Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar die leeus brul dat die biesies bewe

In leeuwêreld kan die adrenalien nogal vloei, skryf MC Botha.

Sy gebrul het ons snags wakker gehou. Foto: MC Botha

Mense wat al keelvol is vir misdaad soos verkragting, moord en gewapende roof, maar steeds nie die versoeking kan weerstaan om die adrenalien te laat vloei en daarna te kan spog dat hulle alles tog oorleef het nie, sal bly wees om te verneem dat ’n nuwe mark in die verre noorde gevestig is.

Phalaborwa, om presies te wees. Klink die naam nie reeds pragtig op die oor nie? Voorts klink dit nie juis Afrikaans nie – jy kan dus jou laaste staatsgekaapte sent daarop wed dat Phalaborwa die een dorp in die land is wat radikale naamtransformasie sal vryspring.

Nou wat is so opwindend omtrent dié myndorpie? Die natuurlewe, vernaam leeus.

“Hulle is jare lank al met ons,” het Thabo Mokone, die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, verklaar kort nadat die jongste leeutrop en ’n tienstuks opgeskote welpies die woongebied via die Foskor-mynhope ingesluip het.

Ons skakel ons flitsligte aan en verbeel ons dat elke brul wat soos donderweer aangerol kom die kwesbare tentjie effens laat beef.

Dit kon niemand skeel of die roofdiere uit die Krugerwildtuin wat aan die dorp grens, of uit een van die talle reservate in die omgewing ontsnap het nie. Solank hulle weer vir die gebruiklike opwinding sal sorg, net soos halfmak bobbejane in woonbuurte van Kaappunt tot Voëlklip.

’n Ander plek wat ’n mens kan besoek vir ’n potensiële amper-dood-ervaring is die afgeleë Mabuasehube in die Kgalagadi-oorgrenspark in Botswana. Ek en my vriend Schalk le Roux het onlangs op ons eentjie daar in die woesteny uitgekamp toe ons een nag wreed in ons slaap versteur word deur die harde gebrul van ’n leeu.

Skielik sit ons kiertsregop in ons kampbeddens, wawyd wakker en nie meer so seker oor hoe ongedierte-bestand die tentjie is soos ure gelede toe ons minder nugter as nou gaan inkruip het nie.

Die volgende nag het die gebrul in felheid toegeneem. Ons skakel ons flitsligte aan en verbeel ons dat elke brul wat soos donderweer aangerol kom die kwesbare tentjie effens laat beef. Slaap kon ons nie, al wou ons.

Koffie of ’n sterk dop?

Leeuwyfies in ons kampplek. Foto: MC Botha

Die dag se eerste tentatiewe sonstrale kom tot ons redding, soos dit van toeka af al met vreesbevange siele gebeur.

Ons strompel uit ons beskeie nagtelike skuiling en merk dat daar inderdaad twee maanhare deur ons kamp kom stap het. Hulle is reg langs die tent verby sonder om hulle aan ons te steur, want hulle was agter ’n interessanter reuk aan: sappige T-beenskywe wat veilig buite bereik van aasdiere in die bakkie weggesteek is.

Ons vind toe ook uit dat die twee dors moes gewees het, aangesien hulle al die water wat ons in ’n braaipan vir die voëls uitgesit het, heeltemal opgedrink het.

Die daaropvolgende aand is alles doodstil. Ons bly met die flitsligte rondskyn in die swart bosse wat ons omsluit, maar vind geen geel oë wat op die loer is nie. Dit maak ons nog meer senuagtig, want êrens moet die vuilbaarde tog wees.

En daar lê ’n manjifieke leeuwyfie in ’n hurkende posisie, haar lang stert reguit agter haar op die grond.

Voor bedtyd wonder ons of ons ’n sterk dop moet neem of dalk sterk koffie. Aangesien vanaand dalk ons laaste aand ooit is, besluit ons op albei.

Genadiglik het die nag gekom en gegaan. Teen daglig word ek wakker van ’n sagte geroep net buite die tent. Ek lig die flap van die vensteropening langs die kampbed op en daar lê ’n manjifieke leeuwyfie in ’n hurkende posisie, haar lang stert reguit agter haar op die grond.

Sy lê met haar een sy na die tent gekeer en kyk intens na die bosse voor haar, skynbaar min gepla deur ons teenwoordigheid. Meteens verskyn ’n jong leeuwyfie en loop haar vriendelik tegemoet.

“Kietsie! Kietsie!” roep ek uit, tot die ligte ontsteltenis van my vriend.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. Dié rubriek het oorspronklik in Engels in Hermanus Times verskyn. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Mc Botha  |  Phalaborwa  |  Botswana  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.