Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waak teen dié faksie-infeksies
Heindrich Wyngaard

Die ander dag wou ’n bekende politieke kommentator ons laat glo het dat hy oor inligting beskik wat die verhaal vertel van pres. Cyril Ramaphosa “as ’n president in nood”.

Hierdie inligting se oorsprong was “molle” wat sou vertel het van ’n virtuele vergadering van ’n ANC-topstruktuur waarop “eenparig” besluit is om teen vlak 3 van die inperking van Ramaphosa as staatshoof ontslae te raak.

“Molle” veronderstel reeds dat dit “bronne” is met ’n “verklikkingsagenda”, hetsy met goeie of slegte bedoelings. Maar behoort kommentators hulself nie die vraag af te vra waarom sekere inligting met hulle gedeel word, en watter voordeel dit vir die verteller (mol, bron, verklikker) inhou nie?

Die Facebook-plasing het omtrent ’n beroering veroorsaak en is uiteindelik ook wyd via WhatsApp versprei. Maar toe word dit bekend – via ander kommentators se bronne of molle – dat die gewaande vergadering van die ANC-topstruktuur nooit plaasgevind het nie.

’n Ander mening was selfs dat Ramaphosa nou sterker staan as met sy verkiesing as partyleier einde 2017 – juis vanweë sy huidige leierskap.

’n Ander mening was selfs dat Ramaphosa nou sterker staan as met sy verkiesing as partyleier einde 2017 – juis vanweë sy huidige leierskap.

Toegegee, dit kan met enige ontleder gebeur dat onakkurate inligting jou meegedeel word – selfs doelbewuste valse inligting – deur mense wat jy rede het om te glo. Of glo jy hulle bloot omdat die inligting in ooreenstemming is met dit wat jy in elk geval dink of vermoed? Die sielkundiges noem dit “confirmation bias”, die geneigdheid om bevooroordeeld te wees ten gunste van inligting of standpunte wat strook met ons eie.

Indien jy egter een van die mense is wat steeds vermoed dat daar meriete is in die misplaaste inligting wat die kommentator op Facebook gedeel het, sou jy Woensdagaand straks ’n warm gevoel gekry het toe Ramaphosa verwys het na ’n beplande verslapping van die inperkings tot vlak 3 teen begin Junie.

Dit moet dan tog sy einde beteken, reg? Behalwe dat dit in sy lewering van die boodskap aan die nasie nie ooglopend was dat hy bewus is van sy kamtige benarde posisie nie – en daarmee verwys ek ook na die oortuiging wat by sommige bestaan dat dit in werklikheid dr. Nkosazana Dlamini-Zuma is wat eintlik die kabinetskitaar slaan.

Ramaphosa het op sy kenmerkende nugtere, gerusstellende wyse met empatie en kommer melding gemaak van die (toe nog) 219 mense wat reeds hier weens die koronavirus ontkom het, hy het landsburgers bedank dat hulle vasbyt ten spyte van die streng inperkings, en hy het die versekering gegee dat daar net een doel is hiermee: om die verspreiding van die virus te vertraag en menselewens te spaar.

Maar hy het ook erken dat in die hantering van die krisis “was daar tye wat ons tekort geskiet het aan julle verwagtinge”. Sommige van die aksies was “onduidelik”, “teenstrydig” en is “onvoldoende verduidelik”. Ook was die toepassing van maatreëls by tye “wisselvallig” en “té grof”.

Die regering – “die regering wat ek lei”, het hy benadruk – is daartoe verbind om regstellings aan te bring in gevalle waar die landsburgers teleurgestel is en waar foute gemaak word.

Hierdie foute, sou ’n mens kon sê, wys veral vinger na die “grendelmagte”, naamlik die polisie en weermag.

Tot nou is hul optrede saam met dié van die Ramaphosa-kabinet, staatsamptenare en munisipale raadslede – soos dit hoort – behoorlik deur politieke en ander kommentators onder die vergrootglas geplaas.

Eweneens behoort dit gedoen te word met kommentators – opdat hulle nie deur wanvoorstellings geïnfekteer sal word nie, en sal leer om in hierdie krisistyd sosiale afstand van faksievormende politieke virusse te behou.

Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Infeksies  |  Koronavirus  |  Regering  |  Presidentskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.