Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar Dunbeen rondloop soos ’n brullende leeu
Johan van Wyk

y ma het hom nie die duiwel genoem nie, maar “Dunbeen”. Wanneer dinge op ’n blou Maandagmôre verkeerd geloop het, sou sy nie die spreekwoord “die duiwel is los” gebruik het nie, maar verklaar het: “Dunbeen is vanmôre weer op sy stukke!”

Baie dinge kan op ’n Maandagmôre op ’n plaas verkeerd loop. Soos byvoorbeeld ’n gebrek aan koffiemelk met dagbreek, omdat iemand die kraalhek laat ooplê het en die afgehokte kallers die koeie deur die nag uitgesuip het.

Swart koffie op jou nugter maag is die laaste ding waarmee jy jou dag op ’n Maandagmôre wil begin. Wie moet die skuld kry? My ma sou beslissend antwoord: “Dunbeen!”

Christenmense het vreeslik gevloek wanneer kallers ’n melkkoei uitgesuip het. Om toe te sien dat dit nie gebeur nie, was ’n belangrike en verantwoordelike taak. Die koeie moes nie heeltemal uitgemelk word nie of twee spene vir die kalf gelos word.

Gert Krakies, verblind deur pyn, het op een voet weggestrompel nadat hy sy Wolseley geskop het.

Maar keer jy nou ’n sterk, uitgevrete kalf van sy ma se uier af weg! Veral as die kalf nader gebring is om die koei te laat sak.

Dit was Klein Willem Bank, ’n bedorwe pokkel van ses, se stryk. Tot sy pa tydens huisbesoek ’n einde daaraan gemaak het. Toe hy die voorhuis instorm, op sy ma se skoot spring en haar rok bolangs oopruk terwyl die predikant die Bybel oopslaan, het oom Willem hom aan sy agtervoet uitgesleep en in die tuiekamer met ’n halterriem finaal gespeen.

Boere het ook verskriklik gevloek wanneer ’n windpomp skielik opgedroog het en die pype opgetrek moes word. Of ’n enjin met ’n waterpomp op ’n koue wintersoggend met die hulp van Quick Start met ’n slinger aan die brand gedraai moes word. As die slinger gegly en jou hand oor die enjin se sementblok geskuur het, het jy in swaar weer gepraat. “#@!$!&*!”

Wat boere egter die meeste laat vloek het, was selfbinders, die masjien wat gesnyde koring in gerwe gebind het om gedors te word.

Party sou woedend die enjin ’n skop gee. Gert Krakies, verblind deur pyn, het op een voet weggestrompel nadat hy sy Wolseley geskop het.

Die uiteinde daarvan was dat die boleer van sy regterveldskoen se punt weggesny moes word om sy rooi geswelde groottoon te akkommodeer. Hy was weke lank kruppel en het nie weer ’n Wolseley geskop nie.

Wat boere egter die meeste laat vloek het, was selfbinders, die masjien wat gesnyde koring voor die koms van stropers in gerwe gebind het om gedors te word.

Dit was ’n meganiese wonderwerk wanneer hy reg was. Wanneer Dunbeen aan die werk was en die ingewikkelde bindmeganisme foutief geraak en los gerwe gegooi het, was dit ’n eindelose gesukkel en ’n onheilige gevloekery.

Predikante sou op wyksbidure vir matigheid vra in die oestyd. Terloops, ’n baler kan jou ook tot waansin dryf. Ek was dikwels in die versoeking om myne te skop wanneer hy los bale gegooi het.

So loop Dunbeen oral rond soos ’n “brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind”. Tot tussen die voëls op Bird-eiland.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Vloek  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.