Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar almal tuis sal voel
Leerlinge by ’n oorspronklike plakkaat van die sogenaamde Soweto-opstande op 16 Junie 1976 wat in die Hector Pieterson-museum in Soweto uitgestal word. Foto: Getty Images

Toe Jan van Riebeeck teen die hange van Tafelberg opgestap het om water by Kirstenbosch te kry, het hy Autshumao se stem gehoor: “Wat doen jy?”

“Ek en my bemanning is dors,” het Jan gepleit.

Dit is min of meer hoe een van die eerste gesprekke in Afrikaans kon verloop het. Dalk het Autshumao ’n mengelmoes van Khoi en Hollands gepraat. Maar die seevaarders kon hom verstaan.

Die Afrikaanse sanger Johannes Kerkorrel het dit destyds só besing: Toe die wêreld hier nog jonk was / en die horison wyd en oop . . . / Toe kom die skepe uit die weste / Wit seile oor die see / Om te vra vir kos en water / en te bly vir soveel meer . . . / Halala . . . Ewig is ons Afrika.

Dít is hoe ek elke jaar my eerste les begin. Dan sien ek die vrae in my studente se oë en ek weet: Hierdie deel van Afrikaans se geskiedenis is hulle nie op skool geleer nie.

Soms laai ek hulle dan in ’n bus en ry Taalmonument toe in die Paarl. Dié storie ken hulle.

Dan ry ons verder na die Auwal- masjid in Dorpstraat, Bo-Kaap, die oudste moskee in Suid-Afrika.

En ek hoor die studente sê: Hoekom het niemand dit nog ooit vir ons vertel nie?

Daar vergaap die studente hulle aan die replika van die Bajaan al-Din (Uiteensetting van die Geloof), die eerste Afrikaanse boek geskryf in 1869 deur sjeg Abu Bakr Effendi, ’n Turkse teoloog deur die Hollanders ontbied om slawe te onderrig.

Sy vrou het die eerste Afrikaanse skool, die madrassa, in Dorpstraat begin. En ek hoor die studente sê: Hoekom het niemand dit nog ooit vir ons vertel nie?

Volgens kenners het Afrikaans sy beslag as taal gekry toe slawe van Asiese herkoms en slawe uit Afrika, sowel as Khoi-Khoi-mense, Hollands moes aanleer om in ’n groeiende kolonie in interaksie met hul Hollandse meesters en met mekaar te kon oorleef en funksioneer.

Afrikaans se wortels lê dus versprei oor drie vastelande: Europa, Asië en Afrika. ’n Deel van Afrikaans het wel oor die see gekom, maar die grootste deel is hiervandaan. Die digter Wilma Stockenström beskryf dit dalk die beste: Toe het klippers mond oopgemaak en gepraat / En die see het gesis en see gesê / En ’n taal het gelag met ’n opwaartse lag . . .

Vreemdeling in jou eie taal

Ek was dus bly vir die uitnodiging van die DAK-Netwerk om by hul waarheid-en-versoeningskonferensie oor Afrikaans ’n meningstuk te lewer. Want praat moet ons praat.

Onder meer oor die aanname wat al vir meer as ’n eeu bestaan (en in skole onderrig word?) dat Afrikaans ’n “witmanstaal” is, ’n “suiwer Germaanse taal”.

Dié stelling deur ds. S.J. du Toit in 1874 in De Zuid-Afrikaan het nie rekening gehou daarmee dat die Nederlandse variant lankal besig was om in die monde van die inheemse Khoi-Khoi, die vryburgers en voormalige slawe tot ’n nuwe taal uit die bodem van Afrika te groei nie.

Dit is byna 400 jaar sedert Doman, Autshumao en Krotoa (DAK is ’n akroniem van hul Khoi-name) as tolke begin het om die eerste saadjies van Afrikaans te plant.

Volgens die 2011-sensus is daar ongeveer 3,4 miljoen bruin Afrikaanssprekendes (50%), asook 10% swart en Indiër-Afrikaanssprekendes – dus 60% van Afrikaanssprekendes in die land is nie-wit.

Die DAK-bestuur het besef dat hierdie Afrikaanssprekende gemeenskappe toenemend vervreemd voel in hul eie taal.

Dr. Hein Willemse het in sy toespraak by die DAK-konferensie dit só gestel: “Dit is ontsettend om in jou eie taal ’n mindere en ’n vreemdeling geag te word.”

In 1976 het leerlinge in Soweto betoog teen Afrikaans as ’n onderrigtaal. Plakkate soos “To hell with Afrikaans” het volgens Willemse nie net wit Afrikaanssprekendes geskok nie.

“Ons het besef dat dit gaan oor apartheid en onderdrukking. Maar wat van ons, wie se hele wêreld in dié taal geskied het? Wat Afrikaans en Nederlands as hoofvak bestudeer het! Ons moes leer leef met ’n teenstrydigheid: Enersyds was Afrikaans ons hartstaal; andersyds was dit die simbool van ons eie verdrukking.”

Ons bekyk ons wêreld deur ons eie filters sodat ons nooit werklik die volle waarheid bereik nie.

In ons soeke na versoening kom die Duitse filosoof Immanuel Kant se woorde ter sprake: Die waarheid word altyd gekleur deur menslike subjektiwiteit.

Ons bekyk ons wêreld deur ons eie filters sodat ons nooit werklik die volle waarheid bereik nie.

Die geskiedkundige en skrywer Yuval Noah Harari raai ons weer aan om verskillende roetes te probeer. Maar altyd moet ons die regte vrae vra. Vrae soos: Waarom maak Matie-studente nie gebruik van die vele geleenthede vir Afrikaanse onderrig nie?; Wie is die ware helde van Afrikaans – ds. S.J. du Toit of sjeg Abu Bakr Effendi?

Wat beskou ons as die monumente van Afrikaans – die Auwal-masjid en die madrassa in die Bo-Kaap, of die Taalmonument wat in 1976 nie-wit Afrikaanssprekendes geïgnoreer het met die opening?

Dit vra vir meer as net ’n Kaapse woord wat sporadies soos ’n plakkertjie gebruik word.

Is versoening moontlik?

Oor twee dinge is ek seker: Afrikaans gaan nie binnekort uitsterf nie. Die passie vir die taal is net te sterk. Meer as een spreker by die konferensie het hulle hieroor uitgespreek. Tweedens: Versoening ís moontlik, mits ons geduldig is en die volgende stappe volg:

  • Ons benodig ’n eerlike en opregte gesprek. Absolute eerlikheid is ononderhandelbaar. Ek is nie oortuig dat hierdie gesprek deur ’n hof moet geskied nie. Hofsake bring verdeeldheid en skep wenners en verloorders – met Afrikaans die grootste verloorder.
  • Elkeen moet verantwoordelikheid aanvaar vir hul aandeel in die probleem. Nóg wit, nóg bruin Afrikaanssprekendes het in 1925 hul stem laat hoor toe ons swart tale hul amptelike status verloor het ten gunste van Afrikaans en Engels. Swart ouers het hul kinders Engels begin grootmaak. Baie bruin ouers het in simpatie dieselfde gedoen.
  • Vra om verskoning en vergifnis. Soos die uitdrukking lui: Die waarheid is soos ’n operasie – dit maak seer, maar dit maak gesond. Daarom mag 1976 nooit weer gebeur nie.
  • Luister na mekaar se standpunte, met geduld en respek. Ons praat nog te dikwels verby mekaar. As jy sukkel om die skrywer en digter Nathan Trantraal te verstaan, herinner die kletsrymer Emile Jansen ons dat hulle op die Kaapse Vlakte sukkel om Die Burger te lees.
  • Vind gemene delers en strewe na die middelgrond. Versoening is nie moontlik as jy met ’n onversetlike houding na die gesprek kom nie. Almal sal iets moet prysgee.
  • Beweeg vorentoe deur vertroue te bou. Hoe meer ons praat en na mekaar luister, hoe groter word die moontlikheid dat ons wedersydse vertroue sal bou en respek vir mekaar se standpunte sal kry. Uiteindelik behoort ons by ’n punt te kom van emosionele veiligheid waar almal tuis sal voel.
  • Dit kan nie net by praat bly nie. Ons kan kla oor ’n taalhandboek wat ons uitspraak as onbeskaafd beskryf, of ons kan ons eie boeke skryf. Ek het laasgenoemde gekies en vandag word my boek Afrikaans ons Taal landwyd gebruik.
Michael le Cordeur

Tyd raak min. Hoe langer ons vat om te versoen, hoe skraler raak Afrikaans se kanse op oorlewing.

Sonder versoening sal ál meer Afrikaanssprekendes verhuis na Engels, waar hul swart broers en susters hulle reeds tuisgemaak het.

Vir die toekoms van Afrikaans het ons ’n nuwe, omvattender diskoers nodig.

Versoening is nie ’n enkele daad of konferensie nie; dit is ’n proses wat met omsigtigheid bestuur moet word. Dit vra vir meer as net ’n Kaapse woord wat sporadies soos ’n plakkertjie gebruik word. Versoening vra vir die regte ingesteldheid, en die regte leierskap.

Ek was beïndruk met wat ek by die DAK-konferensie beleef het: ’n diepe besinning oor die pad vorentoe vir Afrikaans deur wit, bruin en swart – mense vir wie Afrikaans na aan die hart lê, gemotiveer deur ’n opregte soeke na versoening wat veel dieper strek as klippe gooi.

Halala, mayibuye iAfrika(ans).

Prof. Le Cordeur is verbonde aan die fakulteit opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch, en is ’n direksielid van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans.

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Woorde  |  Taal  |  Afrikaans  |  Moedertaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.