Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waak teen ’n Ace-babelaas
Jan-Jan Joubert

Dit juig met blye galme in baie huise in die land noudat die heer Ace Magashule klaarblyklik die naweek met klinkende doppie sy jy-weet-wat gesien het tydens die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).

Skink gerus jou persoonlike voorkeurbrousel in jou Schadenfreude-betintelde ANC-lydensbeker – laat dit jou nie verbygaan nie – en onthou dit word ten beste geniet sonder Ace.

En nadat daardie vreugdetjie afgesluk is, kom die versoberende vraag wat altyd volg wanneer ’n strukturele uitdaging aan ’n individu gekoppel word: Het die verwydering van die persoon die situasie waaroor gekla word ten goede verander?

Die antwoord op kort termyn wat Magashule betref is ’n besliste ja.

Die rede is die rol van die ANC se sekretaris-generaal binne die organisasie, veral deesdae.

Die sekretaris-generaal sit naamlik met al die rekords van die ANC-takke landwyd en dit is die ANC-takke landwyd wat 90% van die afgevaardigdes moet aanwys na die nasionale algemene raad (NGC) van die party wat seker so teen Oktober gehou sal word.

Daar sal bestek geneem word van die vordering met die uitvoer van resolusies wat tydens die ANC se vorige nasionale konferensie by Nasrec in 2017 geneem is.

’n Sekretaris-generaal wat kant kies in sulke geskille in die aanloop tot die NGC is problematies vir die ANC.

In 2005 is die NGC terselfdertyd gebruik om te keer dat die destydse ANC-onderleier, Jacob Zuma, uit sy amp moet opsystaan nadat die hof in die destydse Schabir Shaik-uitspraak ’n verdoemende bevinding gemaak het oor Zuma se rol in die regering se indertydse wapentransaksie.

Magashule en sy kornuite het ’n soortgelyke poging beplan vir vanjaar se NGC.

Hulle wou boonop probeer om ’n mosie van wantroue in pres. Cyril Ramaphosa in te stel op grond daarvan dat hy in gebreke gebly het om Nasrec-resolusies – soos onteiening sonder vergoeding en die nasionalisering van die Reserwebank – uit te voer.

’n Sekretaris-generaal wat kant kies in sulke geskille in die aanloop tot die NGC is problematies vir die ANC.

’n Sekretaris-generaal wat, soos Magashule, die hart en siel daarvan sou wees, is heeltemal rampspoedig. Dit sou die einde van Ramaphosa beteken.

Dus is die politieke ontleder prof. Dirk Kotzé reg: Magashule se terugslag is goeie nuus, want wat sou ’n mens sê as die ANC hom nie geskors het nie?

Nogtans (en ’n mens gebruik die woord teenoorgesteld van Habakuk se aanwending daarvan) beteken Magashule se vernedering nie bloot ’n oorwinning vir die goeie nie.

Hy en sy mense, soos die geskorsde Supra Mahumapelo en geesgenote Bongani Bongo, Zandile Gumede en ander, gaan nie stilsit nie.

Reeds knoei dit in die Vrystaat, Noordwes en Durban om ’n vroeë konferensie te bewimpel en Ramaphosa polities en spreekwoordelik bokveld toe te stuur.

En dan is daar diegene wat nou skielik na bewering getrou is aan Ramaphosa.

Die span van hul mantel na die bewind het skynbaar kabinetsposte verseker vir mense soos Lindiwe Zulu, Nosiviwe Mapisa-Nqakula en ander.

Wees egter verseker dat hul lojaliteit blitsig kan swaai, want dis maar eiebelang wat hier praat. Ons landsregering is in ’n gemors en dis Ramaphosa se dikwels futlose kabinetslede wat die blaam grootliks daarvoor moet dra.

So, geniet daardie klinkende doppie.

Pasop net vir die babelaas van oordrewe verwagtings – dit bring soms ’n eie kopseer wat nie onderskat moet word nie!

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike politieke kommentator.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Skorsing  |  Partypolitiek  |  Korrupsie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.