Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waaaaaar is Cyril? Agter die spieëlkas!
Blouwillem
Blouwillem

As jy ’n ervare oupa met ’n paar jaar oefening soos ek is, is jy in dié stadium van jou lewe ’n kenner van kinderboekies. Van jou eie Vaaljas die eensame donkie, al Grimm se grimmige stories, elke Afrikaanse kinderbybel op die mark en die getuienis voor die Sonde-kommissie.

Kan jy glo ek karwei my liewe Vaaljas al 60 jaar oral saam en ken hom natuurlik vandat ek vier is woord vir woord – daarom dat my liewe ou moedertjie verkeerdelik gedink het dat ek ’n begaafde kind was, totdat sy agtergekom het dat ek net ’n gawe kind was en nie doktersmateriaal nie.

Dit was toe dat sy die tydskrifte wat sy so pligsgetrou vir my spreekkamer bymekaargemaak het, hospice toe gevat het.

In elk geval, met die prys van nuwe boeke so hoog, koop ek maar net by die Boeremark se derdehandse stalletjies, want as die storie goed is, ken die kleinvolk mos nie die verskil nie. Of so hoop ek.

Deur die jare raak jy so gekondisioneer dat as ’n Vuisgenoot skielik oor jou pad kom, jy reguit na “Bollie” toe blaai.

Pleks van troues, skandale en rampe.

Dis tyd vir ’n nuwe Otto-boekie genaamd Waar is Cyril?

Tussen al die klassieke kinderwerke (as daar so iets is), is daar een wat vir my uitstaan, en dit is die Otto-boekies.

Ja , daai boekies waar die prentjies so oopvou en jy moet raai waar Otto die brakkie is.

“Waaaaaar is Otto?” rek jy die spanning uit, blaai stadig om en daar, sowaar, sit Otto die klein rakker, agter die spieëlkas.

Nou ja, om indien enigsins moontlik by die punt te kom: Dis tyd vir ’n nuwe Otto-boekie genaamd Waar is Cyril?

Ja, liewe vriende en vriendinne, waar is ons stilswygende, gedweë, amper onsigbare leier van wie ons soveel verwag het?

Is hy by die huis, in Davos, die Kongo, in Kimberley, op die plaas tussen sy buffels of besig met Ace-skaats in Vrede?

Ja, Ouma, ek weet jy’t my geleer om op prinse nie te vertrou nie, maar dié man word dan betaal om ons uit die woeste woestyne te lei en nou verdwaal ons net al verder en word die dors net groter. A nee a, my Kroon, so kan dit nie aangaan nie!

My Kroon, dis tyd vir u om saam met Otto agter die spieëlkas uit te kom en klaar te speel met die hiënas wat u teister, anders is die willetuin “for ever and ever” in sy troon in, my Kroon, en kan koning leeu maar saam met u en Harry abdikeer!

Ek weet net die dag as die man van Mampoeralanga moet oorvat as president, is die dag wat ons maar die ligte kan afsit (oeps, amper vergeet ek hulle is klaar af!)

En ja, oom Ace, jy sal goed lyk in Cheetah-oranje en moenie worry nie, daar wink nog ’n groot en belowende verlede vir jou, want ek sien 82,6% van ouens wat matriek in die tjoekie geskryf het, het geslaag.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Blouwillem  |  Regering  |  Soektog  |  Kinderboekie  |  Presidensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.