Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar is die rose heen?

Dis nou oulik van die Vrystaat om die Curriebeker te gewen het. Dit het my teruggevoer na die dae toe hy as die “Wit Tor­nado” bekend was. Totdat ontnugterde Vrystaters hom ná die een nederlaag op die ander die “Wit Windjie” gedoop het en daar gespot is OVS staan vir Ons Verloor Saterdag.

Nou is die bordjies verhang.

Johan van Wyk

Ek hoop van harte dit bly so. By vleisbraaivure in Bloemfontein word mos graag uit daardie verloordae die storie vertel van die twee kollegas en rugbymal vriende Piet en Jan wat altyd saam gaan kyk het wanneer die “Wit Tornado” in dié stad speel. Maar toe die Vrystaat weer teen die WP speel, daag Piet nie op nie.

Toe Jan die Maandag by die werk wou weet wat fout was, was Piet se verskoning: “Jong, ek was moeg nadat ek Saterdag die gras gesny het en besluit toe om ná ete ’n bietjie saam met Mammie te gaan skuinslê. Ons maak toe so, maar net toe ek wil opstaan om stadion toe te gaan, draai Mammie na my kant toe. Dis toe dat ek by myself dink: ‘Ag wat, die Vrystaat sal tog in elk geval verloor’, en toe bly lê ons.”

My vreugde oor die Vrystaat se oorwinning beteken nie dat ek nou ’n geswore rugbyliefhebber geword het nie. Almal weet ek is dit nie, om die eenvoudige rede dat die lewe genadiglik uit veel meer as rugby bestaan. Ek kan aan duisend dinge dink wat in Suid-Afrika voorkeur bo rugby behoort te geniet.

Die rugybygod durf byvoorbeeld nie aanbid en verheerlik te word nie solank as wat miljoene mense werkloos is, in haglike toestande leef en in vullishouers na skrapseltjies oorskietkos soek. Ek sien dit daagliks.

Nie dat dit rugby se skuld is nie.

Wie anders moet ons daarvoor bedank as die onbevoegde, korrupte en verderflike ANC?

Maar dit versag nie die onheilige verheerliking van rugby in ’n land wat besig is om die onbenydenswaardige status van die muishond van die wêreld – waarmee Suid-Afrika tydens apartheid gebrandmerk is – opnuut deur sy wanbestuur en sotlike dwaashede te herwin nie.

Wat dan anders as rugby? Pleks van die Currriebeker omhoog hou, sou ek eerder die herstel wou sien van die Vrystaat en sy hoofstad wat sedert 1994 skokkend agteruit­gegaan het. Hoef ek regtig uit te wys hoe erg dit is? Ons weet almal hoe lyk die Vrystaatse dorpe – smerig, mistroostig en verwaarloos. Ons weet almal hoe lyk Bloemfontein, nou ’n skadu van wat dit eens was.

Die Rosestad. Wat het van die rose geword? Waar is die rose heen?

Word “Bloemfontein se rose” nog gesing? Nie waarvan ek weet nie. Kom Vader Krismis nog op Oukersaand in ’n roeibootjie aan wal by Maselspoort?

Waarmee is die Curriebeker gevul? Trane?

Meer oor:  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.