Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar is die monumente van medemenslikheid?

Heeltemal te min herinneringsplekke is sedert die 1990’s geskep om seker te maak dat die waardes van medemenslikheid wat tot die einde van apartheid bygedra het, nasionale besit word, skryf Christi van der Westhuizen.

Die plein in Sandton met die standbeeld van oudpres. Nelson Mandela was in 2013 ’n see van blomme soos Suid-Afrikaners aan hom hulde gebring het ná sy dood. Foto: Getty Images

Die verandering van plekname en besinning oor koloniale en nuwe monumente is onafwendbaar in ’n demokrasie. Dit is deel daarvan om indrukke en ervarings wat voorheen gemarginaliseer is, in ere te herstel.

Tog, met die land wat van die een massiewe korrupsie-skandaal na die ander slinger, is die president se tydsberekening verdag met sy aankondiging dat monumente wat “ons verdelende verlede verheerlik”, “herposisioneer” moet word.

Dit lyk soos ’n poging om die aandag af te lei, deur ’n party wat tot dusver relatief min inisiatief getoon het oor óf en hóé die verlede in fisieke ruimtes onthou moet word.

Die demokratiese staat doen relatief min om die verdoeselde dele van die verlede te heronthou en vas te lê.

Intussen het die einde van ’n era aangebreek.

Met die onlangse afsterwe van George Bizos, Andrew Mlangeni en Denis Goldberg kort voor hom, is byna almal van die generasie anti-apartheidsaktiviste en regslui wat by die Rivonia-verhoor betrokke was, oorlede.

’n Nuwe Britse dokumentêre prent, Life is Wonderful: Mandela’s Unsung Heroes, bevat onderhoude met die laastes, en was vandeesweek die onderwerp van ’n paneelbespreking waaraan ek deelgeneem het by Unisa se Thabo Mbeki Afrika-Skool vir Openbare en Internasionale Aangeleenthede.

Dit is opvallend dat die prent buitelands is. ’n Kenmerk van die ANC se Afrika-nasionalisme sedert die party aan die bewind gekom het, is dat die demokratiese staat relatief min doen om die verdoeselde dele van die verlede te heronthou en vas te lê.

Vryheidspark in Pretoria is een van die herinneringsplekke wat ná 1994 in Suid-Afrika gevestig is. Foto: Getty Images

Min is tot dusver gedoen om koloniale gedenkplekke te herverbeel, as Cyril Ramaphosa se gebruik van die woord “herposisionering” ernstig opgeneem word.

In fisieke ruimte is Vryheidspark een van enkele gedenk-voorbeelde, maar word deur die Voortrekkermonument oorskadu – met besoekersgetalle sowel as visuele impak. Terselfdertyd is die nasionale argiewe chronies onderbefonds, en is staatsargivering sedert die 90’s beroerd.

Die uitsondering is die geesdrif waarmee plekname verander word, dikwels in gebiede met verswakte administrasie soos Limpopo en KwaZulu-Natal. Die hoofstad is ook in die middel van ’n twis oor name.

Die eerste noemenswaardige standbeeld wat die apartheidstryd gedenk, is die een van Nelson Mandela wat met privaat geld in die inkopiesentrum Mandela Square in Johannesburg opgerig is.

Die uitstekende Apartheidsmuseum, eweneens in privaat besit, is as deel van ’n casino-kompleks gebou.

Leiers van ’n ander stoffasie

Strydrosse. Denis Goldberg en Andrew Mlangeni in 2014 met die 50ste herdenking van die Rivonia-verhoor. Foto: Getty Images

Historici en kuratore wat die geskiedenis feitelik en sonder ’n partypolitieke agenda probeer vasvang, is waarskynlik ’n bedreiging vir ’n ANC wat vervaard aan staatsmag probeer vashou.

Dit is ook makliker vir partyleiers aan die woord om ’n sekere faksie se weergawe op die geskiedenis af te druk na gelang van die opportunisme van die oomblik. Op dié manier is die Sharpeville-betoging en Steve Biko al as deel van die ANC-stryd opgeëis.

Soos ek ook al geskryf het, het die ANC Mlangeni se dood misbruik om Jacob Zuma in die oë van lede te herstel. Dít in weerwil van Mlangeni se standpunt teen Zuma in sy laaste jare.

In Mandela’s Unsung Heroes gebruik Mlangeni weer die geleentheid: “om te sien wat vandag in die land gebeur, laat ’n mens se hart bloei”, sê hy.

Dit blyk die Britse rolprentmakers het nie mooi geweet wat om daarvan te maak nie, want dit lyk asof hy in die redigering kortgeknip is.

Maar om die waardige ou man dié stelling te sien maak, sonder vertoon, herinner ’n mens dat dit ’n ander kaliber leierskap was.

Die rolprent wys die Rivonia-leiers se nierassigheid in aksie. Die politieke beginsel word so déél van hulle dat hulle hul lewens daarvoor sal opoffer.

Hul onverskrokke toewyding aan ’n mede-vermenslikende geregtigheid, waaroor hulle hul stemme dik gemaak het en bereid was om voor te sterf, is nou verlore.

Nierassigheid was een van die pilare van daardie wedersydse vermensliking waarin hulle geglo het. Hoewel nierassigheid ’n beginsel in die Grondwet en ook van die ANC is, het dit intussen skade gely.

Dit is deels weens ’n gebrek aan amptelike herinnering aan hoe die politiek van nierassigheid apartheid help verslaan het.

Die rolprent wys die Rivonia-leiers se nierassigheid in aksie. Die politieke beginsel word so déél van hulle dat hulle hul lewens daarvoor sal opoffer.

Goldberg, teen wie die meeste bewyse was, bied in die verhoor aan om die skuld vir alles te aanvaar, met die hoop dat leiers soos Mandela en Walter Sisulu vrygelaat sou word. Maar die ander weier.

Ahmed Kathrada kon waarskynlik op appèl losgekom het, maar neem ter wille van solidariteit ’n politieke besluit teen appèl.

As enigste Indiër wou hy nie sy kamerade in die steek laat nie, want in ’n gerassifiseerde samelewing soos Suid-Afrika toe was en ook nou is, word sulke besluite in rasseterme gelees.

’n Dieper begrip van ongeregtigheid

Christi van der Westhuizen

Bram Fischer was die senior advokaat vir die verdediging. As straf ná die verhoor, beweeg die apartheid-establishment teen hom. Die staat vervolg hom vir sy lidmaatskap van die verbanne Kommunisteparty en hy word as advokaat van die rol geskrap, wat wys hoe eties bankrot die regsberoep was.

Fischer het by die SAKP aangesluit omdat dit die enigste party was wat mense van alle velkleure toegelaat het. Hy het tot dié stap oorgegaan ná self-besinning oor sy eie geïnternaliseerde rassisme.

Terwyl hy op borgtog is, word hy toegelaat om na Brittanje te vertrek vir werk. Talle kamerade smeek dat hy eerder daar moet bly, maar hy voel geroepe as ’n Afrikaner om nie sy land of diegene wat sy waardes deel, in die steek te laat nie.

Met sy terugkeer gaan hy ondergronds en tree só volledig tot die stryd toe. Hy word gevang en sterf uiteindelik ná jare in aanhouding, nadat die apartheidstaat hom sielkundig en fisies gefolter het.

Dit dien as ’n les in nierassigheid waarby die DA iets kan leer. Fischer, Goldberg en Kathrada het rassisme teengewerk nie deur ras te ignoreer nie, anders as wat die DA in huidige beleidsdokumente voorstel.

Nee, hulle het rassisme weerstaan deur ras op te merk sodat hulle in weerwil daarvan bande van menslikheid oor rassegrense heen kon smee.

Heeltemal te min herinneringsplekke is sedert die 1990’s geskep om seker te maak dat die waardes van mede-menslikheid wat tot die einde van apartheid bygedra het, nasionale besit word.

As koloniale monumente wel “geherposisioneer” word, soos Ramaphosa belowe het, eerder as afgesmelt, kan dieper begrip van ongeregtigheid geskep word sodat alternatiewe kan vatplek kry.

* Van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie, Nelson Mandela Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  George Bizos  |  Andrew Mlangeni  |  Denis Goldberg  |  Nelson Mandela  |  Ahmed Kathrada  |  Voortrekkermonument  |  Nierassigheid  |  Monumente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.