Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waak teen fascisme wat in VSA kop uitsteek

Die wêreld moet opnuut waak teen fascisme omdat dit ’n leë ideologie is wat met enige inhoud gevul kan word en daarom soos ’n veldbrand deur die wêreld kan versprei, skryf Christi van der Westhuizen.

Selfs in Japan glo ondersteuners van Donald Trump dat hy verlede jaar se Amerikaanse presidentsverkiesing gewen het. Foto: Reuters

“Die geskiedenis word herhaal, maar nooit presies op dieselfde manier nie,” is ’n opmerking wat gereeld gehoor word. Maar hierdie tydsgewrig lyk en voel skrikwekkend dieselfde as 100 jaar gelede.

Die verskille tussen nou en toe hang van ons af, die menslike agente wie se lot dit is om ’n tweede keer ’n spesifieke stel moeilike feite te konfronteer.

Gaan die mensdom hierdie gevare kan trompop loop en massale geweld — moontlik op ’n wêreldskaal — afweer?

’n Eeu gelede het die wêreld steeds met die sosiaal-ekonomiese nasleep en trauma van die Spaanse griep-pandemie geworstel. Asof dit nie erg genoeg was nie, was dit te midde van die opkoms van fascisme.

Plus of minus ’n jaar en ’n wêreldoorlog, en ons is in dieselfde bootjie. Die ou en nuwe variante van die koronavirus swiep ’n dodelike sekel deur bevolkings. Fascisme, soos laas in die 1920’s tot 1940’s beleef is, steek weer ’n aaklige kop uit – tans dramaties in die VSA gedemonstreer.

Ondersteuners van Donald Trump het op 6 Januarie die Amerikaanse kongresgebou in Washington bestorm. Foto: AP

’n Mens wonder oor die kollektiewe sielkunde van die opkoms van ’n politieke verskynsel soos fascisme so kort op die hakke van derduisende sterftes weens ’n pandemie en, destyds, ’n wêreldoorlog.

Daar is sekerlik ’n verband tussen die gevoelens van magteloosheid voor die verwoesting van menselewens en die skyngrootsheid wat ondersteuners van fascisme voel wanneer hulle geweld in woord en daad saai.

Die jaar 2021 het skaars begin toe ’n gepeupel, meestal in fascistiese swart en rooi geklee, na die Amerikaanse hoofstad Washington opgeruk het. Die teiken ná maande van aanstigting deur Donald Trump: die kongresgebou.

Dit is amper ’n volle eeu sedert die fascistiese Swarthemde in Oktober 1922 met ’n opmars na Rome die Italiaanse staatsmag afgerokkel het.

Indien u, die leser, diep in korona-isolasie was die afgelope maande, die aanloop tot die aanval sonder presedent is dat Trump steeds weier om die uitslag van verlede jaar se presidentsverkiesing in die VSA te aanvaar.

Hoewel hy sy kiesersteun opgestoot het, het sy Demokratiese Party-teenstander, Joe Biden, steeds meer stemme behaal. En Biden het verreweg die botoon gevoer in die allerbelangrike kieskollege, wat die gewig van stemme bepaal na gelang van die Amerikaanse deelstate waar hulle uitgebring is.

Die datum van 6 Januarie is vir die oproer gekies omdat dit die dag was waarop die Kongres Biden se verkiesing moes bekragtig.

Rassisme in die VSA

Italiaanse fasciste ruk in 1922 op na Rome. Foto: Getty Images

Dit is amper ’n volle eeu sedert die fascistiese Swarthemde in Oktober 1922 met ’n opmars na Rome die Italiaanse staatsmag afgerokkel het. Hul strategie was eenvoudig: Intimidasie, wat die politieke establishment die mag sommer sonder slag of stoot laat oorhandig het.

Die Fasciste se leier, Benito Mussolini, was nie deel van die opmars nie. Hy het die organisering aan sy ondersteuners oorgelaat, en met ’n trein in Rome opgedaag.

Klink dit bekend?

Wat nou in die VSA met Trumpisme aan’t gebeur is, is ’n samekoms van kolonialistiese en fascistiese elemente.

Sommige beweer dat Trump niks met die aanslag op die kongresgebou uit te waai het nie. Maar met goed beplande herhalende stellings en twiets oor die afgelope maande, en sy “Save America”-saamtrek op dieselfde dag in Washington het hy die terrein deeglik vir ’n “leierlose” aanslag berei.

Wat nou in die VSA met Trumpisme aan’t gebeur is, is ’n samekoms van kolonialistiese en fascistiese elemente. Daar is al geskryf oor hoe Nazi-Duitsland se uitbreidingsdrang in Europa soortgelyk aan hul Europese bure se kolonialisme op ander vastelande was.

Sommige denkers ag Nazisme as die intra-Europese vergestalting van kolonialisme, ook omdat die twee verskynsels kenmerke soos wreedaardige geweld deel.

Hierdie samekoms is nie heeltemal onverwags nie, gegewe dat die VSA die onderbou van ’n setlaarstaat het. Setlaarstate soos die VSA, Australië en Suid-Afrika is saamgestel met twee elemente wat tipies van beide kolonialisme en fascisme is.

Christi van der Westhuizen

Die eerste element is die rassifisering van mense as “nie-wit” en “dus minderwaardig”. Die tweede element is gewelddadige instandhouding van die eerste element.

In die VSA is die “reg” van burgers om gewapen te wees in die grondwet verskans. Die geskiedenis van die ideologie van wit opperheerskappy in die VSA dui daarop dat die land se demokrasie tans in uiterse gevaar verkeer.

Reeds sedert die afskaffing van slawerny in die 19de eeu sukkel die VSA met ’n groep mense, gewoonlik geassosieer met die Amerikaanse Suide, wat weier om te aanvaar dat wit meerderwaardigheid ’n illusie is.

Trump se opkoms bied ’n fokuspunt vir verregse strominge, wat sedert Timothy McVeigh se Oklahomastad-terreuraanval in 1995 ondergronds was.

Rassisme was deels verantwoordelik vir die Amerikaanse burgeroorlog in die 1860’s, wat omtrent die laaste keer is dat die Amerikaanse nasie so verdeeld was soos nou. Die praktyk van “lynching” waarin swart Amerikaners deur wit bendes in die openbaar opgehang is, die Jim Crow-wette soortgelyk aan apartheid, die bedrywighede van die Ku Klux Klan, sluipmoorde op anti-rassistiese politieke figure . . . rassistiese geweld is ’n ou probleem in die VSA.

Trump se opkoms bied ’n fokuspunt vir verregse strominge, wat sedert Timothy McVeigh se Oklahomastad-terreuraanval in 1995 ondergronds was.

Tydens die Trump-presidensie herverskyn wit ekstremisme in ’n skerp styging in aanvalle op Jode, swart mense en ander minderheidsgroepe, onder meer in Charleston in 2015, Charlottesville in 2017 en Pittsburgh in 2018.

Benito Mussolini saam met sy ondersteuners. Foto: Getty Images

Soos genoem, het die Italiaanse establishment Mussolini se fasciste heeltemal onderskat. Ditto die Duitse establishment vir Adolf Hitler.

Wat bemoedigend is, is dat die Amerikaanse liberale establishment, tans verpersoonlik deur die Demokratiese leier in die Kongres, Nancy Pelosi, nie enige kanse waag nie.

Die sekerheidsmaatreëls vir Biden se inhuldiging is ongekend omvattend. Meer as 100 mense is al in verband met die aanslag op die kongresgebou in hegtenis geneem. Die sekerheidsmagte is weens aanduidings van regse infiltrering onder die loep. Die grootskaalse sekerheidsmislukking op 6 Januarie word ondersoek. Ensovoorts.

Die gebeure ’n eeu gelede wys dat fascisme soos ’n veldbrand deur die wêreld kan versprei, juis omdat dit ’n leë ideologie is wat met enige inhoud gevul kan word.

Ten spyte van kwynende supermoondheidstatus is die VSA steeds kultureel die invloedrykste land ter wêreld.

En die gebeure ’n eeu gelede wys dat fascisme soos ’n veldbrand deur die wêreld kan versprei, juis omdat dit ’n leë ideologie is wat met enige inhoud gevul kan word.

Wêreldwyd sit fasciste en vryf hul sweterige handjies in afwagting om te sien wat Trump kan regkry. Die burgers van die wêreld sal moet seker maak dat die hernude aanslag op demokrasie, ’n eeu later, hierdie keer betyds afgeweer word.

Prof. Van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie aan die Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.