Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waak daarteen om boere vir wolwe te gooi
Ivor Price

Hierdie land kan soms jou hart breek.

Nes ons ontslae is van die Groot Hiëna – sy edele, die giggelende oudpres. Jacob Zuma – kom die politici weer met ’n nuwe ding om ons in die aanloop tot die 2019-verkiesing in verdere kampe te verdeel. Grondonteiening sonder vergoeding.

Die hoofteiken – bygesê, ’n maklike teiken weens ons smerige politieke verlede – is ons boere; die produsente wat getrou hul ding doen om kos op die nasie se tafels te sit.

Ja, dieselfde landboubedryf wat meer as enige ander bedryf vir projek Suid-Afrika doen. Vra vir my. Ek behoort te weet.

Sedert Oktober verlede jaar het ek die voorreg om as deel van Landbouweekliks, ’n nuwe VIA-televisieprogram, by plase reg oor die land in te loer. Ek en die vervaardigingspan het reeds duisende kilometer afgelê om te hoor wat in boere se koppe en harte aangaan.

Wat my die meeste bybly, is nie die indrukwekkende landbou-ondernemings wat baie van hulle oor die jare heen opgebou het nie, maar eerder wat gebeur in die oomblikke wanneer die kameras afgeskakel word.

Nou hoor ek al hoe van die doemprofete “wit bevoorregting” skree, en dít kan nie ontken word nie. Die meeste boere is ekonomies bemagtig – so anders as die plaaswerkers met wie my pad kruis. Dis ook ’n feit soos ’n koei dat baie boere vandag nog vooruit boer omdat hulle kan staatmaak op welvaart wat oor geslagte opgebou is.

Verder ontken ek ook nie dat grondhervorming as ’n saak van dringendheid hanteer moet word nie.

Inteendeel. Ek’t ook nog nie ’n boer ontmoet wat nie die waarde daarvan begryp nie. Almal is dit redelik eens dat hopeloos te min in die laaste 23 jaar gedoen is om die meeste swart mense – nie bloot die swart elite nie – groter toegang tot die ekonomie te gee. Ons gaan ook nog lank sukkel met die nalatenskap van apartheid.

Hierdie land kan soms jou hart breek.

Maar dis nie regverdig om ons boere as swart skape in hierdie grondtameletjie uit te beeld nie; ook nie as vyande van inklusiwiteit en nasiebou nie.

Hulle behoort eerder as vennote ingespan te word, want die spel gaan uiteindelik oor landbou se vermoë om bekostigbare kos te produseer.

Dit sluit die onskatbare bydrae van sowel die huidige as toekomstige swart boere in. Geen ander bedryf doen soveel moeite om sade van hoop by werknemers te saai nie.

Daar is ook op geen ander bedryf soveel druk om te dóén nie; om te gee en te gee totdat dit hulle seermaak.

Hier verwys ek na als, van die bou van werkershuise tot die verskaffing van gesondheidsorg, toegang tot gehalte-onderwys tot kospakkies en klere. Daar is sekerlik slegte boere ook, maar ek wil glo dat die meeste mense inherent goed is.

Ver van die stadsgedruis, en beslis ver van die nuusopskrifte teen die lamppale, laat hierdie land jou gelukkig ook met hoop. Die energie is aansteeklik.

Voor in die koor is ons boere, wat regtig uit hul pad uit gaan om hul werkersgemeenskappe se lewens te verbeter.

Ons moet daarteen waak om hulle vir die wolwe te gooi.

Meer oor:  Ivor Price  |  Jacob Zuma  |  Menings  |  Boere  |  Grondonteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.