Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar daar liefde is, is daar hoop

Pandemiepassie in die tyd van korona is nie ’n mite nie – dis die reine waarheid en dit wil voorkom asof romanse oor die eeue heen nog altyd opgevlam het gedurende ’n viruskrisis, skryf Erla-Mari Diedericks.

erla
Erla-Mari Diedericks

Dit is die jaar 1918. Die Groot Griep het uitgebreek. Net soos nou. Maar anders as vandag, is daar nie e-posse en WhatsApps en Zoom en Tinder nie. Tog gebeur dieselfde – die liefde blom. Want soms is tragedie en ’n ramp (soos ’n veldbrand) nodig vir iets vars en moois om wortel te skiet en te groei.

Vir my persoonlik het die hele liefdesoekding gedurende die pandemie makliker geword, want dit wil voorkom asof mans meer verhoudingsgerig is as voorheen en orals floreer die liefde.

Hoekom?

Mense het meer tyd en reis minder. Dus het jy meer tyd vir romanse en fokus jy eerder op die mense in jou onmiddellike omgewing. Mans en vroue wat nou ontmoet, gaan op ander soort dates as voorheen. Fliek is uit. Restaurante is soms maar droog sonder drank. Kroeë en klubs, wel . . . op eie risiko. Dus sal hulle gaan stap of saam kosmaak – eenvoudiger tydverdrywe waar ’n mens mekaar noodwendig beter leer ken.

Ook maak die toenames in sterftes ons pynlik bewus daarvan dat enige dag ons laaste een kan wees. Dit bring mee dat baie mense herbesin oor hul leefwyse en waardes.

Pieter wil nie inent nie, dan kan Pieter nie vry nie.

So van waardes gepraat, ook die standaarde van wat jy soek in ’n liefdesmaat, is besig om te verander.

Net vandag lees ek op Facebook hoe twee mans oor en weer wonder of hulle nou hul inentingsertifikate saam met die kondome moet inpak as hulle vir ’n meisie gaan kuier. Pre-Covid is dit aanbeveel dat paartjies vir ’n vigs- of STD-toets gaan om seker te maak hulle het veilige seks. En nou?

Baie mense sê ook dat waar hulle byvoorbeeld voorheen nie met iemand sou uitgaan op grond van politiek of godsdiens nie, dit nou ook pandemiebesluite insluit. Pieter wil nie inent nie, dan kan Pieter nie vry nie. Sandra glo inentings is ’n komplot, dan moet sy maar soek vir ’n ander sot.

Maar al het die pandemie dalk die kollig meer op romanse geplaas, sal daar altyd jakkalse wees. Onthou, ’n kansvatter is ’n kanniedood. Of dit nou in 1918 of 2021 is. Daar sal altyd dié soort wees wat inperkingsmaatreëls sien as ’n gulde geleentheid om vinniger toegang te kry tot jou huis en wyn in die yskas (as restaurante en drankwinkels toe is).

Die wilde woeste twenties word juis toegeskryf as reaksie op die paniek en beperkinge van die pandemie.

En dan is daar die kwessie van soen en seks.

In 1918 het almal mooi by die soenregulasies gehou – totdat die soldate van die oorlog teruggekom het. Toe het hulle begin om deur sakdoeke en tennisrakkette te vry omdat dit glo nie die sondige spoegies sou oordra nie.

In 2021 word soen en seks met vreemdelinge ook nie aanbeveel nie omdat jy ook (aan)gesteek kan word, maar die New Yorkse departement van gesondheid het verlede jaar wel die jawoord gegee vir seks met maskers aan en “glory holes”. Gaan google maar wat laasgenoemde is. Maar eet eers jou ontbyt klaar.

Om te sien wat gebeur ná ’n pandemie, hoef jy net te kyk na die geskiedenis. Die wilde woeste twenties word juis toegeskryf as reaksie op die paniek en beperkinge van die pandemie. Daar was selfs “petting parties” waar mense langs mekaar (ek belowe) gesit en vry het, want so kon hulle soen dat die sop spat, sonder dat die gesogte maagdelikheid in gedrang gekom het.

So wat op dese aarde wag op ons? Orgies?

En sal al die liefdesverhoudings wat gesmee is in ’n stiller, sinvoller tyd soos mis voor die son verdwyn as die sexy mense weer van hul maskers en klere begin ontslae raak?

Wie weet.

Maar een ding is seker – liefde in die tyd van pandemies gebeur en sal bly gebeur.

Want liefde is hoop.

En waar daar liefde en hoop is, is daar lewe.

• Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Seks  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Zoom  |  Liefde  |  Inentings  |  Soen  |  Tinder  |  Groot Griep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.