilus met die jare saam afwater.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Bakleiery  |  Rusie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.