Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar genoeg oorvloed is . . .

Sarie Marais-Nell beland op ’n Saterdag in die middel van die maand in die middel van die Sandveld in ’n skuur waar alles omskep is vir ’n plaasbasaar.

Sarie Marais-Nell

Want kleurryke basaar- en sneeupoeding, die pannekoek- en kaneelgeur, gemmerbier, koeksisters en mosbolletjiebeskuit is nie om dowe neute hier nie. Dis gebak en voorberei om hul plaaswyk se dankbaarheid te kom demonstreer. Vanjaar se reënsyfers lyk immers hektare beter as laasjaar s’n. En elke hart voel lus om dankie te sê.

Teen halfelf raak almal ernstig – Dominee moet eers die byeenkoms open voordat mense verder lag, staaltjies vertel en poedingresepte inderhaas op los papiertjies uit die handsak neerskryf. Intussen roep en verlei die braaivleisgeur.

Vandag kan ons poeding vir ontbyt eet, dit met gemmerbier of koffie afsluk en heelwat later in die ry gaan staan vir braaitjops en wors, aartappelslaai en ’n gestolde wortel-en-pynappelslaai wat meer na poeding as slaai proe.

Met verstomming sien ons die geldblikke kan in hierdie skuur-cum-basaarvenue sommer oop en bloot bly staan terwyl die vleistannie gou-gou iets wil koop.

Met verstomming sien ons die geldblikke kan in hierdie skuur-cum-basaarvenue sommer oop en bloot bly staan terwyl die vleistannie gou-gou iets wil koop.

Omdat vanjaar se basaar minder besoekers as laasjaar trek, raak die bakkers en hardwerkendes self weer die grootste kopers. Só raak die aangekoopte items agter die tafels amper indrukwekkender opgestapel as die tafels self!

Ongemerk val verskeie geselsies op ons ore: Iemand se buurvrou vertrek binnekort weer op ’n Sinfonia-vakansie; iemand het geld gewen by die naaste casino; ’n tante gaan haar keurig gebreide katprentjiekombers inskryf vir die komende skou.

Dit voel heeltyd of ek Cheers-oomblikke binne die klammerige Sandveld beleef. Want elkeen ken mekaar se naam, humor en vreugdes – en soms ook mekaar se wanhoop. .

’n Nuwigheidjie by dié jaarlikse basaar is ’n hommeltuig wat dreunend diens doen.

’n Nuwigheidjie by dié jaarlikse basaar is ’n hommeltuig wat dreunend diens doen. Tot almal se vreugde word die tablet later van hand tot hand gestuur om te kyk hoe hul plaasbasaar uit die lug lyk.

Net voor etenstyd word ’n bakkie agteruit voor die skuurdeur geparkeer. Met ’n afgeklapte bakkieflap breek dié hoogtepunt aan: veilingtyd. ’n Entoesiastiese jong afslaer hou veilingartikels in die lug en moedig kopers tot beter pryse aan.

Intussen verdeel die basaar­gangers spontaan in twee groepe: diegene wat begeesterd saam bie en die ander helfte wat eerder die aksie wil bekyk. En mooi dink voordat hulle ’n kuif platstryk. Sodra iemand in hierdie groep te woes beduie, sis ’n lewensmaat: Hou stil jou hand – wil jy régtig R200 vir ’n sakkie lemoene betaal?

Ons kyk, en keer dat ons monde oophang. Want ’n string orgideë word eers verkoop wanneer die hoogste aanbod R2 000 raak. Die tweede string loop teen R1 700.

Die eerste braaitang haal R1 000. Die volgende braaitangpryse raak teen R400 geleidelik meer bedees.

“Ek was lanklaas só dankbaar,” fluister ’n vrou toe ’n lamsrib R700 tot die geld toevoeg.

“Ek was lanklaas só dankbaar,” fluister ’n vrou toe ’n lamsrib R700 tot die geld toevoeg.

Toe die gevriesde Hentiesbaai-galjoene aan die beurt kom, fluister iemand in die konsertkykgalery: “Sies tog, hy wissel dan nog tande” en “Was dié enetjie dan nie laas jaar ook hier nie?”

Die bottel Johnnie Walker het ’n geskiedenis. Hy het die laaste 12 maande reeds drie keer geld gemaak by veilings in die kontrei: by laasjaar se basaar, by laasjaar se skou – en hier haal hy ’n betaam­like R1 800.

Omstanders vertel van die tweejarige dogtertjie wat eenkeer by ’n ander kerkveiling ook aangebied is. Om opgeveil te word.

Ons het onverwags die oudae­gesegde hier kom ervaar: Genoeg is oorvloed.

“Sien dit tog net binne die konteks van ’n gemoedelike atmosfeer binne ’n plaasgemeenskap,” sê omstanders en lag oor my uiterste verstomming.

“Dit gaan oor vreugde en dankbaarheid, die gemeensaamheid. ’n Familielid ‘koop’ dadelik die kindjie en die kerk se geld groei – amper soos bail and jail vir volwassenes.”

Soos ons terugry huis toe tussen vrolike wit Sandveldblommetjies en wakende blombloekoms deur – soms afgewissel met ’n “ongelooflike” murasie – beleef ons daardie skaars sensasie: genoeglikheid.

Ons het onverwags die oudae­gesegde hier kom ervaar: Genoeg is oorvloed.

Hier, tussen warm harte en growwe werkershande, die aardsheid van velerlei verhale en tuisgemaakte produkte wat ’n mens laat voel soos tuiskoms, kon ons ’n dag lank ontvlug van alles wat deesdae dikwels soos gruisklippers binne die skoene skaaf.

Meer oor:  Kos  |  Eet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.