Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waar kom al die tyd vandaan om te skinder?

As ’n ou wat eintlik sou verkies dat almal in liefde en vrede met mekaar saamlewe, is dit bitter om te aanvaar dat daar eenvoudig mense in hierdie lewe is wat niks van jou hou nie. Soms het hulle ’n geldige rede, soos dat jy byvoorbeeld ongemanierd, ongeduldig of onbetroubaar is.

Maar dikwels is daar nie ’n logiese verduideliking vir die afsku wat sommige in jou het nie. Hulle hou eenvoudig nie van jou gesig of glimlag nie, en sukkel om in jou teenwoordigheid asem te haal. Daarmee kan ek nog op ’n manier vrede maak, want selfs die Bybel is redelik duidelik daaroor dat almal van ons vyande het.

God berei immers, volgens die Bybelse belofte, vir jou ’n tafel voor in die aangesig van jou teenstanders – en ek’t ook maar ’n langerige lysie van individue wat ek nie na ’n braai of my eie begrafnis sou wou nooi nie.

Nee, ek gaan nie name noem nie, maar as die skoen jou pas . . .

Ek sukkel egter om te verstaan waarom mense – kwansuis opgevoede mense met meer as genoeg dinge om hulle bedags mee besig te hou – uit hul pad gaan om skinderstories en dikwels flagrante leuens oor ander te vervaardig. Pleks hulle eerder die kosbare minute van die dag gebruik om, sê nou maar, ’n kuur vir MIV/vigs te ontwikkel of ’n strategie om die nie-so-agbare Jacob Zuma uit die kussings te help lig. Die kantoorskinderbekke sou ook byvoorbeeld die tyd kon gebruik om, uhmm, te doen waarvoor hulle betaal word.

Wáár die skindertannies en -ooms ieder geval die tyd kry om kleurvolle skinder-serpies te brei, gaan my verstand te bowe.

Die goue reël was nog altyd dat jy die skinderfabriek ten alle koste moet vermy.

Só het ek onlangs met ’n skok verneem dat ek alweer by die werk afgedank is en nou op ­chokers en survivors oorleef. (Grondboontjiebotter en bruin brood is in my boek in elk geval koningskos. Jy sal dus kreatiewer te werk moet gaan om my te beledig.)

Die storie dat ek met ’n losdingetjie in een van Johannesburg se kroeë betrap is, is gelukkig aansienlik sappiger, want op amper 40 begin my ouers al ongeduldig daaroor raak dat hulle nog nie ’n kleinkind van my gekry het nie.

Dat ek kwansuis in ’n losdingetjie se blote teenwoordigheid was, kan dus net goed wees vir my reputasie, want die werklikheid is dat daar niemand is vir wie ek snags nagsê nie.

Aansoeke word geduldig ingewag.

Die goue reël was nog altyd dat jy die skinderfabriek ten alle koste moet vermy. Sodra dit lyk of ’n gesprek in ’n geskinder kan ontaard, is dit beter om jou uit die voete te maak. As jy nie blitsig genoeg ’n rede kan uitdink om jouself beleefd te verskoon nie, is dit ook oukei om te vlug asof jou lewe én reputasie daarvan afhang.

Dit is in elk geval so dat enigiemand wat by jou skinder, later ook van jóú sal skinder.

Dit is ’n les wat ek gelukkig vroeg in my lewe reeds geleer het.

Intussen moet ek seker self leer om mense stil te maak wat stories oor my wil kom aandra.

Meer oor:  Ivor Price  |  Menings Rubrieke  |  Skinner  |  Skinder  |  God  |  Skindertannies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.