Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waak teen SA se gedagtepolisie

Diktatoriale state – of state wat in dié rigting neig – het dikwels een saak gemeen: Hulle annekseer die geskiedenis om die hede en die toekoms te besit. Dis wat tans in Pole gebeur. Suid-Afrikaners, wat deur ’n outoritêre party geregeer word, moet kennis hiervan neem.

In Pole het die regerende party Wet en Geregtigheid (PiS) pas wetgewing deurgevoer waarvolgens bepaalde standpunte oor Pole en die Tweede Wêreldoorlog gekriminaliseer word.

Die basiese doel van die nuwe wet is om te voorkom dat Pole vir die Nazi’s se misdade in 1939-’45 geblameer word.

Op sigself is dit ’n legitieme oogmerk. Immers, die staat Pole was nie verantwoordelik vir die massamoord op ses miljoen Jode in dié tyd nie; die primêre verantwoordelikes was Adolf Hitler en die Nazi’s.

Maar die Poolse wet gaan verder. Ten eerste word dit voortaan strafbaar om van “Poolse kampe” te praat. Daar moet verwys word na “Duitse kampe op Poolse grondgebied”.

Dis nie verkeerd nie. Maar daarmee oorskry die regering die grense van die demokrasie. Dis ’n ontoelaatbare beperking op die vryheid van spraak. Jy sou mense deur oorreding kon ontmoedig om van Poolse kampe te praat, maar om dit te kriminaliseer gaan net te ver.

Tweedens word ’n verbod geplaas op uitlatings waarvolgens Poolse mense “verantwoordelik is vir die Nazi-misdade wat deur die Derde Duitse Ryk begaan is”, luidens die teks van die wet.

Die eenvoudige historiese feit – waaroor geen ernstige historikus wat iets van die sogenaamde Holocaust weet, sal verskil nie – is dat die Nazi’s hul massamoord net met die aktiewe of passiewe steun van honderdduisende Europeërs kon pleeg.

Dit is iets waarmee lande soos Frank­ryk en Nederland ook die laaste dekade of twee gekonfronteer is.

Dit geld ook vir Pole. In 2000 het die Pools-Amerikaanse sosioloog Jan Tomasz Gross die boek Sasiedzi gepubliseer (wat in ’n Amerikaanse vertaling as Neighbors verskyn het).

Daardie soort gedagtepolisie mag nie by ons slaag nie.

In die boek onthul Gross dat sommige Pole in en ná die Tweede Wêreldoorlog medepligtig aan die Joodse volksmoord was, en dat hulle hulself aan die besittings van vermoorde Jode verryk het. Hy vlek wyd verspreide antisemitisme in die land oop.

Die boeke het op groot verontwaardiging gestuit by ’n volk wat sy bestaan grond op die mite van slagofferskap en gevolglike morele suiwerheid. Baie Pole glo in die 19de-eeuse romantikus Juliusz Slowacki se uitspraak dat hul land “die Messias van die volke” is.

Regverdigheidshalwe moet bygevoeg word dat verreweg nie alle Pole aanhangers hiervan is nie. Gross het naas heftige aanvalle ook steun gekry.

Ewenwel, dít is een belangrike aspek van die nuwe wet se agtergrond. Die ander is dat dit eenvoudig ’n banale magsgreep deur die PiS is.

Dit is soortgelyk aan die enorme druk op Russiese revisioniste van onder meer die beweging Memorial om op te hou om Stalin se misdade aan die groot klok te hang.

Ook in Nazi-Duitsland was daar intimidasie van historici om die heroïese Nazi-weergawe van die geskiedenis as alfa en omega te verkondig.

Ofskoon dit weens die grondwetlike beskerming vir spraakvryheid in Suid-Afrika bitter moeilik sal wees om iets dergeliks af te dwing, het die ANC wel daarin geslaag om sy eie – eensydige – narratief van die geskiedenis wyd te bevorder. Die spore daarvan is te sien in skole se geskiedenisleerplanne, terwyl ook akademici wat beter behoort te weet hulle daaraan skuldig maak.

Daardie soort gedagtepolisie mag nie by ons slaag nie.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Suid-Afrika  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.